Openbaring 21:1-8 – Wie oorwin sal God se erfenis vir sy kinders in besit neem
Openbaring 21:1-8 – Wie oorwin sal God se erfenis vir sy kinders in besit neem
1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ‘n bruid wat versier is vir haar man. 3Ek het toe ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.” 5Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! 7Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. 8Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.”
Openbaring 21-22 skets vir ons die “hemel op aarde” wat God vir sy volk belowe ná die oorwinning oor Satan en die oordeel oor die mensdom. Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in vers 1 beskrywe. Dit vervang die ou hemel en aarde wat so pas met die laaste oordeel tot niet gegaan het. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is. Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ’n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).
Die Nuwe Jerusalem (vgl ook Openb 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan die gemeente van Filadelfia belowe word) daal uit die hemel neer (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereed gemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ’n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word. Die versierde vrou staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is. In ’n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand). Die plek ís ook die mense! Die gelowiges ís ook die stad van die Here God. Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees. Vergelyk ook Jesaja 65:17-18 en Sagaria 8:20-23 en 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die OT en waarvan Openbaring die vervulling beskrywe. Hierdie is die vervulling van die OT ideaal van God wat ’n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ’n volk is nie. Dit was die ideaal van die Ou Verbond (Gen 17:7; Eks 29:45; Lev 26:11-12). Dit het die ideaal van die Nuwe Verbond gebly (Jer 31:33; Eseg 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê]). Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou God se woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ’n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie. Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor 5:17 skrywe!).
God maak alles nuut. Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl Je. 55:1). Eden is herstel. Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou. Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose driemanskap saam met die dood en die doderyk reeds is. Agt karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die NT is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafhartiges (dié wat bang geword het), ongelowiges (óf onbetroubares – dié wat ontrou geword het), losbandiges (seksuele perverte – 7de gebod), moordenaars (6de gebod), hoereerders (pornois – 7de gebod), towenaars (pharmakois – mense wat towerspreuke en dwelms gebruik), afgodedienaars (1ste en 2de gebod) en al die leuenaars (9de gebod). Hulle lot is vir ewig verweef met die vuurpoel, die tweede dood. Dit is die plek waar God in sy toorn is. En almal omring word deur die boosheid in al sy afgryslike glorie.
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Liztha Luttig
wat beteken Openbaring 22 vers 1-8 presies vir my in my lewe
Chris van Wyk
Water van lewe en genesing vloei uit die Nuwe Jerusalem
22:1Toe het die engel aan my ’n rivier van water wat lewe gee, gewys. Dit is helder soos kristal en het uit die troon van God en die Lam gevloei.
2In die middel van haar straat aan die een kant en die rivier aan die ander kant is die boom van die lewe wat twaalf keer vrugte dra; elke maand gee hy sy vrug, en die blare van die boom lei tot genesing van die nasies.
3Geen vloek sal daar meer wees nie. Die troon van God en van die Lam sal in haar wees en sy diensknegte sal Hom dien.
4En hulle sal sy gesig sien, asook sy Naam op hulle voorkoppe.
5Daar sal nie meer nag wees nie en die nodigheid aan die lig van ’n lamp en die lig van die son bestaan nie meer nie, omdat die Here God hulle sal verlig en hulle sal vir ewig as konings heers.
Die Nuwe Jerusalem word as ‘n paradys beskryf wat herinner aan die oorspronklike paradys, die tuin van Eden in Genesis 2.
Soos die vorige hoofstuk die impak van God uit die Nuwe stad Jerusalem – die metafoor vir die geloofsgemeenskap – op die omliggende nasies beskryf met die metafoor van LIG wat lewe gee, só beskryf Johannes op soortgelyke wyse die impak van God in hierdie hoofstuk met die metafoor van WATER so helder soos kristal, wat lewe gee.
Hierdie water loop soos ’n rivier uit die troon van God en die Lam en gee lewe asook genesing via die boom van die lewe wat by die rivier geplant is en via sy maandelikse vrugte en oorvloed blare genesing bring. Dit sluit baie nou aan by Esegiël 47 wat beide oor die stroom van water uit die heiligdom en die blare van die bome daar langsaan wat genesing bring, skrywe. Dit laat ‘n mens ook dink aan Psalm 1 se prentjie van die oorvloed wat iemand beleef wat na God luister en met ’n boom wat by watervore geplant is, vergelyk word.
In dié Utopia, hierdie Eden, sal daar geen vervloeking meer wees nie. In die grondteks staan daar: “Geen vloek sal daar meer wees nie.” In die konteks beteken dit dat God nie meer sal oordeel nie. Dit sal nie meer nodig wees nie, want almal sal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink en daarin en daaruit leef. Die vloek van die sondeval van Genesis 3 is opgehef.
Sy Naam sal op hulle voorkoppe geskryf staan. En hulle saam met Hom vir ewig as konings leef.
