Prediker 9:1-12 – Ontwikkel jou kapasiteit vir vreugde
Pasop vir selfvoldaanheid en oorgerustheid
Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur. Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).
Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie. Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing. Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter. Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.
Dit is ook nie altyd die sterkstes wat die oorlog wen nie. Hoeveel maal is dit nie al in die geskiedenis bewys nie. Tegnologie, tegniek, toeval – is baie keer meer deurslaggewend in wié ’n oorlog wen. Dink aan die Trojaanse perd wat die mag van Troje verbreek het, en aan die Grieke die oorwinning gegee het. Die perd wat die simbool van Troje was, is op slinkse manier gebruik om ’n mag tot binne die stad te kry vanwaar hulle die oorhand oor die Trojane kon kry.
Dieselfde lot geld ons intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die wyses of die verstandiges of die kennisvrate wat die beste daaraan toe is nie. Jou wysheid of verstand, jou kennis of vermoëns kan nie sorg dat tragedie of terreur jou nie tref nie. Natuurlik is dwaasheid en onkunde nog slegter vir ’n mens, maar bose dinge kan enigiemand tref op hierdie aarde.
Onlangse kommentaar