Opsomming van die boodskap van Openbaring
Ek het tyd geneem om ’n prentjie van die hele boodskap van Openbaring op ’n kernagtige manier op te som. Hier is my poging – met al sy gebreke – om as ’n raamwerk te dien, waarbinne ’n mens jou eie verstaan van die boek kan vorm.
Boodskap aan die kerk – Openbaring 1-3
- Skep moed uit die visie op Jesus Christus en sy agenda vir die wêreld – hfst 1
- Bly te alle tye aan Hom getrou – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira – hfst 2
- Fokus op die gemeenskap met die Here Jesus – Sardis, Filadelphia, Laodisea – hfst 3
Verlossing van die heelal – Openbaring 4-11
- Word geïnspireer deur die Hemelse erediens wat alles begin – hfst 4
- Word geënergeer deur die Lam wat die Boekrol van God se agenda vir die wêreld opneem – hfst 5
- Sien raak hoe die eerste ses seëls van die boek die selfvernietigende oordeel deur oorloë, konflik, hongersnood, vervolging en kosmiese ontwrigting in die heelal beskryf – hfst 6
- Word bemoedig deur die feit dat God die kerk op aarde en in die hemel beskerm hiervan – hfst 7
- Sien raak dat God gebede hoor en dit gebruik in sy verlossende oordeel van die sewende seël met sy sewe trompette – hfst 8
- Sien raak hoe die eerste ses trompette die natuur, die leefwêreld en die ongelowige mensdom tref – hfst 8-9
- Raak betrokke by God se verlossingsplan wat hy in dié tyd uitwerk deur die kerk (boekrolletjie) – hfst 10
- Word bemoedig deur die feit dat God steeds die kerk beskerm en sy heerskappy vestig deur ons getuienis (twee getuies) – hfst 11
- Skep moed dat die sewende trompet uiteindelik blaas en dat God se koninkryk sigbaar word – hfst 11
Verlossing van die mensdom – Openbaring 12-22
- Skep moed uit die feit dat God Sy Seun en die kerk beskerm teen alle aanslae van die Satan in die hemel en op aarde – hfst 12
- Raak bewus van die insig wat God ons gee in die planne van die Bose driemanskap (Satan, antichris, valse profeet) sodat julle kan volhard in geloof – hfst 13
- Wees intens bewus van die feit dat die oes van gelowiges (graan) en ongelowiges (druiwe) tans ingesamel word – hfst 14
- Weet dat die oordeel onafwendbaar gaan aanbreek – hfst 15
- Sien raak hoe God se oordeel in sewe bakke die hele kosmos gaan tref en Babilon, die sentrum van politieke, ekonomiese en godsdienstige teenstand, sal vernietig – hfst 16-18
- Juig saam met alle gelowiges oor die bruilofsfees van die Lam wat sal aanbreek en die vernietiging van die antichris en die valse profeet sal beteken – hfst 19
- Wees bly dat die Satan geoordeel sal word, dat die 1000 jaar van vrede sal aanbreek en die kinders van God bekend gemaak sal word aan die wêreld – hfst 20
- Fokus op die visie van God wat hemel op aarde sal skep vir sy volk, die Nuwe Jerusalem – hfst 21
- Luister na die Here Jesus Christus wat ons verseker dat Hy spoedig weer sal kom en ons aanmoedig om vas te hou aan sy woorde – hfst 22





Onlangse kommentaar