Waar gaan gelowiges na hulle dood?
Inhoudsopgawe
- Mense wat sterf, gaan na die doderyk
- Die doderyk is ‘n put van vernietiging vir die goddeloses
- Die doderyk is ‘n plek van vrede vir die regverdiges
- Ontslape gelowiges is nou alreeds by die Here Jesus
- Die opstanding van die regverdiges
- Die getuienis van die Nederlandse Geloofsbelydenis
- Die getuienis van die Heidelbergse Kategismus
1. Mense wat sterf, gaan na die doderyk
Dit is uit die Bybelse getuienis duidelik dat alle mense wat sterf na die doderyk gaan. Die doderyk word in die Bybel as ‘n onderwêreld, die onderaardse diepte van die dooies, beskryf. Dit word Sheol genoem in Hebreeus (Gen 37:35; Job 17:16) en Hades (Matt 11:23; Hand 2:31) of Abussos (Rom 10:17; Openb 9:11) in Grieks.
2. Die doderyk is ‘n put van vernietiging vir die goddeloses
Die doderyk word aan die een kant beskryf as ‘n “put van vernietiging” vir goddeloses (Ps 55:24; 69:16). Dit is ‘n plek waar mense wat God nie gedien het nie, gestraf word (Luk 16:23). Dit is ‘n plek waar God sy hand van beskerming terugtrek van hulle en nie meer aan hulle dink nie (Ps 88:5). Dit is ‘n plek waar mense huil en op hulle tande kners weens die uiterste duisternis wat daar heers (Matt 8:12; Jud 13). Ook die engele wat gesondig het, word daar gevange gehou vir die oordeel (2 Pet 2:4).
Die doderyk kan daarom ook as die “hel” beskryf word, Gehenna in Grieks (Luk 12:5). Dit is hierdie deel van die doderyk wat uiteindelik in die “poel van vuur” gegooi sal word, ‘n plek van ewige straf en vernietiging (Openb 20:10,14-15).
3. Die doderyk is ‘n plek van vrede vir die regverdiges
Die doderyk word egter aan die ander kant ook beskryf as ‘n plek van vrede vir die regverdiges: “Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf.” (Jes 57:2). Dit is ‘n plek waar hulle God kan sien (Job 19:26), omdat hulle aan Hom behoort (Ps 49:15).
Dawid beskou daarom die dood eintlik as ‘n deurgang na God self toe. Hy is oortuig dat vir dié wat rein van hart is, daar ‘n ewige bestaan na die dood in God se teenwoordigheid sal wees: “U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem.” (Ps 73:24 – die teks het ook betekenis vir die hemelvaart van Jesus).
In feite beteken dit dus dat die ervaring van gelowiges in die doderyk fundamenteel anders is as dié van goddeloses voor die tydperk van die lewe, lyding, dood, opstanding en hemelvaart van Jesus aangebreek het.
4. Ontslape gelowiges is nou alreeds by die Here Jesus
Paulus verkondig daarom met baie sekerheid dat alle ontslape gelowiges nou alreeds by God is:
“Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.” (1 Tess 4:13-18).
Johannes beskryf daarom in sy Openbaring dat die siele van dié wat aan God se Woord vasgehou het, in die heiligdom van God self in sy teenwoordigheid is (Openb 6:9-11). Dit is die plek waar Paulus ook verlang om te wees: “want dit is verreweg die beste” (Fil 1:23).
5. Die opstanding van die regverdiges
Uiteindelik sal ontslape gelowiges, die regverdiges, die vreugde van die opstanding van die liggaam beleef.
Die OT het alreeds ‘n ewige opstanding uit die dood verkondig. Jesaja verkondig die vernietiging van die dood (Jes 25:8) en die opstanding van die regverdiges uit die doderyk:
“Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.”(Jes 26:19).
Daniël beskryf dit só pragtig in sy eindtyd visioen:
“In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.” (Dan 12:1-4).
Die hoop daarvoor is egter volledig bevestig met die opstanding van die Here Jesus Christus. Ons lees dat ‘n hele aantal gelowiges saam met Hom uit die graf opgestaan het en aan baie mense in Jerusalem verskyn het:
“Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.” (Matt 27:52-53).
Hoewel ons nie verder van die gelowiges in die evangelies hoor nie, kan ‘n mens aanvaar dat hulle opgeneem is in God se teenwoordigheid, soos die belofte aan die een misdadiger aan die kruis ook bevestig het (Luk 23:43).
Elke gelowige sal dus sóós Jesus ‘n verheerlikte liggaam ontvang met sy wederkoms (Rom 8:11; 1 Kor 6:14; 15:20-23,42-55; 2 Kor 4:14; 5:1-4; Fil 3:20-21). Die hele skepping wag met gespanne verwagting uit na die bekendmaking van die kinders van God (Rom 8:18-19) wanneer ons van verganklikheid vrygemaak gaan word (Rom 8:23; 2 Kor 4:17-18). Ons sal dan soos Jesus self wees (1 Joh 3:2) in die nuwe hemel en aarde (2 Pet 3:13; Openb 21:1) in God self se teenwoordigheid (Openb 21:2-7).
Johannes skets dit so pragtig:
“Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.”(Openb 20:11-15; vgl Matt 25:19-23, 2 Kor 5:10 en Hebr 9:27-28 oor die sekerheid van hierdie oordeel).
Van hierdie wonderlike werklikheid is die Heilige Gees ons waarborg:
“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.”(Ef 1:14; 2 Kor 1:22; 5:5).
6. Die getuienis van die Nederlandse Geloofsbelydenis
Artikel 37
DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in ‘n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op. 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg (2 Kor. 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt. 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.
Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt. 10:32), en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op. 21:4). Dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is. En as ‘n beloning uit genade sal die Here self hulle so ‘n heerlikheid gee as wat die hart van ‘n mens nooit kon bedink nie.
Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.
Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1-2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 2 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 11:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.
7. Die getuienis van die Heidelbergse Kategismus
1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
42 Vraag: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs ‘n afsterwe van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh 5:24; Rom 7:24.
52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a) Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
57 Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a) Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
58 Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ‘n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (b).
(a) 2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9
59 Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God geregverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe is (a).
(a) Hab 2:4; Rom 1:17; Joh 3:36.
Neels Hubinger
Wat ‘n heerlike, vreugdevolle kennis en versekering om aan Jesus te behoort, in genade, deur sy dood en opstanding en met ons God van liefde versoen ye wees!!!
Dankie Chris, duideliker kon dit nie gestel word nie…
Jan Louw
Mense voel soms dat die OT vaag is oor die lewe na die dood. Jy gee waardevolle inligting uit die OT.
Ek sal graag wil byvoeg dat die Sadduseërs die opstanding ontken het maar die Fariseërs het geglo in die opstanding. Die enigste gronde vir die Fariseërs in die opstanding was tog die Skrif. Jesus sê vir die Sadduseërs wat die opstanding ontken het:
Mat 22:29: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie”.
Dit is dus duidelik dat die mense in die OT wel ‘n verwagting gehad het oor die ewige lewe.
Fanie van Emmenes
Daar is soveel positiewe reaksie op hierdie artikel van jou Chris dat ek huiwer om enige aanmerking te maak wat negatief sou klink.
Dit is egter ‘n aanvaarbare feit dat die mens nie uit liggaan, siel en gees bestaan nie, maar dat hy liggaam, siel en gees is. Die liggaam kan gevolgelik nie bestaan sonder die siel en die gees nie, want dit is ‘n eenheid. dit beteken dat die mens se siel nie hemel toe kan gaan sonder sy liggaam nie. Die opstanding uit die dood is dus die gelowige se hoop.
Hoe dit presies in mekaar steek weet ek nie regtig nie maar menige teoloe het daaroor bespiegel. miskien is dit soos Petrus in Handeling verkondig dat die opstanding uit die dode reeds begin het met Christus se opstanding, Hy was die eersteling uit die opstanding. Wat vir my egter vasstaan is dat die mens nie uit drie, of selfs meer dele bestaan nie. Die begrip van die onsterflikheid van die siel is ‘n Grieks-filosofiese begrip.
Ons HOOP is die opstanding.
Fanie
Chris van Wyk
Hi Fanie. Geen probleem nie. Dit is in gesprek wat die waarheid uiteindelik uitkristaliseer.
Die OT prentjie van die mens in Genesis 2:7 is dat God die mens uit die stof van die aarde gevorm het, waarin Hy sy lewensasem (nishma nie ruah nie) geblaas het wat die mens ‘n lewende wese (nephesh, wat ook met siel vertaal word, word gebruik) gemaak het. So verwoord Job dit ook (Job 32:8) sowel as Jesaja (Jes 37:7; 57:16). Die mens is dus gevorm uit geestelike/goddelike en vleeslike/aardse elemente.
Op ander plekke word hierdie prentjie uitgebou deur te verwys ook na die gees van die mens wat saam met die siel die wese van die mens vorm. Dit is onderskeibaar van die liggaam (Job 12:10; Jes 42:5 wat ook met Gen 2:7 in verband staan), veral omdat die gees kan “terugkom” in ‘n mens as hy van ‘n groot skok herstel (Gen 45:27) of selfs net sy dors geles word ((Rigt 15:19).
Dit is hierdie geestelike deel van die mens wat na die ontmoeting met God verlang, en Hom soek, soos Jesaja so pragtig sê: “Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U.” (Jes 26:9; vgl Job 7:11). Spreuke sê die: “gees van die mens is ’n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.” (Spr 20:27).
Die NT prentjie van die mens is gebaseer op hierdie OT perspektiewe. Let wel nie op ‘n Griekse filosofiese een nie. Jesus verwys al daarna dat ‘n gees en ‘n liggaam van mekaar onderskei kan word (Luk 24:39). Hy gee ook sy gees sodat dit uit Hom uitgaan en sy liggaam agterbly (Joh 19:30).
Paulus voeg die OT gedagtes oor die samestelling van die mens saam as ‘n drie-deling van gees, siel en liggaam (1 Tess 5:23; Hebr 4:12). Dit staan duidelik nie los van die OT nie, want Paulus verwys duidelik na die OT siening van die mens in Genesis 2:7 wanneer hy aan die Korintiërs skryf dat die eerste mens ‘n lewende wese (psugos) geword het (1 Kor 15:45).
Die NT prentjie van die mens is uiteraard nog meer kompleks waarin ons hart, gedagtes en krag ensomeer ook ‘n rol speel in die wye waarop ons menswees funksioneer, maar die idee van ‘n materiële kant van menswees en ‘n nie-materiële kant is tog duidelik daarin.
As ‘n mens vanuit hierdie OT en NT perspektiewe dan oor die dood praat, is dit duidelik dat die materiële deel van die mens hier bly met die dood, en die nie-materiële deel na die doderyk/God toe terugkeer.
Psalm 146 praat daarom van die dood as ‘n proses waarin iemand se: “gees uitgaan, hy keer terug na sy aarde toe.” (Ps 146:4). Daar kom dus ‘n skeiding tussen die gees en die liggaam. Prediker stel dit helder dat: “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” (Pred 12:7).
Met die dood is dit dus hierdie nie-materiële iets van die mens – gees/siel – wat in die doderyk kom soos dit op talle plekke in die OT beskryf word en later in die NT ook (Jak 2:26). Vir gelowiges geld dit dat hulle (siele) in die hemel by God is (Openb 6:9).
Terloops, dit is ook hierdie deel van die mens wat deur Saul teen die wil van die Here opgeroep is, “die gees van ‘n afgestorwene” (1 Sam 28:8; 1 Kron 10:13), maar daaroor ‘n ander dag.
Fanie van Emmenes
Baie dankie vir die mooi verduideliking Chris, dit laat ‘n mens opnuut peins oor die Grootheid en Wysheid van God.
Groete
Fanie