Johannes 14:15-31 – As iemand my liefhet, sal Ons na hom toe kom en by hom woon
Johannes 14:15-31 – As iemand my liefhet, sal Ons na hom toe kom en by hom woon
15“As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. 16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. 17Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog ‘n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. 20Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. 21Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” 22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie?” 23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het. 25“Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. 26Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. 27Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou het Ek dit vir julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo. 30Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. 31Maar sodat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen soos wat die Vader aan My opgedra het, staan op, laat ons hiervandaan weggaan!”
Die voorafgaande beskrywing in vers 6 van Jesus as die “weg” na die Vader lei ‘n verstommende ryk en diepsinnige beskrywing van die Christelike lewe in. Elke sin en elke woord het betekenis. En dit is net in die nougesette “close reading” daarvan wat die evangelie hiervan vir jou begin oopgaan. Jesus begin in vers 15 met ‘n oorhoofse beskrywing van die Christelike lewe. Dit is diegene wat Hom liefhet wat sy opdragte uitvoer. Hoekom? Want Jesus wil hulle help om in dié liefde en gehoorsaamheid te groei. Hy wil hê dat hulle vir Hom lief sal bly, en dat hulle sal bly doen wat Jesus van hulle vra. Dit is waarom Jesus vir hulle die “ander Helper” (of Voorspraak) sal stuur (onthou Jesus is die eerste Voorspraak – 1 Joh 2:1). ‘n Mens kan hierdie woord Parakletos op verskillende maniere vertaal: Trooster, Helper, Pleitbesorger, Voorspraak of Advokaat. Soos ’n advokaat iemand in ’n hofsaak bystaan, bemoedig, troos en daarby sy saak bepleit en vir al sy belange sorg, so doen die Gees dit ook vir ons (vgl Rom 8:26-28). Hy help ons om ons liefde vir Jesus in ons gehoorsaamheid te bewys.
Die Here Jesus gee vir hulle ook ‘n belofte van sy eie teenwoordigheid. ‘n Mens moet hierdie belofte van Jesus goed verstaan. Hy belowe nie net die Heilige Gees as die “Ander Helper” nie. Hy belowe dat Hyself weer na hulle toe sal kom. Daarmee bedoel Hy dat Hy ná sy kruisdood aan hulle sal verskyn. Iets wat hulle vier dae ná hierdie gesprek beleef het. Maar, dit is nie al nie. Hy belowe dat Hy selfs ná sy hemelvaart, wanneer die wêreld Hom nie meer kan sien nie, by hulle sal wees. Meer nog: “Omdat Ek lewe, sal julle lewe”, sê Jesus, soos ‘n mens die einde van vers 19 ook kan vertaal. Trouens, nog dieper, hulle sal dan agterkom dat Jesus regtig in die Vader is, en hulle in Hom, en Hy in hulle. Dit is diep. Jesus belowe hiermee iets waaroor Paulus liries raak in Kolossense 3:1. Dit is, dat ons lewe in God verborge is saam met Jesus. Dat ons ‘n plek in die hemel het saam met Jesus. En dat Hy ‘n plek in ons sal hê, so naby, dat dit ons van binne af sal verander.
As Judas (Taddeus, nie Judas Iskariot nie – vgl Mrk 3:16-19; Matt 10:2-4) nie mooi verstaan waarom hierdie werklikheid van God se inwoning nie vir die hele wêreld sigbaar sal wees nie, omdat hy waarskynlik nog dink dat Jesus ’n Joodse Messias sal wees wat die Joodse volk van die Romeinse oorheersing sal verlos, dan antwoord Jesus hom dat nie net die Heilige Gees sal wees wat in hulle woon nie, maar die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees: “Ons sal na hom kom en Ons sal woning by hom maak.” Daar is waarskynlik nie ‘n intiemer beskrywing van die inwoning van God in ons as hierdie verse nie. Jesus beskryf hier ‘n besondere proses wat juis deur sy woorde in ons harte en lewens plaasvind. Hoe meer ons aandag gee aan Jesus se woorde (vers 21), hoe groter raak die ruimte binne in ons om die teenwoordigheid van God te akkommodeer (vers 23). Maar dit kan net gebeur as jy ‘n vaste voorneme het om in die eerste plek sy woorde ter harte te neem. As jy dit nie doen nie, as jy laks raak met jou lees van die Bybel, as jy begin onderskei watter woorde op jou van toepassing is en watter nie, dan beperk jy die ruimte van God in jou lewe. Dit is dán eers wat ons die volgende woord van Jesus ook ter harte kan neem en ons harte tot rus kan bring voor Hom. Dit is wanneer God se woorde ons menswees volmaak dat ons werklik vrede sal hê. Want, die Heilige Gees is die bron van die vrede wat Jesus vir ons gee wat ons ontsteltenis wegneem en gehoorsaam aan Hom laat bly, as skynende ligte van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld. Vrede kom wanneer ‘n mens gehoorsaam is aan die woorde van Jesus. Die onvrede raak meer wanneer ‘n mens die woorde van Jesus nie ter harte neem nie en nie gehoorsaam nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-1331-1431-julle-moet-mekaar-liefhe-soos-ek-julle-lief-gehad-het/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar