Skip to main content

Bybelstudie metodiek

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (Eenvoudige luistersiklus of Lectio Divina bv.) van aard.

Julle kan self kies hoe julle wil lees met enige van die vorige metodes.

Hier is egter nog vier metodes vir die avontuurlikes onder julle wat ek by Adele Calhoun raakgelees het.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met Jesus in die lewe onderneem.

Leer hier ‘n paar interessante feite oor die Bybel.

Luistersiklus

Eenvoudige luistersiklus

RUS

  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.

HOOR

  • Lees die Skrifgedeelte hardop.
  • Dink na oor wat jou daarin tref.

LEEF

  • Wat lê die Here nou op jou hart?
  • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Grafies voorgestel:

Lectio Divina

Lectio divina, of “geestelike lees” word op verskillende maniere gedoen.

Die een wat ek die sinvolste vind (Alice Fryling – The Art of Listening), werk as volg:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te lewe
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte hardop en fokus op ‘n vers of gedagte wat jou tref
  3. Meditatio – oordink die praktiese impak daarvan op jou lewe
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.

As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy Luke Dysinger se weergawe hier aflaai (pdf – 35 KB): Lectio Divina.

WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling

Hierdie week lees ons Markus 1:1-3:6 – die Proloog en Deel 1 van die evangelie, die Bekendstelling van Jesus Christus.

Ek gaan dit oor die volgende 5 dae as volg lees:

  • Donderdag: Markus 1:1-8
  • Vrydag: Markus 1:9-20
  • Maandag: Markus 1:21-39
  • Dinsdag: Markus 1:40-2:17
  • Woensdag: Markus 2:18-3:6

Oorsigtelik die volgende opmerkings:

  • Let op hoe al die hooflyne van Markus se evangelie reeds in die begin aangekondig word: die goeie nuus van Jesus wat verbind word met die OT beloftes in Jesaja, die bekendstelling van Jesus deur Johannes die Doper as die Here, sy versoeking in die woestyn en en die begin van sy bediening in Galilea wat die koninkryk in aanskyn roep.
  • Let ook op hoe Jesus se publieke bediening van die begin af ‘n impak maak op drie groepe, die skares, die geroepe dissipels en die godsdienstige en politieke leiers (beskryf in vyf kort verhale).

ONTHOU: Daar gaan meesal meer as een post per dag wees.  Soms is die perikope só ryk aan betekenis óf so verskillend in inhoud, dat ek dit in aparte posts hanteer.  Sommige dae sal daar ook ekstra inligting wees, bv. ‘n vergelyking van die verskillende lyste van die apostels, of ‘n antwoord op ‘n vraag wat iemand vra.  Kyk dus elke weeksdag dat jy elke post lees wat gepubliseer is.

Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes

Ek lees vandag soos ‘n speurder:

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

Wat gebeur hier?

Markus begin met die goeie nuus van Jesus Christus as die Seun van God (1:1) wie se menslike natuur bevestig word deurdat Hy van Nasaret in Galilea (1:6) af gekom het.  Jesus as Seun van God word ook deur die Gees wat na Hom toe neerdaal en die stem uit die hemel bevestig.  Interessant dat Markus beide van die evangelie as die evangelie van Jesus Christus praat (1:1) sowel as die evangelie van God (1:14).  Daaruit blyk ook die sterk klem wat hy plaas op die Goddelike karakter van Jesus Christus.

Wat beteken dit?

Jesus is God en mens

Die evangelies begrond merkwaardig genoeg almal die twee nature van Jesus Christus reg in die begin van hulle skrywes, hoewel verskillend.

  • Markus, soos ek hierbo gesê het, bevestig Jesus se menslike natuur deur van Nasaret te praat en later met die stem van God wat Hom as Seun van God eien.
  • Matteus begin weer met Jesus se menslike afkoms in ‘n geslagsregister (1:1 vv) waarna hy Maria se swangerskap aan die Heilige Gees koppel (1:18).
  • Lukas wys ook hoe die kombinasie van die Goddelike en die menslike in Maria se swangerskap aan die Heilige Gees se werk in haar toegeskryf word (1:26 vv).
  • Johannes verbind ook die Goddelike oorsprong en status van  Jesus, waar hy Hom beskryf as die lig wat mense tot geloof bring, direk aan sy menswording: Hy het onder ons kom woon (1:14).

Jesus vervul die Ou Testament beloftes

Dié evangelie, hierdie goeie nuus, is dat die tyd aangebreek het (:15), en die koninkryk van God naby gekom het.  ‘n Mens hoor hier Jesaja 52:7 implisiet eggo: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede (sjalôm) aankondig, wat die goeie tyding (tôv) bring, wat redding (jesjûa) aankondig, en vir Sion sê: ‘Jou God is Koning'”.  Dit word daar as oproep gebruik om die ballinge te laat trek uit Babel, hier om die Jode aan Jesus, die Redder-God, te koppel.  Let ook op na dieselfde boodskapper-teks in Nahum 1:15 (geskryf in die 7de eeu v.C. net voor die val van die Assiriërs en hulle hoofstad Ninevé in 612 v.C.) en Jesaja 40:9-11 (wat ook hoop bring vir die ballinge in Babel in die 6de eeu v.C.), sowel as Paulus wat ook hierdie teks aanhaal in Romeine 10:15.

Johannes die Doper word deur Markus as die vervulling van hierdie boodskapper-teks geteken.  Jesaja 40:3 word eksplisiet aangehaal, terwyl Maleagi 3:1 (die laaste boek van die 12 kleiner profeteboeke, wat  uit die tyd van Esra en Nehemia in die 5de eeu v.C, na die ballingskap dateer) as verduideliking gebruik word (sonder verwysing) om die stem te verklaar waarvan Jesaja praat. Interessant dat Maleagi die voorbereidingswerk van die boodskapper aan die koms van die Here, die Verbondsengel, koppel, die een waarna Israel met soveel vreugde uitsien.  Dit laat ‘n mens onmiddelik dink aan die Eksodus 23:20 vv., waar die Here sy engel belowe as gids en beskermer deur die woestyn tot in die beloofde land, wat eintlik niemand anders as die Here self is nie (Hy het volmag en word in vers 25 met die Here God verbind).

Let ook op hoe die Johannes evangelie in sy proloog in hoofstuk 1 hierdie boodskapper gedagte van Jesaja en Maleagi inspan om Johannes die Doper se getuienis te verduidelik, waarmee Jesus – die Woord van God, die een deur wie alles tot stand gekom het, die een in wie lewe is, en daarom die lig vir die wêreld se mense is, ja, God self is – aan die orde gestel word.  Hy het die teenwoordigheid van God by ons geword, net soos dit met  ‘n vooraf afskaduwing in die woestyn by Moses en sy mense gebeur het.  Jesus kom tabernakel by ons (die woord σκηνόω [skênoô – tent opslaan] word hier gebruik en vertaal met “onder ons kom woon” – 1:14).

Wat nou?

Die verbintenis aan die OT beloftes en die koppeling van Jesus se goddelike en menslike natuur bevestig net weer vir my dat die evangelie geloofwaardig is, en dat ek my lewe daarop kan bou.  Ek bevestig in gebed my geloof in hierdie Jesus wat al vier evangelies so kragtig as die Seun van God teken.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda