Skip to main content

Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees

Erkenning: Estelle – The Walk Into Nothingness

Die OT prentjie van die mens in Genesis 2:7 is dat God die mens uit die stof/materie van die aarde gevorm het, waarin Hy sy lewensasem (nishma nie ruah nie) geblaas het wat die mens ‘n lewende wese (nephesh, wat onder andere ook in die betekenis siel gebruik kan word) gemaak het. So verwoord Job dit ook (Job 32:8) sowel as Jesaja (Jes 37:7; 57:16). Die mens is dus gevorm uit geestelike/goddelike/nie-materiële en vleeslike/aardse/materiële elemente.

Op ander plekke word hierdie prentjie uitgebou deur te verwys ook na die gees van die mens wat saam met die siel die wese van die mens vorm. Dit is onderskeibaar van die liggaam (Job 12:10; Jes 42:5 wat ook met Gen 2:7 in verband staan), selfs in die ervaring van ‘n floute as die Bybel praat van die gees wat “terugkom” in ‘n mens (Jakob) as hy van ‘n groot skok herstel (Gen 45:27) of selfs as iemand (Simson) flou was van die dors en dit geles word ((Rigt 15:19).

Dit is hierdie geestelike deel van die mens wat na die ontmoeting met God verlang, en Hom soek, soos Jesaja so pragtig sê: “Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U.” (Jes 26:9; vgl Job 7:11).

Spreuke sê in lyn hiermee dat dit die onderskeidende element van menswees is, want in die hande van God word die: “gees van die mens ’n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.” (Spr 20:27).

Die NT prentjie van die mens is gebaseer op hierdie OT perspektiewe. Let wel nie op ‘n Griekse filosofiese een nie. Jesus verwys al daarna dat ‘n gees en ‘n liggaam van mekaar onderskei kan word (Luk 24:39). Hy gee ook sy gees aan God oor sodat dit uit Hom uitgaan, maar, soos ons weet, sy liggaam agtergebly en in ‘n graf gebêre is (Joh 19:30).

Paulus voeg die OT gedagtes oor die samestelling van die mens saam as ‘n drie-deling van gees, siel en liggaam (1 Tess 5:23; Hebr 4:12). Dit staan duidelik nie los van die OT nie, want Paulus verwys terug na hierdie OT siening van die mens in Genesis 2:7 wanneer hy aan die Korintiërs skryf dat die eerste mens ‘n lewende wese (psuge – kan ook met siel vertaal word) geword het (1 Kor 15:45).

Die NT prentjie van die mens is uiteraard nog meer kompleks waarin ons hart, gedagtes en krag ensomeer ook ‘n rol speel in die wye waarop ons menswees funksioneer, maar die idee van ‘n materiële kant van menswees en ‘n nie-materiële kant is tog duidelik daarin.

As ‘n mens vanuit hierdie OT en NT perspektiewe dan oor die dood praat, is dit duidelik dat die materiële deel van die mens hier bly met die dood, en die nie-materiële deel na die doderyk/God toe terugkeer.

Psalm 146 praat daarom van die dood as ‘n proses waarin iemand se: “gees uitgaan, hy (sy liggaam) keer terug na sy aarde toe.” (Ps 146:4). Daar kom dus ‘n skeiding tussen die gees en die liggaam. Prediker stel dit waarskynlik die helderste dat: “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” (Pred 12:7).

Met die dood is dit dus hierdie nie-materiële iets van die mens – gees/siel – wat in die doderyk kom soos dit op talle plekke in die OT beskryf word en later in die NT ook (Jak 2:26). Vir gelowiges geld dit dat hulle (siele) in die hemel by God is (Openb 6:9).

Dit is op hierdie teksgegewens wat die wonderlike boodskap oor die lewe na die dood van ons belydenisskrifte gebaseer is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 37 werk duidelik met hierdie Bybelse perspektief dat hierdie nie-materiële kant van alle mense voortbestaan na die dood – die siel volgens Guido de Bres se interpretasie – en by die wederkoms weer tot ‘n liggaamlike bestaan opgewek word: “Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het.” Dié liggaam sal dan onverganklik wees.

Dieselfde geld die antwoorde wat die Heidelbergse Kategismus op die vrae oor die lewe na die dood gee. In vraag 57 oor die troos van die boodskap van die opstanding van die liggaam, antwoord Ursinus en Olevianus dat die siel onmiddelik na die dood by die Here is, maar dat die liggaam eers aan die einde van die tyd opgewek sal word in ‘n staat gelyk aan die heerlike liggaam van die Here Jesus Christus: “Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b)

As bewysplaas vir die nie-materiële kant van die mens se voortbestaan na die dood word die verhaal (gelykenis) van die ryk man en die bedelaar Lasarus aangehaal, die belofte van Jesus aan die misdadiger aan die kruis en Paulus se begeerte om heen te gaan en by Christus te wees.

Na die dood van Lasarus is hy weggeneem na die “boesem van Abraham” – waarskynlik ‘n prentjie van die teenwoordigheid van God – en die ryk man na die doderyk (Hades). Hulle kan albei duidelik kommunikeer en geluk/vrede en ongeluk/pyn ervaar, hoewel dit sonder hulle liggame is (Luk 16:19-31).

Jesus belowe aan die misdadiger aan die kruis dat hy vandag saam met Hom in die Paradys sal wees (Luk 23:43; vgl verdere verwysings na die Paradys in die NT 2 Kor 12:4; Openb 2:7; vgl in die OT Gen 2:8; 13:10; Eseg 31:8; Jes 51:3).

En Paulus verlang op soortgelyke wyse om heen te gaan – dws te sterf – en met Christus te wees, want dit is verreweg vir hom die beste (Fil 1:23).

Ons kan dus die woorde van Jesus aan die misdadiger aan die kruis vir onsself omarm: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Inderdaad.  Dit is ons troos.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda