Skip to main content

Week 2: Leesplan 1 Tessalonisense

Ons lees in week 2 die eerste brief aan die Tessalonisense. Ek het besluit om dit as volg te lees, en elke dag ‘n post oor dié gedeelte te skryf:

  • Donderdag: 1 Tessalonisense 1
  • Vrydag: 1 Tessalonisense 2:1-16
  • Maandag:  1 Tessalonisense 2:17-3:13
  • Dinsdag: 1 Tessalonisense 4
  • Woensdag: 1 Tessalonisense 5

Julle kan my bydraes dus van Donderdag af hier lees.

1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer

Die brief kom van Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus.  Soos die spreekwoord lui in Afrika, jy kan nie met een vinger ’n vlooi knyp of ’n drom speel nie – die bediening is ’n gesamentlike onderneming.

Inderdaad is dit ook waar van die gemeente.  Paulus beskryf die gemeente as een: “wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort”.  In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik “wat IN God …is”.  En in hulle verbintenis aan God is hulle ook verbind aan alle ander gemeentes wat aan God behoort.

Dit tref my dat in hierdie eerste brief van Paulus hy reeds die tema van geloof, liefde en hoop gebruik as beskrywing van ‘n Christelike lewe wat die moeite werd is (vgl 1 Tes 5:8; Rom 5:2-5; 1 Kor 13:13; Gal 5:5-6; Kol 1:4-5) Interessant is dat die orde van die woorde in die onderskeie briewe verskil, na gelang van die omstandighede van die mense waarvoor geskryf word.  Hier is die klem van Paulus op die hoop, waaroor hy in verband met die wederkoms verder sal uitbrei.  Die drie woorde word ook deur ander skrywers in die NT gebruik (Hebr 6:10-12; 10:22-24; 1 Pet 1:21-22).

Dit is een van die mees fundamentele beskrywings van die Christelike lewe.  En wat spesifiek interessant is, is dat dit so aksievol en konkreet beskryf word: 1) die werk van julle geloof, 2) die inspanning van julle liefde en 3) die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

Let verder op hoe vers 5-6 met die werk van hulle geloof te make het, vers 7-8 met die inspanning van hulle liefde, en vers 9-10 met die volharding van hulle hoop.  Voorwaar nie net ’n kunstige manier om te skryf nie, maar ’n uitstaande samevatting van wat die Christelike lewe behels.

En deur hulle geloof, hoop en liefde word die Tessalonisense ’n voorbeeld vir al die gelowiges van Griekeland (2 provinsies Masedonië en Agaje).  Daarvoor dank Paulus God, omdat dit ’n kragtige getuienis is van die werk van die Heilige Gees.

Dit alles word verbind aan die wyse waarop die evangelie tot hulle gekom het: 1) met woorde, 2) met krag en die Heilige Gees, en 3) met volle oortuiging.  Dit legitimeer dus ook Paulus-hulle se eie bediening.

En die gelowiges se reaksie bevestig dat God hulle liefhet en uitverkies het vir dié lewe.  Let op hoe die uitverkiesing aan God se liefde verbind word, en nie aan sy oordeel nie.  Die uitverkiesing word ook sigbaar in die gelowiges se ontvanklikheid vir die evangelie.  Die uitverkiesing is iets waaroor jy kan juig as jy dit sien, nie iets waaroor jy kan spekuleer as jy dit nog nie sien nie.

Let ook op dat daar ’n duidelike verandering in hulle lewens plaasgevind het.  Hulle het hul afgode gelos om die lewende God te aanbid.  Geen wonder dit het tot vervolging aanleiding gegee nie, want hulle bekering plaas ander mense voor ’n keuse.

Dit Trinitariese beskrywing van God regdeur die gedeelte val ook op.  Soos Paulus-hulle saamwerk, doen God dit ook (of is dit juis andersom!).

Die gloeiende beskrywing van hierdie gelowiges se ywer motiveer my in my eie volharding in geloof.  As hulle so drasties en dramaties tot bekering kan kom en vir die Here kan begin lewe – na net 3 weke se bediening! – dan spoor dit my aan om meer te doen met wat ek oor die jare van die Here en ander gelowiges ontvang het.

1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei

Paulus herinner die gemeente daaraan dat hulle bediening in Tessalonika vrug gedra het, anders as die wandelende filosowe en heiliges van sy tyd, wat meer aangedryf is deur gierigheid as geloof.  Daarom het hy die ambag, tentmakery, wat hy in sy opleiding aangeleer het daar beoefen, soos elke rabbi van daardie tyd gedoen het.

Dit tref my dat die inspirasie vir sy onvermoeide ywer, ten spyte van belediging (psigies deur as Romeinse burger onregverdiglik in die tronk gegooi te word) en mishandeling (fisies deur geseling), soos pas tevore in Filippi (Hand 16), van God af kom wat hulle die moed gee om die evangelie te verkondig ten spyte van felle teenkanting (vers 2).

Die twee metafore wat hy gebruik om sy bediening aan hulle te beskryf, val op:

  • Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel (vers 7).  Die woord liefdevol beskryf ’n ma wat haar kind borsvoed.  Dit is ’n baie intieme en sorgsame beeld.  Hierdie beeld druk dus op uitsonderlike wyse die liefde en aanvaarding wat hy vir hulle gehad het uit.  Dit bevestig die verhouding met hulle.
  • Soos ‘n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe (vers 11).  Hierdie beeld druk sy droom vir hulle uit, dat hulle nou al tot God se eer sal lewe, en eendag in sy heerlikheid sal deel.  Dit moedig hulle aan om nie tevrede te wees, maar volstoom te werk aan hulle verhouding met God.

