Skip to main content

Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees

Erkenning: Estelle – The Walk Into Nothingness

Die OT prentjie van die mens in Genesis 2:7 is dat God die mens uit die stof/materie van die aarde gevorm het, waarin Hy sy lewensasem (nishma nie ruah nie) geblaas het wat die mens ‘n lewende wese (nephesh, wat onder andere ook in die betekenis siel gebruik kan word) gemaak het. So verwoord Job dit ook (Job 32:8) sowel as Jesaja (Jes 37:7; 57:16). Die mens is dus gevorm uit geestelike/goddelike/nie-materiële en vleeslike/aardse/materiële elemente.

Op ander plekke word hierdie prentjie uitgebou deur te verwys ook na die gees van die mens wat saam met die siel die wese van die mens vorm. Dit is onderskeibaar van die liggaam (Job 12:10; Jes 42:5 wat ook met Gen 2:7 in verband staan), selfs in die ervaring van ‘n floute as die Bybel praat van die gees wat “terugkom” in ‘n mens (Jakob) as hy van ‘n groot skok herstel (Gen 45:27) of selfs as iemand (Simson) flou was van die dors en dit geles word ((Rigt 15:19).

Dit is hierdie geestelike deel van die mens wat na die ontmoeting met God verlang, en Hom soek, soos Jesaja so pragtig sê: “Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U.” (Jes 26:9; vgl Job 7:11).

Spreuke sê in lyn hiermee dat dit die onderskeidende element van menswees is, want in die hande van God word die: “gees van die mens ’n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.” (Spr 20:27).

Die NT prentjie van die mens is gebaseer op hierdie OT perspektiewe. Let wel nie op ‘n Griekse filosofiese een nie. Jesus verwys al daarna dat ‘n gees en ‘n liggaam van mekaar onderskei kan word (Luk 24:39). Hy gee ook sy gees aan God oor sodat dit uit Hom uitgaan, maar, soos ons weet, sy liggaam agtergebly en in ‘n graf gebêre is (Joh 19:30).

Paulus voeg die OT gedagtes oor die samestelling van die mens saam as ‘n drie-deling van gees, siel en liggaam (1 Tess 5:23; Hebr 4:12). Dit staan duidelik nie los van die OT nie, want Paulus verwys terug na hierdie OT siening van die mens in Genesis 2:7 wanneer hy aan die Korintiërs skryf dat die eerste mens ‘n lewende wese (psuge – kan ook met siel vertaal word) geword het (1 Kor 15:45).

Die NT prentjie van die mens is uiteraard nog meer kompleks waarin ons hart, gedagtes en krag ensomeer ook ‘n rol speel in die wye waarop ons menswees funksioneer, maar die idee van ‘n materiële kant van menswees en ‘n nie-materiële kant is tog duidelik daarin.

As ‘n mens vanuit hierdie OT en NT perspektiewe dan oor die dood praat, is dit duidelik dat die materiële deel van die mens hier bly met die dood, en die nie-materiële deel na die doderyk/God toe terugkeer.

Psalm 146 praat daarom van die dood as ‘n proses waarin iemand se: “gees uitgaan, hy (sy liggaam) keer terug na sy aarde toe.” (Ps 146:4). Daar kom dus ‘n skeiding tussen die gees en die liggaam. Prediker stel dit waarskynlik die helderste dat: “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” (Pred 12:7).

Met die dood is dit dus hierdie nie-materiële iets van die mens – gees/siel – wat in die doderyk kom soos dit op talle plekke in die OT beskryf word en later in die NT ook (Jak 2:26). Vir gelowiges geld dit dat hulle (siele) in die hemel by God is (Openb 6:9).

Dit is op hierdie teksgegewens wat die wonderlike boodskap oor die lewe na die dood van ons belydenisskrifte gebaseer is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 37 werk duidelik met hierdie Bybelse perspektief dat hierdie nie-materiële kant van alle mense voortbestaan na die dood – die siel volgens Guido de Bres se interpretasie – en by die wederkoms weer tot ‘n liggaamlike bestaan opgewek word: “Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met sy liggaam waarin hy geleef het.” Dié liggaam sal dan onverganklik wees.

Dieselfde geld die antwoorde wat die Heidelbergse Kategismus op die vrae oor die lewe na die dood gee. In vraag 57 oor die troos van die boodskap van die opstanding van die liggaam, antwoord Ursinus en Olevianus dat die siel onmiddelik na die dood by die Here is, maar dat die liggaam eers aan die einde van die tyd opgewek sal word in ‘n staat gelyk aan die heerlike liggaam van die Here Jesus Christus: “Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b)

As bewysplaas vir die nie-materiële kant van die mens se voortbestaan na die dood word die verhaal (gelykenis) van die ryk man en die bedelaar Lasarus aangehaal, die belofte van Jesus aan die misdadiger aan die kruis en Paulus se begeerte om heen te gaan en by Christus te wees.

Na die dood van Lasarus is hy weggeneem na die “boesem van Abraham” – waarskynlik ‘n prentjie van die teenwoordigheid van God – en die ryk man na die doderyk (Hades). Hulle kan albei duidelik kommunikeer en geluk/vrede en ongeluk/pyn ervaar, hoewel dit sonder hulle liggame is (Luk 16:19-31).

Jesus belowe aan die misdadiger aan die kruis dat hy vandag saam met Hom in die Paradys sal wees (Luk 23:43; vgl verdere verwysings na die Paradys in die NT 2 Kor 12:4; Openb 2:7; vgl in die OT Gen 2:8; 13:10; Eseg 31:8; Jes 51:3).

En Paulus verlang op soortgelyke wyse om heen te gaan – dws te sterf – en met Christus te wees, want dit is verreweg vir hom die beste (Fil 1:23).

Ons kan dus die woorde van Jesus aan die misdadiger aan die kruis vir onsself omarm: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Inderdaad.  Dit is ons troos.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!