Psalm 9 en 10 was waarskynlik aanvanklik een Psalm omdat elke versreël van die gekombineerde twee Psalms min of meer met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Psalm 10 het ook nie ’n opskrif nie, wat ongewoon in die eerste Psalmboek is. ’n Mens noem só ’n Psalm akrosties, soos dit bv in Psalm 119 die geval is. Elke Psalm dek ongeveer 10 letters van die Hebreeuse alfabet, waarvan elke eenheid vier versreëls het, hoewel daar uitsonderings is.
Die opskrif is moeilik vertaalbaar, maar dit is waarskynlik ‘n verwysing na ‘n wysie of musiekstyl. Die Hebreeuse frase “met die dood van die seun” (dws volgens ‘n bekende wysie van daardie tyd – waarskynlik word Absalom bedoel) kan ook verstaan word as “met jong vroue-stemme ” (soprane) soos dit die geval is in Psalm 46:1 en 1Kron 15:20 (NAV vertaal daar met “hoë toon”).
Psalm 11 is eintlik streng gesproke nie ’n gebed nie, maar ’n geloofsbelydenis, waarin die Psalmis sy vertroue op God bevestig. En hy doen hierdie belydenis as ’n reaksie op die bedreiging van sy vyande wat nie net sy geloof in God bevraagteken nie, maar strukture (van die samelewing/geloofsgemeenskap) afbreek en Dawid se dood (of val) beplan. Craigie gee hierdie Psalm daarom die titel Confidence in Crisis.
Dawid het waarskynlik by die tempel kom skuil vir sy vyande – waar hy op beskerming sou kon aanspraak maak – hoewel die vyande nou ook sulke strukture in gevaar stel. Daar is dus die gevaar dat die vyande hom in die tempel sal kom kry, maar boonop ook die versoeking vir hom om te vlug na die berge, soos hy deur die goddeloses aangeraai word. Die versoeking is: om nie vas te staan in die Here nie, maar te vlug na waar dit menslik gesproke veiliger sou wees. Wanneer ‘n mens immers vasstaan, gee jy jou teenstanders ook meer van ‘n teiken om aan te val. Dit neem dus ‘n besondere moedige optrede van Dawid om nie terug te deins en te vlug nie.
Die Psalmis worstel met die gebrek aan betroubaarheid in die gemeenskap wat van die wêreld ’n onveilige plek maak. En dit is die armes wat die meeste daaronder ly. Daarom maak hy staat op die Here se beskerming en hulp midde in die goddeloosheid en onreg wat hoogty vier.
Let op hoe die Psalm menslike vleitaal (12:2-5) met Goddelike betroubare woorde (12:6-9) kontrasteer.
Dit is ’n aangrypende eenvoudige Psalm, die noodkreet uit die hart van iemand wat swaarkry en God om hulp smeek. Uit vers 4 wil dit lyk asof hy ook ’n gebrek aan lewenskrag ervaar benewens die vyand (Saul?) wat sy lewe soek (vers 3,5). Sommige dink die vyand (enkelvoud) is die bedreiging van die dood.
Let op hoe hy die erns van sy noodkreet beklemtoon deur vier keer te herhaal: “Hoe lank nog, Here?” Hy wonder hoe lank hy sy kommer (letterlik: “hartseer in my hart”!) op sy eie moet dra en sy eie planne moet maak (“wrestle with my thoughts” – NIV). En sy behoefte is dat die Here nie weg sal kyk nie, maar na hom sal kyk en luister. Vers 4 se begin kan beter vertaal word as: “Kyk tog en luister na my, Here, my God”.
Psalm 14 en 53 het basies dieselfde inhoud, met net ’n paar woorde en die opskrifte wat verskil. Die hoofverskil lê in die gebruik van God se naam. Psalm 14 gebruik 4 keer God se persoonsnaam, Jahwe, en Psalm 53 net die algemene naam vir God, Êlôhîm. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan verskillende redakteurs wat afsonderlik gewerk het met ‘n gedig wat moontlik foute bevat het, en wat hulle toe elkeen op sy eie manier aangepas het. Albei Psalms was in gebruik in die liturgie en is dus ingesluit in die uiteindelike Psalmboek.
Die kontras in die Psalm is nie tussen ryk en arm nie, maar tussen goddeloses en regverdiges, hoewel dit wel wil lyk asof die regverdiges hier ook arm is (hulpeloos) – vers 5. Die kontras is tussen dwases en wyses, tussen onverstandiges en verstandiges, mense wat niks van God begryp nie, en die wat iets van God begryp. En let op dat hierdie kontras nie tussen intellektuele dwases en wyses is nie, maar tussen geestelike dwases en wyses. Intellek en verstandelike vermoëns is nie in die Psalmis se visier nie, wel hulle verhouding met God en begrip vir wat Hy doen, al dan nie.
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
perfectly57edc75df4onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
sparklybc467b2e69onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.
Onlangse kommentaar