Skip to main content

Die vooraf-bestaan van die siel

Ek het ’n navraag gekry oor die vooraf-bestaan van die siel al dan nie.

Dit is nie iets waaraan ek glo nie, hoewel daar baie is wat dit wel doen. My siening oor die vooraf-bestaan van die siel is dat ’n mens met bevrugting geskep word. Die mens bestaan uit ‘n geestelike en materiële kant.

Weens die sonde is die mens egter dood vir God en die ewige lewe. Met wedergeboorte word sy of haar gees/siel van bo-af gebore waardeur hulle die ewige lewe as geskenk van God ontvang. Die liggaam moet egter nog deur die proses van verandering gaan om ewig te lewe, wat óf deur die dood sal gebeur óf deur die wederkoms self.

God se Gees woon nou in ons om ons nie net aan God te verbind nie, maar ons ook in hierdie wêreld te gebruik om aan Hom eer te bring. Sy Gees is ook die waarborg dat ons met ons dood in gees/siel na Hom toe geneem sal word. Aan die einde van die tyd sal ons ‘n verheerlikte onverganklike liggaam ontvang wat met ons siel/gees verenig sal word.

Ek baseer dit op die siening van die Bybel dat die mens ‘n geskape wese is wat in tyd deur die normale prosesse van bevrugting en geboorte tot stand kom. Dit geld ook die siel. Die siel het nie ‘n vooraf-bestaan nie, altans nie volgens die Protestantse Bybelse kanon wat ons gebruik nie.

Daar is wel ‘n vooraf-bestaan van die siel in die Joodse boek, die Wysheid van Salomo, uit die 2de eeu vC, oorspronklik geskryf in Grieks. In hoofstuk 8:19-20 staan daar: “As a child I was naturally gifted, and a good soul fell to my lot; or rather, being good, I entered an undefiled body.” (NRSV). Dit vorm deel van die Rooms-Katolieke en ‘n paar ander kerke se kanon. Dit vorm natuurlik ook deel van die Joodse tradisies soos in die Talmoed en ander plekke verwoord.

Dié idee van die vooraf-bestaan van die siel is wel deur ‘n hele klomp kerkvaders gepropageer, onder andere Justinus die Martelaar en Origines, maar met die verloop van die eerste paar eeue nC bestry en deur die sinode van Konstantinopel in die 6de eeu nC verwerp (The International standard Bible encyclopedia).

Tog is die idee van die vooraf-bestaan van die siel deur mense soos Immanuel Kant en ander laat herleef veral met verwysing na Jeremia 1:5. Hoewel dit ‘n aantreklike interpretasie is van die vers, gaan dit na my mening te ver met die Bybelse gegewens.

Daar staan in Jeremia: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.” (Jer 1:5).

Dit is verseker ‘n diepsinnige en lewensveranderende gedagtes om oor na te dink. God skep Jeremia volgens die beeld en bedoeling wat Hy van hom het en voer dit deur met Jeremia se vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.

Maar dit veronderstel nie ‘n vooraf-bestaan van die siel nie. En dit is die enigste plek waar ‘n verwysing hierna in die Bybel wat ons gebruik, voorkom.

Ek dink Dawid se beskrywing van sy eie skepping is die teks waaraan ons as ‘n voorbeeld vir elkeen van ons moet vasgryp. Hoewel sy skepping as ‘n skepping in tyd beskryf word, met geen vooraf-bestaan van die siel nie, voer hy ons mee met die asemrowende gedagte van God se betrokkenheid by ons ontstaan. ‘n Gedagte waaroor ons gereeld persoonlik moet nadink sowel as wanneer ons oor ander mense dink, om die betekenis wat God heg aan elkeen van sy skepsels na waarde te skat.

Dit lui só:

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” (Ps 139:13-18).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!