Skip to main content

Handelinge in die Bybelse storie

Handelinge is deel twee van die verhaal van Lukas (op ‘n aparte boekrol).  Dit vertel die storie van die redding deur Jesus soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome. [1]

Lukas beklemtoon hier:

  • Die goeie nuus van God se redding deur Jesus is vir beide Jode en heidene.
  • Die Ou Testamentiese beloftes word daardeur vervul.
  • Die Heilige Gees begelei die kerk in die verspreiding van die evangelie.
  • Die kerk val in by God se reddingsplan wat die heidene insluit.
  • Hierdie redding is God se saak en niks kan dit keer nie.
  • Die goeie nuus word deur sommige met vreugde aanvaar en deur ander met woede verwerp.

Lukas laat die twee dele van sy verhaal – Lukas en Handelinge – baie vernuftig met mekaar korrespondeer:

  • Handelinge 1-12 vertel van die verspreiding van die evangelie en korrespondeer met Lukas 1-9 – die geografie is net omgekeer: dit begin in die stad Jerusalem en versprei na die platteland in Judea.
  • Handelinge 13-20 is ook ‘n reisverhaal en korrespondeer met Lukas 10-19 – Paulus neem die evangelie na Asië en Europa (op pad na Rome – soos Jesus op pad na Jerusalem).
  • Handelinge 21-28 vertel ook van ‘n verhoor en korrespondeer met Lukas 20-24 – Paulus verskyn voor dieselfde drie tribunale as Jesus (die Joodse Sanhedrin [Luk 22/Hand 22], die Romeinse goewerneur [Luk 23/Hand 25], en een van die Herodes konings [Luk 23/Hand 25 {Julius Markus Agrippa}]) – die resultaat is dat die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei.

Die verhaal fokus op die beweging van die evangelie van Jerusalem na Rome.  Die goeie nuus van God se redding word aan alle mense aangebied in vervulling van die belofte aan Abraham (Hand 3:25 – “jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ‘n seën wees” – Gen 12:2-3) en die visie van die profete (Hand 15:17 – “al die heiden nasies”  – Amos 9:11-12).

Dit is verdeel in 6 hoofstukke deur Lukas se opsommende opmerkings in 6:7, 9:31, 12:24, 16:5 en 19:20.  Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, eties, en/of polities:

  • 1:1-6:7 – die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem
  • 6:8-9:31 – die goeie nuus oor Jesus versprei geografies na Jode in Judea, Galilea en Samaria sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar) met die Griekssprekende evangelis Filippus wat ‘n groot rol speel.
  • 9:32-12:24 – die eerste etniese uitbreiding na heidene (Kornelius) vind plaas in Sesarea (Noord-Palestina) en Paulus kom tot bekering op die pad na Damaskus.
  • 12:25-16:5 – die goeie nuus versprei na Asië met Paulus en Barnabas se eerste sendingreis en bring etiese vraagstukke na vore wat deur die Jerusalem “sinode” (hfst. 15) besleg word.
  • 16:6-19:20 – die goeie nuus versprei na Europa deur twee verdere sendingreise van Paulus wat tot gevolg het dat die kerk al hoe meer uit Christene uit heidense volkere bestaan.
    • Let op hoe Antiochië die uitstuur sentrum bly en die Heilige Gees die sending begelei.
    • Let ook op hoe Paulus steeds sy aanknopingspunt soek by die Jode in hulle sinagoges.
    • Hoewel baie mense tot bekering kom, is daar ’n hele paar gevalle van konflik met die stadsbesture (16:16-40; 17:5-9; 18:12-17) wat gewoonlik deur die Jode aangehits is (17:5,13; 18:12).
    • Die stadsbesture is meesal traag om tussenbeide te tree, ’n houding wat algaande sou verander na die meer ongenaakbare optredes in die eeue wat sou kom.
    • Let ook op na die eerste voorbeeld van verkondiging in ’n heeltemal heidense omgewing, Paulus se toespraak op die Areopagus in Atene (17:16-34).
    • 19:21-28:31 – op die derde sendingreis besluit Paulus om na Jerusalem te gaan en het die vervolging daar tot gevolg dat die evangelie ook polities begin versprei om uiteindelik Rome, die hoofstad van die Romeinse ryk bereik.

