Fokus op Geestelike Gewoontes – 1ste kwartaal 09
Hierdie kwartaal gaan ons saam op ‘n reis om meer ruimte te maak vir God in ons lewe. Deur te fokus op GEESTELIKE GEWOONTES gaan ons die Heilige Gees kans gee om ons van binnekant af te verander. Hy is die een wat ons daarmee die DRUPPELS genade gee VIR DIE DORS wat ons na God het – soos ons bemarkingspamflet sê.
Vir elke erediens word daar ‘n Joernaal ontwikkel wat fokus op die geestelike gewoontes wat jou dors na God kan les. Jy kan dit gebruik vir persoonlike nadenke, vir kleingroepbyeenkomste, vir gesprek met geestelike vriende en vir huisgodsdiens. Alles sal ook weekliks op die webtuiste verskyn sodat jy kan bybly waar jy ook al op die aardbol rondreis (www.ngkerksomerstrand.co.za).
Op die blog kan jy ook deelneem aan gesprekke oor die weeklikse temas.
Waarom fokus ons op Geestelike Gewoontes?
Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat ‘n mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê.
Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie. Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.
Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk. Een van die tydbeproefde maniere om ruimte vir God te maak in ‘n mens se lewe, is om spesifieke geestelike gewoontes (of dissiplines) aan elkeen van hierdie begeertes na meer te verbind. Dit gee vir jou ‘n baie innoverende maar ook eg-persoonlike hulpmiddel vir geestelike groei. En só word ‘n mens ingetrek in God se werk wat ons lewens transformeer.
Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week. Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.
Ons nooi jou uit om jou ervarings en vrae deur die loop van dié kwartaal met ons te deel.