Die Here Jesus Christus kom verseker weer
6En die engel het vir my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en eg en die Here, die God van die geeste van die profete, het sy engel gestuur om aan sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”
7“En kyk, Ek kom gou!
Gelukkig is die een wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol bewaar.”
8En ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. En toe ek dit hoor en sien, het ek neergekniel in aanbidding voor die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het.
9En hy sê toe vir my: “Oppas, moenie! Ek is ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, die profete en van hulle wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Kniel voor God in aanbidding neer!”
Johannes sluit die boek af met ’n versekering van die Here Jesus Christus se spoedige wederkoms in ’n wisselspraak tussen die engel, die Here Jesus self, die Heilige Gees, die bruid, Johannes en die veronderstelde lesers van die boek Openbaring.
Dat die Here Jesus self drie keer dit herhaal, gee aan dié slotgedeelte ’n besondere krag: vers 7, 12, 20: “Kyk, Ek kom gou!”.
Dat die woorde van dié boek as betroubaar en eg geag word, soos die engel aan Johannes te kenne gee, gee besondere krag aan die oproep om gehoorsaam te wees. Trouens, Jesus se eerste belofte van sy wederkoms word as saligspreking daaraan verbind: “Geseënd is dié wat vashou aan die woorde van die profesie van hierdie boekrol.”
Soos in Openbaring 19 is die oomblik só groot vir Johannes dat hy weer die boodskapper probeer aanbid, maar word weereens gehelp om sy fokus op God te plaas, terwyl hy ook aangemoedig word om die woorde van die profesie wyd te versprei weens die spoedige aard daarvan in belang van die lewens van mense.
God sal ons beloon
10Hy sê toe ook vir my: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die tyd is naby.
11Dié wat kwaad doen, moet meer kwaad doen; wie vuil is, moet nog meer vuil lewe, en wie reg optree, moet nog meer reg doen, en wie heilig optree, moet nog meer heilig word.”
12“Kyk, Ek kom gou! En Ek bring my loon saam om elkeen te beloon, elkeen volgens sy dade.
13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.
14Gelukkig is dié wat hulle klere was sodat hulle volle reg sal hê op die boom van die lewe en om by die poorte van die stad in te gaan.
15Die honde word buite gelaat, ook die towenaars en die onsedelikes en die moordenaars en die afgodsaanbidders en elkeen wat die leuen liefhet en doen.
16Ek, Jesus, het my engel gestuur om aan julle hierdie dinge in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel en die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.”
Die woorde in vers 11 kan op twee maniere verstaan word, as ’n beskrywing van wat in werklikheid gebeur – sondaars hou aan met sondig, dié wat gehoorsaam is, groei in gehoorsaamheid – óf as ’n waarskuwing aan goddeloses dat hulle op ’n pad is wat na die verderf lei en omgekeerd ’n aanmoediging aan gelowiges dat hulle moet volhou op die pad wat na die volle gemeenskap met God lei.
Die beloning van die Here Jesus dui nie op ’n verdienstelike karakter van die wederkoms nie, maar op die sekerheid van die redding van diegene wat in ’n verhouding met Hom lewe wat loon sal insluit. Dit word gekontrasteer met dié wat nie deel van die stad sal hê nie – honde (seksuele perverte), towenaars, onsedelikes, moordenaars, afgodsaanbidders en leuenaars – ’n soortgelyke lys as wat in hoofstuk 21 gegee is.
Die Gees en die bruid sê: “Kom!”
17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”
En dié wat dors het, moet kom.
Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!
18Ek lewer getuienis teenoor elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor. As iemand hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae waarvan in hierdie boekrol geskryf is, byvoeg.
19En as iemand van die woorde van die boekrol van hierdie profesie sou wegneem, sal God sy deel van die boom van die lewe en van die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is, wegneem.
Die Gees en die bruid eggo die belofte van die Here Jesus se koms met die byvoeging dat daar nog genadetyd beskikbaar is vir dié wat dors het en luister. Hy is immers die Wortel en Nakomeling van Dawid (vgl Jes. 11:1), die helder Môrester (Num 24:17).
Johannes bevestig self oor die inhoud van sy boek dat dit gesagvol is, een van die redes waarom die boek uiteindelik in die kanon ingesluit is, komende van ’n apostel wat die Here Jesus op aarde geken het. Niemand mag hieraan verander nie, anders sal hy of sy nie net die plae wat in die boek beskryf is, ondervind nie, maar ook uit die Boek van die Lewe uitgeskryf word.
“Ja, Ek kom gou!”
20Hy wat getuig oor hierdie dinge sê:
“Ja, Ek kom gou!”
Amen! Kom, Here Jesus!
21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.
Die boek sluit met die derde belofte van die Here Jesus Christus dat Hy op pad is om terug te keer, waarop die kerk asof in ’n liturgie antwoord: “Amen! Kom, Here Jesus!”, asook ’n seënbede in die naam van die Here Jesus en sy genade.