Skip to main content

Tag: Sinoptiese evangelies

Die boodskap van Markus

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes.  Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.

Ek steun hier onder andere op die uitstekende boek van Gordon D Fee en Douglas Stuart, How to Read the Bible Book by Book – A Guided Tour.  Uitgegee deur Zondervan, Grand Rapids, Michigan in 2002.

Die drie Sinoptiese evangelies

Vir ons leeswerk gee ek ook die volgende baie kort oorsig van die drie Sinoptiese evangelies.

Markus is een van die drie Sinoptici (sinopties = oorsigtelike, samevattende hantering [van die Griekse “saam-kyk”]).

Uit ‘n vergelyking van die drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas, is dit opvallend dat bykans alle gedeeltes in Markus ook in die ander twee evangelies, Matteus en Lukas voorkom.  Slegs drie gedeeltes kom net in Markus voor: 1) 1:1 – die Inleiding tot sy evangelie; 2) 4:26-29 – Die gelykenis van die saad wat vanself groei en 3) 8:22-26 – Jesus wat ‘n blinde man in Betsaida genees.

Matteus en Lukas het egter verskeie gedeeltes wat nie by Markus voorkom nie, die Bergrede bv.  Dit dui volgens geleerdes daarop dat Matteus en Lukas die evangelie van Markus gebruik het as basis-dokument vir hulle eie evangelies.  Markus is dus die oudste evangelie wat ons het.

Matteus en Lukas het ook ‘n tweede bron gebruik, wat blyk uit dié gedeeltes waarin hulle met mekaar ooreenstem (en nie by Markus geleen het nie), ‘n totaal van 62 perikope, wat deur geleerdes die (hipotetiese) Q- bron genoem word (Q is die afkorting vir die Duitse woord Quelle wat bron beteken).  Dit bevat interessant genoeg meesal uitsprake van Jesus, en omtrent geen genesings en wonderdade van Jesus nie, sowel as niks van sy konfrontasie met die Joodse leiers en uiteindelike dood en opstanding nie (Wie was Jesus regtig?, p 56).  Dit is egter redelik sinloos om die bron op grond van aanhalings en weglatings in sekondêre bronne (Matteus en Lukas) nouer te probeer omskryf.  Omdat die ooreenstemmende gedeeltes in Matteus en Lukas egter byna woordeliks ooreenstem, en daarby in dieselfde volgorde in die twee evangelies geplaas is, word wel aanvaar dat dié bron skriftelik was.

Lees hier meer oor die ontstaan van die Bybel.

Onlangse kommentaar