Vrees word getroef deur jou visie op God met ander te deel
Ons het vanoggend in die erediens uit 1 Samuel 17-18 geleer dat Dawid ’n man van God was, wat gelewe het in die groot wêreld van God en dat hy daarom die klein wêreld van bere en leeus en Goliat kon hanteer.
Die boodskap vir ons is dat ons ook moet leer om God raak te sien, soos hy, midde in ons vrese oor allerlei dinge in die gemeente en die wêreld. Ek dink daar is niks wat ‘n groter impak op ons ervarings kan hê as juis dit nie. Of dit nou is in ons nadenke oor die gemeente, oor ons finansies, oor ons bediening, oor die toekoms, oor ons ervaring van die kerk in die breë en oor die toekoms van ons land en wêreld – ons visie op God gaan ons moed om te lewe, bepaal.
Maar hoe doen ons dit?
1. Vrees word getroef deur naby God te lewe.
“Moed is net vrees wat begin bid het.” Anne Lamont
God moet so werklik vir jou raak soos jou skaduwee.
Jou ervarings in die gemeente en die gemeenskap moet met God deurgebid word. Jou daaglikse lewe moet bepaal word deur jou daaglikse ontmoetings met God en met ander wat saam met jou die Here kan dien.
Vrees word getroef deur naby God te lewe!
2. Vrees word getroef deur jou visie op God met ander te deel.
“Hou jou vrese vir jouself, maar deel jou moed met ander.” Robert Louis Stevenson
Dit is miskien die mees transformatiewe ding wat ons kan doen in ons gemeente en in ons gemeenskap – om mekaar nie met ons vrese op te saal nie, maar met ons visie op God, dít wat ons moed gee!
Vir al die pa’s op Vadersdag – dit kan ‘n ongelooflike fokus vir jou wees: deel jou visie op God met jou kinders. Laat dít die ding wees wat hulle van jou sal onthou, wie God vir jou was – want dit is ‘n legacy wat ruggraat gee in die moeilikste van omstandighede.
Daarom konfronteer hierdie bekende Bybelstorie ons met hierdie vrae:
- Gaan jy gevorm word deur jou vrese vir die Goliats van die lewe óf deur God?
- Gaan jy op jou knieë leef, naby aan God, gefokus op God?
- Gaan jy jou visie op God deel, en so moed eerder as vrees versprei in hierdie wêreld?
Mag wie jy en ek is, bepaal word deur Wie ons in hierdie wêreld raaksien – God – want dis Sy plek dié … én omdat ons Hom sien, gaan ons op ons knieë voor Hom, en gee dit vir ons krag om daardie volgende tree in die rigting van Goliat te gee …
Magda Kopp
Ek antwoord graag op hoe ons God met ander moet deel oor grense heen. Die kerk sal net slaag in sy roeping as hy gehoorsaam is aan die opdrag van Jesus aan sy dissipels “Gaan heen maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek (Jesus) julle geleer het. Hier het baie kerke gefaal in die dat elkeen sy eie deuntjie sing “jy in jou klein hoekie en ek in myn”. As die wedergeboorte en bekering nie gepreek word nie en as daar nie bekerings in n gemeente plaasvind nie is daardie kerk dood. Die woord van die Here is so duidelik in hierdie verband maar sonder wedergeboorte kan niemand die koninkryk binnegaan nie. Kom ons bid dat Jesus mense sal aanraak deur sy Heilige Gees en dat leraars, pastore God se Gees so sal ervaar dat hulle nie anders sal kan as om mense tot bekering te roep nie. Die samelewing het regtig n Johannes die Doper nodig om mense te roep tot bekering sodat God elke bekeerling n nuwe mens sal maak. Groete in Jesus. Magda Kopp
magdakopp

chrisvanwyk
Hallo Magda
Jy is natuurlik reg dat bekering en wedergeboorte die begin van God se werk in die lewe van 'n gemeente en gelowige is. Ek vind net dat selfs bekeerde en wedergebore mense steeds sukkel in hulle kommunikasie met ander gelowiges, en soms eerder hulle vrese deel as hulle hoop in Christus. Daarom dié boodskap, dat ons aan die een kant naby aan God moet lewe, en aan die ander kant die moed wat Hy ons laat skep in hierdie wêreld, met ander moet deel.
magdakopp
Hello Chris
Dankie jy is heeltemal reg. So lekker om met jou te gesels ek is nie meer lid van die NG Kerk nie maar bly lief vir hulle want as kind is dit die NG Kerk wat my van God geleer het. Jy weet n mens word ouer en wyser en wanneer hierdie wonderlike ding in jou lewe gebeur dan soek jy n plekkie waar jy dit kan voluit lewe. Ja daar is mense wat wedergebore is en steeds sukkel met kommunikasie want nie elke persoon is dieselfde nie en sommige mense is sku om te getuig. Maar ek glo Jesus gebruik hulle op ander maniere. Die belangrikste vir my en jou bly nog altyd om aan die wat nie in Jesus as die Seun van God glo nie die blye boodskap oor te dra. Dit kan ons net doen deur Sy Heilge Gees en genade. Ek is hartseer om te sien waarheen die sogenaamde Nuwe Hervormers op pad is en sommige teoloe en ek bid dat die Here Jesus hulle oe sal oopmaak. Ek glo dat daar nog opregte kinders van die Here in die NG Kerk is wat die geloof in Jesus as die
enigste verlosser sal behou. Daar is vir ons geen ander waarheid as Jesus nie. Seeninge vir jou en die Here seen julle gemeente.