Hy bemoedig die gemeente ook deur hulle te herinner aan hulle aanvanklike ontvangs en aanneming van Paulus-hulle se prediking as die Woord van God.  Die woordjie aangeneem word ook gebruik wanneer jy iemand gasvry ontvang.  Paulus sê daarmee dat hulle God se Woord gasvry ontvang het, wat gelei het daartoe dat dit ’n kragtige uitwerking in hulle lewe gehad het. Die radikale verandering in hulle lewenswyse bewys dat daar iets spesiaal met hulle gebeur het.

Dat daar steeds geweldige teenstand uit die Joodse gemeenskap was (Hand 17) en is, soos dit inderdaad ook in Judea was en is, bewys eintlik dat dit God se Woord was.  Teenstand moet hulle dus nie ontmoedig in hulle Christelike stryd nie, maar juis bemoedig omdat dit ’n teken van God se werk in hulle lewe is.

Paulus spreek my op twee maniere met hierdie gedeelte aan.

Eerstens kan ’n bediening net vrug dra as ’n mens regtig lief raak vir die mense wat jy bedien, in ’n familie, ’n kleingroep en ’n gemeente.  Paulus sou selfs sy lewe wou gee vir die Tessalonisense.  Daarom het hy self vir sy eie brood en botter in sy verblyf daar gewerk, en nie die voorreg van ’n apostel gebruik om deur die gemeente versorg te word nie.  Hoekom?  Omdat hy lief is vir hulle, en op geen manier iemand iets negatiefs oor sy bediening wil laat sê nie.  Hy het natuurlik ook in die oog dat daar van hulle is wat nie werk nie, en wou ook vir hulle ’n voorbeeld stel.

Tweedens, ’n mens kan nie net sag wees en koester nie.  Daar is ook aanmoediging en bemoediging en uitdagings nodig om mense te inspireer tot alles wat hulle kan wees, sodat God in hulle lewens gesien en geëer kan word.  En Paulus doen al twee: hy koester en hy karring, hy bederf en hy begelei.

1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo

Ek wonder hoe onderskei Paulus die werk van God van die werk van die Satan, want soos hy hier skryf oor die Satan wat hulle verhinder het om weer na Tessalonika te reis, skryf hy ander plekke oor die Heilige Gees (en die Gees van Jesus) wat hom verhinder.  Trouens die een geleentheid was net voor sy eerste besoek aan Tessalonika, toe hy in Frigië verhinder is om na die provinsie Asië en later na Bitinië toe te gaan (Hand 16:6-7).  Dit is toe, in Troas, wat hy die visioen van die Masedoniese man gesien het, wat gelei het tot hulle bediening in Filippi en later in Tessalonika.

Een manier om dit te verklaar is om in ag te neem dat Jason waarborge moes gee dat Paulus-hulle nie verder onrus in die stad sou veroorsaak nie (Hand 17:9).  Die kragte wat die stadsbestuur dus beweeg om nie die teenstand van die Jode teen die evangelie te stuit nie, word dus as van sataniese oorsprong interpreteer. Die ander kere wat hulle verhinder is, was juis om hulle op die Here se pad te kry, en nie op hulle eie sending nie.

Sal graag wil hoor hoe julle hieroor dink!

In elk geval is dit interessant om te let daarop dat die vrees vir die werk van die verleier een van die motiverings is om vroeër vir Timoteus na hulle te stuur om hulle in die geloof te verstrek.  Hulle was bang dat die Satan hulle sou verlei om met al die vervolginge tou op te gooi in hulle geloofspad.  En dan sou dit beteken dat “al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het” (3:5).  Dat Paulus deeglik rekening gehou het met die werk van die Satan is duidelik, soos in die tweede brief ook gesien sal word.

Die verligting van Paulus oor hulle geloof en liefde en standvastigheid ten spyte van vervolging roer my.  Hy is regtig intens verbind aan die sukses van die gelowiges in hulle lewe voor God.  Hy skep moed in sy eie nood en swaarkry, omdat hulle nog glo!

“Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik”(3:8).

Dit lei tot groot dankbaarheid en ‘n hernude gebed om hulle persoonlik weer te sien: “Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak!” (3:11). Let op hoe hy ‘n aktiewe rol aan Jesus toeken in die praktyk van sy eie bediening, en nie net aan die Vader of aan die Heilige Gees nie.

Sy gebed vir hulle sluit in dat hulle in hulle liefde sal groei, en innerlik sterk gemaak sal word (vgl Efesiërs 3:16 waar dit aan die werk van die Heilige Gees verbind word) om onberispelik en heilig by die wederkoms bevind te word, ’n saak waaroor hy later in hoofstuk 5 verder sal uitbrei.

Waar is die Bybelse plekke vandag?

Sommige van julle het my gevra na die plekname in die Bybel, en spesifiek hoe ‘n mens dit met plekname van vandag kan verbind.  OpenBible het ’n diens wat jou kan help.  Enige naam wat in ’n Bybelboek genoem word, is beskikbaar by: http://www.openbible.info/geo/.  Kry daar die name van die Bybelse plekke en tik dit so akkuraat as moontlik by Google Earth in. Dan kan jy uit satellietfoto’s sien hoe die presiese plek vandag lyk. 

Jy moet natuurlik ook Google Earth op jou rekenaar installeer!

(Met erkenning aan Bybel-Media vir dié wenk)

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda