Psalm 137 – Jerusalem bly my grootste vreugde
Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap. Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou.
Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede. Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap.
Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid. Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het.




Onlangse kommentaar