Terugblik en vooruitskou

Ons het aan die einde van die vierde kwartaal se fokus op Galasiërs, Romeine en Rut gekom.  Ek moet sê, ek gaan die gereelde skrywery mis!  Dit bly immers een van die hoogtepunte van my dag om die Bybelskool teks te lees en iets daaroor op die web te publiseer.

Vir 2011 beplan ek om die boek Jesaja in die eerste kwartaal te behandel.  In die gemeente van Somerstrand sal dit gekombineer word met ‘n Bybelstudie- en preekreeks.  Lidmate sal dus in die week vooraf hulle óf by ‘n Bybelstudiegroep óf in die Bybelskool kan ingrawe in die teks vir die Sondag en bydraes maak, voor ons saam gaan luister na wat God vir die gemeente sê.

Ek is reeds besig om my te begin ingrawe in Jesaja.  Een van die insigte wat ek tot dusver geniet het, is dat daar ‘n hele paar geleerdes is (bv. Watts) wat wegbeweeg van die drie-boek interpretasie van Jesaja (Jesaja, Deutero-, en Trito-Jesaja) aan die hand van die tydperke wat die boek beslaan, na die hantering daarvan as een boek, onder andere omdat daar geen kopie van die onderskeie boeke ooit gevind is nie, en die onderskeie dele met mekaar verband hou.

Hy deel die boek daarom in twee dele: Deel 1: Die aankondiging van die verwoesting van die land (hfst 1-33) en Deel 2: Die hofsaak teen Israel met die belofte van ‘n nuwe bedeling (hfst 34-66).  Dit beteken dat hoofstuk 34-49 as ‘n literêre eenheid (laaste deel van Jesaja en die hele Deutero-Jesaja) hanteer word, wat interessante interpretasie moontlikhede oopmaak om die historiese gedeeltes met die heilsprofesieë te verbind.

Ek was nog altyd skepties oor die stelligheid waarmee geleerdes die drie-boek interpretasie op die tafel gesit het, waarmee hulle eintlik maar net hulle modernistiese interpretasie van die boek ten toon gestel het, dws dat ‘n profeet nie gebeure vooruit kan voorspel nie.  Hoewel ek natuurlik nog moet sien of ek my heeltemal in Watts se indeling gaan vind, hou ek van sy idee van Jesaja as ‘n boek, waarmee hy nie die modernistiese weg opgaan nie, maar ook nie vasval in die interpretasie van die boek as volledig die werk van die profeet Jesaja nie.

Maar, daaroor gaan ek verder lees en ons almal verder gesels volgende jaar!

Hoop julle het die Bybelskool hierdie jaar geniet – sal graag terugvoer van die gemeentes wat die Bybelskool aangebied het hier wil publiseer – en sal julle almal graag volgende jaar terug verwelkom!

Terloops – ek is ook besig om ‘n nuwe template te laai, ter wille van meer funksionaliteit – laat weet maar as daar iets is wat nie werk nie!


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Baie dankie vir die afgelope kwartaal se bydraes. Ek geniet dit so om elke dag die stukkie te ontvang en saam met Bybelstudie te doen. Ek leer so baie, wat voorheen net dele van die Bybel was wat ek oor en oor gelees het sonder om die diepere betekenis daarvan te ontdek, het my oė en my hart oopgemaak. Ek sien uit na volgende jaar, veral na Jesaja. Dankie dat jy deur al die bydrywighede tyd maak om dit vir ons voor te berei en te stuur.

  • Ek wil graag ook hierdie jaar bybelskool doen vanuit Pretoria en Kaapstad so kan jy asb vir my aanhou die dagstukkies epos?

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: