Inleiding op Prediker
Die Prediker was ‘n wysheidsleraar
Waaroor die Prediker nadink, is die sin van die lewe en of dit enigsins te vinde is. Hy dink na oor watter manier van lewe wys sou wees, en watter onwys, watter lewenstyl waarde het en watter nie. Byvoorbeeld, wanneer hy oor die aanbidding van God praat (hfst 5), fokus hy nie op die waarde van die tempel en die godsdienstige nut daarvan nie, eerder op watter benadering tot God daar wys sou wees, en wat nie. En sy slotsom is dat luister beter is as praat.
Die Prediker staan dus in die wysheidstradisie van Israel. Dat hy ook ‘n leraar in dié wysheidstradisie was, lei ‘n mens uit die naam “Prediker” (Qohelet in Hebreeus) af. Die naam beteken “sameroeper”, wat dit waarskynlik maak dat hy een of ander amptelike rol gehad het, moontlik as sameroeper van die Godsvolk in hulle samekomste (Pred 12:9), wat ook die taak van lering in die wysheid gehad het (vgl Jer 18:18 wat van “raadgee” as taak van die wyses praat, op vergelykbare vlak met die profete en priesters).
Hy staan dus in die tradisie van die wysheidsleraars, soos die skrywers van Spreuke en Job, wat oor die sin van die lewe nagedink het, gesoek het vir begrip en insig oor hoe dinge in die praktyk werk, en probeer het om hulle leringe op hulle ervarings van die werklikheid van die lewe te baseer. Hulle het daarom gesoek na patrone en ordes in die werklikheid (of die gebrek daaraan!), om daaruit beproefde beginsels en wyshede af te lei, wat tot hulp kan wees in die lewenskuns.[1]
Onlangse kommentaar