Ons fokus in hierdie Bybelskool op wat Lukas ons in Handelinge 16-19 vertel as agtergrond tot die skryf van die briewe aan Tessalonika en Korinte.


[1] Vgl “The Gospels and Acts in the Biblical Story” in How to Read the Bible book by book deur Gordon Fee en Douglas Stuart (2002, Zondervan: Grand Rapids, Michigan, p 267 e.v.

 

Die briewe aan die Tessalonisense

Inleiding

Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.

Hierdie eerste brief kom ongeveer 16 jaar nadat hy die dramatiese bekering op die pad na Damaskus beleef het.  Terloops, die briewe van Paulus in die NT is van lank na kort gerangskik – Romeine tot Filemon –  en nie in datum volgorde nie.

Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ’n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9).  Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi.  Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad.  Die stad was daarby as hawestad ’n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd.  Gevolglik kon die gemeente ’n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika

Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika.  Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ’n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ’n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is.  En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

’n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ’n hele aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” Vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea,  ’n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het.  Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ’n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors.  Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus.  Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees.  Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis.  Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ’n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm.  Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”).  En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig.  Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ’n mens uit Rom 16:21 aflei.  Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe

Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11).  Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n C, omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delfi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18).  Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ’n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus hierdie eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3).  Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ’n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10).  Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ’n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf ”Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3).  Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en aldrie ’n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim.  Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ’n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ’n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2).  Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe

Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ’n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging.  Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra.  So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

Indeling van die briewe

Die egtheid van die eerste brief is nooit regtig betwyfel nie, veral omdat dit so goed inpas met die omstandighede wat Lukas vir ons in Handelinge 16-19 skets.  Hoewel daar meer onsekerheid oor die tweede brief se outeurskap bestaan, onder andere oor die klemverskille in eskatologie, is die egtheid van die brief nie regtig betwisbaar nie.

Die eerste brief val taamlik duidelik in twee hoofdele uiteen. Hoofstuk 1-3 bevat ’n historiese en persoonlike deel – Baxter noem dit: Terugblik — hoe hulle gered is. Hoofstuk 4-5 is vermanend en lerend – Baxter noem dit: Vooruitblik — hoe hulle behoort te leef.

Die tweede brief handel hoofsaaklik oor die eskatologie.

Kies ‘n manier van Bybellees

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief van aard.

Die idee met alle metodes is om beide die breë lyne van boek of hoofstuk van die Bybel asook die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Elke week sal ons dus die groeptyd gebruik om daaroor te gesels.  Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel.  Hier is ’n aantal metodes waaruit jy kan kies.

Drie simbole

Werk met drie simbole waaroor jy dan kan reflekteer:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

– IETS VAN GROOT BETEKENIS

Eenvoudige luistersiklus

  • RUS
    • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
    • Gee dit in gebed aan God.
  • HOOR
    • Lees die Skrifgedeelte hardop.
    • Dink na oor wat jou daarin tref.
  • LEEF
    • Wat lê die Here nou op jou hart?
    • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Lees soos ‘n Kunstenaar[1]

  • Wat tref my?
  • Watter nuwe gedagtes kry ek?
  • Wat moet ek daarmee doen?

Lees soos ‘n Speurder

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

Lees soos ‘n Skatkisjagter

  • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Lees soos ‘n Vakleerling

  • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met God in die lewe onderneem.


[1] Hierdie en die volgende 3 metodes kom van Adele Calhoun af (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief.

Week 2: Leesplan 1 Tessalonisense

Ons lees in week 2 die eerste brief aan die Tessalonisense. Ek het besluit om dit as volg te lees, en elke dag ‘n post oor dié gedeelte te skryf:

  • Donderdag: 1 Tessalonisense 1
  • Vrydag: 1 Tessalonisense 2:1-16
  • Maandag:  1 Tessalonisense 2:17-3:13
  • Dinsdag: 1 Tessalonisense 4
  • Woensdag: 1 Tessalonisense 5

Julle kan my bydraes dus van Donderdag af hier lees.

1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer

Die brief kom van Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus.  Soos die spreekwoord lui in Afrika, jy kan nie met een vinger ’n vlooi knyp of ’n drom speel nie – die bediening is ’n gesamentlike onderneming.

Inderdaad is dit ook waar van die gemeente.  Paulus beskryf die gemeente as een: “wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort”.  In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik “wat IN God …is”.  En in hulle verbintenis aan God is hulle ook verbind aan alle ander gemeentes wat aan God behoort.

Dit tref my dat in hierdie eerste brief van Paulus hy reeds die tema van geloof, liefde en hoop gebruik as beskrywing van ‘n Christelike lewe wat die moeite werd is (vgl 1 Tes 5:8; Rom 5:2-5; 1 Kor 13:13; Gal 5:5-6; Kol 1:4-5) Interessant is dat die orde van die woorde in die onderskeie briewe verskil, na gelang van die omstandighede van die mense waarvoor geskryf word.  Hier is die klem van Paulus op die hoop, waaroor hy in verband met die wederkoms verder sal uitbrei.  Die drie woorde word ook deur ander skrywers in die NT gebruik (Hebr 6:10-12; 10:22-24; 1 Pet 1:21-22).

Dit is een van die mees fundamentele beskrywings van die Christelike lewe.  En wat spesifiek interessant is, is dat dit so aksievol en konkreet beskryf word: 1) die werk van julle geloof, 2) die inspanning van julle liefde en 3) die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

Let verder op hoe vers 5-6 met die werk van hulle geloof te make het, vers 7-8 met die inspanning van hulle liefde, en vers 9-10 met die volharding van hulle hoop.  Voorwaar nie net ’n kunstige manier om te skryf nie, maar ’n uitstaande samevatting van wat die Christelike lewe behels.

En deur hulle geloof, hoop en liefde word die Tessalonisense ’n voorbeeld vir al die gelowiges van Griekeland (2 provinsies Masedonië en Agaje).  Daarvoor dank Paulus God, omdat dit ’n kragtige getuienis is van die werk van die Heilige Gees.

Dit alles word verbind aan die wyse waarop die evangelie tot hulle gekom het: 1) met woorde, 2) met krag en die Heilige Gees, en 3) met volle oortuiging.  Dit legitimeer dus ook Paulus-hulle se eie bediening.

En die gelowiges se reaksie bevestig dat God hulle liefhet en uitverkies het vir dié lewe.  Let op hoe die uitverkiesing aan God se liefde verbind word, en nie aan sy oordeel nie.  Die uitverkiesing word ook sigbaar in die gelowiges se ontvanklikheid vir die evangelie.  Die uitverkiesing is iets waaroor jy kan juig as jy dit sien, nie iets waaroor jy kan spekuleer as jy dit nog nie sien nie.

Let ook op dat daar ’n duidelike verandering in hulle lewens plaasgevind het.  Hulle het hul afgode gelos om die lewende God te aanbid.  Geen wonder dit het tot vervolging aanleiding gegee nie, want hulle bekering plaas ander mense voor ’n keuse.

Dit Trinitariese beskrywing van God regdeur die gedeelte val ook op.  Soos Paulus-hulle saamwerk, doen God dit ook (of is dit juis andersom!).

Die gloeiende beskrywing van hierdie gelowiges se ywer motiveer my in my eie volharding in geloof.  As hulle so drasties en dramaties tot bekering kan kom en vir die Here kan begin lewe – na net 3 weke se bediening! – dan spoor dit my aan om meer te doen met wat ek oor die jare van die Here en ander gelowiges ontvang het.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda