Skip to main content

‘n Teologiese hermeneutiek

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe ‘n mens die Bybel lees. Ek sluit ‘n paar gedagtes daaroor in hierdie bydrae in, sowel as ‘n bydrae: Hoe verstaan ek wat ek lees – Chris van Wyk.pdf wat ek onlangs by ‘n predikantekonferensie in die Goudland sinode gelewer het. Ook die bydrae oor Galasiërs: Geen Ander Evangelie – Paulus se brief aan die Galasiërs.pdf wat ek daar gelewer het.

Inhoud:

  1. Allegoriese en literêr-historiese lees
  2. Lectio Divina
  3. Lectio verander na Questio
  4. Terug na die Bybel met ‘n teologiese hermeneutiek
  5. Verklaar om te verstaan
  6. Nehemia en Esra
  7. Jesus as voorbeeld
  8. Filippus en die Etiopiese amptenaar
  9. Toets verstaan aan die geloofsgemeenskap

1. Allegoriese en literêr-historiese lees

In die breë was daar twee gedagterigtings in die vroeë kerk in die lees van die Bybel:

  1. Die allegoriese lees van die Bybel waarin die geestelike en Christelike betekenis van die teks belangrik was.  Die skool van Alexandrië was groot voorstanders hiervan met Clemens en Origenes (2de eeu) eksponente hiervan.
  2. Die literêr-histories lees van die Bybel waarin taal en die konteks ‘n groot rol gespeel het. Die skool van Antiochië met onder andere die bekende prediker Chrysostomus (4de eeu) was eksperte hierin.

Augustinus (4de eeu) het ‘n groot rol gespeel om ‘n sintese tussen dié twee gedagterigtings te bring, omdat hy geglo het dat ‘n regte verstaan albei metodes nodig gehad het.  Hy het verder geleer dat die sleutel wat dié twee metodes verenig, die liefde vir God en die naaste is, die eerste beweging na ‘n “lesers-perspektief” in die hermeneutiek.

Deur die lees van die teks beweeg die leser van die wêreld vóór die teks na die wêreld ín die teks en word die leser deel van die verstaan wat die teks in die leser wil bewerk.  En ‘n mens word deel hiervan deur die beweging wat die liefde vir God en vir die naaste in ‘n mens aan die gang sit via die teks.

2. Lectio Divina

In die Middeleeue het dié tipe lees in die kloosterskole tot die bekende Lectio Divina (Goddelike lees) gelei.  Dit het die volgende stappe ingesluit:

  1. Lectio (lees) – gefokus op die taal, styl en konteks van die oorspronklike Bybelteks;
  2. Meditatio (nadenke) – gefokus op die praktiese betekenis van die Bybelteks;
  3. Oratio (gebed) – gefokus op gesprek (oratio=praat) met God as antwoord op die Bybelteks;
  4. Contemplatio (stilwees) – gefokus op die bewussyn van die teenwoordigheid van die lewende God.

In hierdie tydperk het ook ‘n viervoudige eksegetiese (hermeneutiese) metode ontwikkel wat die verskillende metodieke wat gefokus was op die letter van die teks en dié wat gefokus was op die gees van die teks, gekombineer het.  Die metode het onderskei tussen:

  1. Die letterlike betekenis (sensus historicus) van die Bybelteks wat ‘n verklaring aangebied het vir die direkte teksuitsprake – gefokus op die oordrag van inligting;
  2. Die allegoriese betekenis (sensus allegoricus) wat die Bybelteks verduidelik het in terme van die dogmatiese inhoud van die kerkleer – gefokus op dogmatiese vorming;
  3. Die morele toepassing van die teks (sensus moralis) op die individuele leser – gefokus op morele vorming;
  4. Die mistiese betekenis (sensus anagogicus) wat die beloftes en dieper metafisiese en eskatologiese kennis en implikasies van die teks uitgelig het – gefokus op geestelike vorming.

‘n Soortgelyke viervoudige kategorisasie is ook gevind in die Rabbynse geskrifte, die sogenaamde Pardes eksegetiese metode. Die vier stappe was:

  1. Peshat (eenvoudige verklaring),
  2. Remez (implikasies),
  3. Derash (interpretasie – Midrashim, wat die teks vir verskillende kontekste relevant gemaak het [Bv die sewe reëls van Hillel – Eerste reël: begin met die makliker sake en beweeg op die basis daarvan na die moeiliker sake), en
  4. Sod (geheime en mistiese betekenisse).

In wese is die eerste twee kategorieë gefokus op die normale teksbetekenis vir gewone lesers en die laaste twee kategorieë op die verborge betekenis vir spesialiste met dieper kennis, wat ooreengekom het met die vroeë kerk se metodes.

Natuurlik was dit ook die tyd waar ongeletterdheid nog wyd verspreid was en die kerk gelowiges gehelp het om die Bybel te “lees” deur die liturgie en die kunste (beelde, gebrandskilderde glas, frescos ensovoorts).  Die Bybel is só “gelees” deur die verbeelding van gewone gelowiges.

3. Lectio verander na Questio

‘n Belangrike skuif in die manier van Bybellees het egter gekom met die ontwikkeling van die katedraalskole (sedert Karl die Grote in die 9de eeu) en later die Middeleeuse universiteite, wat tot vandag toe nog ‘n invloed het.   Dit word die skolastiese metode van Bybellees genoem.

Drie prosesse kan onderskei word in die wyse waarop die katedraalskole die Bybel gelees het:

  • GLOS – eksegetiese notas is in die kantlyne van die Bybeltekste gemaak soos dit gekopieer is, wat gelei het tot ‘n korpus van eksegetiese tradisies wat al hoe belangriker geword het in die interpretasie van die Bybel.
  • DIALEKTIEK – ‘n nuwe (of oud as ‘n mens in terme van die Griekse filosowe Sokrates, Plato en Aristoteles dink!) onderrig metode is ontwikkel wat op argumentasie en logika gebaseer was wat ‘n kritiese intellektuele lees van die teks ingelei het wat interessant genoeg ‘n meer publieke debat gebaseer op ‘n nougesette vraagstelling aan die teks ingesluit het op soek na meer logiese en sistematiese teologiese en veral dogmatiese antwoorde.
    • ‘n Skuif het dus plaasgevind van ‘n lees (lectio) van die Bybel uit liefde vir en in verhouding met God na ‘n gebruik of bevraagtekening (questio) van die teks as bron van teologiese leerstellings.
    • Daarmee saam is die derde stap in die Lectio Divina ook verander van gebed (private oratio) na debat (publieke oratio).
  • GENOMMERDE HOOFSTUKKE – Die teks van die Vulgaat, die amptelike Bybel van die Roomse Katolieke Kerk in Latyn, is verdeel in hoofstukke deur Stephen Langton, ‘n professor van Parys, en later ook in verse deur Robert Estienne, ‘n Franse uitgewer, wat verwysings na die Bybel makliker as tevore gemaak het. Maar dit het natuurlik ook tot gevolg gehad dat mense die Bybel anders gesien en hanteer het as te vore.  In plaas daarvan dat die Bybel (of ‘n boek in die Bybel) in die eerste plek as ‘n geheel gelees is, kon mense nou makliker fokus op individuele verse om sekere dogmatiese punte te beklemtoon.

Die bevraagtekening van die teks ter wille van ‘n eie agenda in plaas van die lees van die teks vanuit ‘n verhouding met God, sowel as die meer publieke debat oor die teks in plaas van die meer private gebedsantwoord op die teks, is verder gevoer in die eerste Middeleeuse universiteite wat gestig is om onafhanklik te wees van die klooster- en katedraalskole.

Dit het gelei tot drie ander ontwikkelings in die lees van die teks in die verskillende Ordes van die Rooms-Katolieke (Westerse) kerk (Bv die Franciskane en die Dominikane):

  • EIE SKOLE IS GESTIG – Die verskillende Ordes het hulle eie skole, seminariums en fakulteite begin, naby aan of as deel van die universiteite om die prediking van die evangelie te bevorder, maar vanuit hulle eie perspektiewe. Hulle het ‘n diep respek vir geleerdheid sowel as hulle eie agendas gehad wat tot ‘n tipe dubbelvisie gelei het.
  • POSTILLA – Hulle het ‘n spesiale glos ontwikkel, een wat vir predikers en prediking bedoel was, met eksegetiese notas en kort kommentare, wat eers tussen die lyne van die Bybelteks geskrywe was en later as aparte postillas (bylaes) gepubliseer is.
  • GEEN BYBELS AAN DIE MASSAS – Die Dominikane het spesifiek ook geweier dat die Bybel in die gewone tale vertaal word, omdat hulle bang was dat gewone mense die Bybel verkeerd sou interpreteer.

4. Terug na die Bybel met ‘n teologiese hermeneutiek

Die Hervorming het hierin ‘n groot verandering gebring.  Dirkie Smit onderskei vier prosesse (2006:38-43):

  • AD FONTES – Die slagspreuk was: terug na die oorspronklike tekste (fontes=bronne) van die Bybel – dit het gelei tot die verskillende vertalings van die Bybel in die onderskeie tale van die tyd.
  • GESAG LÊ IN DIE BYBEL SELF – Die Hervorming het in sy terugbeweeg na die grondteks van die Bybel ook erken dat die gesag in die verstaan van die Bybel, in die eerste plek lê in dit wat die Bybel self sê. Dit het die Hervormers natuurlik in konflik gebring met die amptelike kerk vir wie gesag in hulle eie interpretasie van die Bybel gelê het.
  • DRUKPERS – Gutenberg se uitvinding van die drukpers (1440) het beteken dat die Bybel en ander geskrifte baie makliker en ook goedkoper versprei kon word.
  • BYBEL VIR DIE MASSAS – gewone mense kon nou die Bybel in hulle eie tale lees en hulle verbeelding, hulle wêreldbeeld, hulle idee van die lewe, die taal en idiome wat hulle gebruik het, is nou deur die Bybel self gevorm. Die Bybel het die lens geword waardeer alles waargeneem is.  ‘n Mens kan selfs sê dat hulle nie die Bybel geïnterpreteer het nie, maar dat die Bybel hulle geïnterpreteer het!

In terme van die hermeneutiek vir die interpretasie van die Bybel het Calvyn gekies vir ‘n teologiese hermeneutiek, wat vir hom beteken het, dat die Bybel die stem van die lewende God was (Smit 2006:47-53).

In aansluiting by die lesersperspektief van Augustinus het Calvyn met twee basiese betekenisvlakke van die Bybelteks gewerk:

  • SIMPLEX SENSUS – die gewone betekenis van die Bybelteks (simplex sensus), met deeglike aandag aan die historiese agtergrond, grammatiese kwessies, genres, kommunikasie strategieë in die teks, retoriese analises ensovoorts.
  • USUS – die praktiese betekenis van die teks (usus), wat fokus op die betekenis van die teks vir vandag, wat kon lei tot normatiewe, formatiewe en transformatiewe betekenisse in al hul ryke kompleksiteite.Met dié perspektief het hy bevestig:
    • dat die Bybel die lewende stem van God is;
    • dat, hoewel hy afwysend was teen ‘n mistiese lees van die Skrif, ‘n ware verstaan afhanklik is van die erkenning van en biddende vertroue op die Gees se beweging in gelowiges; die Gees en die Woord is immers onafskeidbaar;
    • dat die Bybel tegelykertyd:
      • God se beloftes aan ons is (promissio),
      • Sy riglyne vir ‘n heilige lewe (regula) en
      • Sy onderrig vir die toekoms deur formasie (institutio [bevestig] en transformasie (eruditio [afgeronde deurleefde kennis]).

5. Verklaar om te verstaan

Hoe behoort ons dan die Bybel te lees?

Uit die oorsig van leesmetodes, kan ons die volgende riglyne aanstip:

  • LECTIO – Ons behoort die Bybel deeglik te lees en te herlees met alle hulpmiddels tot ons beskikking totdat ons ‘n genoegsame verklaring van die teks (simplex sensus) in terme van die taal en stylfigure (die wêreld van die teks) en die historiese agtergrond en konteks van die Bybel (die wêreld agter die teks) het wat ‘n verantwoorde basis vir verstaan gee, al verskil dit (soms radikaal) van ons eie.
  • USUS – Ons behoort die Bybel te lees met die oog daarop om die lewende stem van God daarin te hoor in terme van ons praktiese (usus) Christenskap, God se beloftes aan ons, ons geloofsvorming en die transformasie van ons lewe en wêreld, binne ‘n hermeneutiek van waardering en vertroue.
  • ORATIO – Ons behoort die Bybel te lees met die oog daarop om in praktiese gehoorsaamheid met ons hele lewe op God se stem te reageer in gebed (oratio) en gedrag, binne ‘n hermeneutiek van betrokkenheid en verantwoordelikheid.

Salomo het iets van laasgenoemde verstaan.  God het vir hom in ‘n droom enigiets aangebied wat hy sou vra.  Hy het vir לֵב שֹׁמֵעַ, “‘n horende hart” gevra (1 Kon 3:9), of soos sommige vertaal “a discerning heart” (NIV) om tussen goed en kwaad te kan onderskei.  Hy wou nie net baie weet en baie dinge kon verklaar nie. Hy wou vir God en sy Woord, sy volk en hulle konteks só goed verstaan, dat hy van binne af, uit sy hart uit, kon stil word, luister, verstaan en vandaar af met oorleg leef.

Dit het die Here so beïndruk dat Hy daarmee saam ook vir hom wysheid en insig, groot rykdom en aansien en ‘n lang lewe gegee het.

6. Nehemia en Esra

Een van die min plekke in die Bybel waar ons iets van ‘n tipe hermeneutiese leesproses kan naspeur, is in die verhaal van Nehemia en Esra (Nehemia 8).  Met die voltooiing van die muur na die terugkeer uit ballingskap, het die volk van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan (בִּין) wat die wil (תֹּורָה) van die Here is sodat hulle dit kon doen (Neh 8:2).  En as Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste lang(!) voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers, priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak. Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees (קָרָא) van die teks,
  2. die verklaring (פָּרַשׁ) daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan (שֶׂכֶל),
  4. totdat die volk dit verstaan het (בִּין) (:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het. Hulle het regtig verstaan!

7. Jesus as voorbeeld

Dit is immers hoe Jesus ook gefunksioneer het.  Jesus word in die Nuwe Testament by uitnemendheid as die hermeneut geteken, die een wat tot werklike verstaan begelei, wat harte en ook verstande oopmaak om te kan verstaan.

Dit sien ‘n mens al reeds in die tallose gelykenisse wat Hy gebruik het om met mense te praat oor die dinge van die koninkryk van God.  Maar telkens moes Hy die betekenis daarvan egter ook weer verder verduidelik aan sy dissipels op hulle versoek.  Hulle vra byvoorbeeld vir Hom ná die vertelling van die gelykenis van die Saaier, “Verduidelik (φράζω) tog vir ons …” (Matt 13:36).

Nie dat die dissipels die verduideliking altyd goed verstaan het nie, veral nie die dinge aangaande sy kruisdood nie.  Daarom het Jesus ná sy opstanding steeds tyd spandeer om sy dissipels te laat verstaan. In die verhaal van Kleopas en sy vriend (of vrou) op pad na Emmaus, vertel Lukas ons: “Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Luke 24:27).  Die woord wat hier vir uitlê gebruik word, is διερμηνεύω (di-hermeneuo).  Dit is dan ook dié woord wat die stam van ons woord vir hermeneutiek vorm.

Interessant genoeg, verbind Jesus hulle gebrek aan verstaan aan hulle gebrek aan geloof in die Skrifte: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees (letterlik: hart!)! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?”(:25).  Dit beklemtoon dat verstaan iets is wat nie net afhanklik is van verklaring nie, maar altyd ook ‘n geloofswerklikheid is, iets wat in verhouding met God self gebeur.

Daarby het verstaan met ons hele menswees te make.  In die Emmaus-gangers se reaksie op die uitleg wat Jesus gee, raak hulle opgewonde oor die feit dat Jesus die Skrif vir hulle oopgemaak het (διανοίγω) en sê: “Het ons harte nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (:32).

Maar as Jesus net hierna ook die Skrifte uitlê vir die res van die dissipels, dan sê Lukas dat Jesus hulle verstand (νου̂ς) oopgemaak het (διανοίγω) om die Skrifte te verstaan (συνίημι) (:45).

Verstaan is dus nie net ‘n saak van die regte verklaring nie.  Dit gebeur onder begeleiding, dit is afhanklik van die werk van Jesus deur die Gees, dit betrek hart en verstand, dit gebeur binne ‘n geloofsverhouding, dit gebeur nie onafhanklik van die ander gelowiges nie (Fil 2), en dit het selfs met die toewyding van ons liggaam te make, soos Paulus in Romeine 12:1 daaroor skrywe.

8. Filippus en die Etiopiese amptenaar

Ons lees ook hiervan in die verhaal van Filippus en die Etiopiese finansiële amptenaar, in vandag se terme, hul minister van finansies.

Die Etiopiese minister van finansies was op reis terug van Jerusalem af (Hand 8:26-40). Hy het God daar gaan aanbid.  Op die eensame pad na Gasa was hy nou besig om Bybel te lees.  Die boek Jesaja was oop op die wa, maar hy kon nie verstaan wat hy lees nie.

Dan reël die Gees ‘n ontmoeting met die evangelis en “diaken” Filippus.  Sy intree-vraag aan die Etiopiese amptenaar bly relevant tot vandag toe nog: “Verstaan jy wat jy lees?” (:30)

Deur ‘n interessante woordspel op die woord γινώσκω (verstaan) in die oorspronklike Griekse vraag: γινώσκω ἀναγινώσκω (verstaan jy wat jy lees), wys Filippus hoe verstaan gebaseer is op, maar nie gelyk is aan lees nie.

Die antwoord van die amptenaar is netso relevant.  “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” (:31) antwoord hy vir Filippus.   Die woord wat hy gebruik vir “uitlê” is ὁδηγέω, wat beteken om te “lei” of “begelei” (soos ‘n gids).  En dít is presies die tipe begeleiding wat Filippus vir hom gee.

Hy klim saam met die amptenaar op die wa en begin ‘n lewensveranderende reisgesprek met die amptenaar.  Hy sluit aan by die vrae wat die amptenaar het oor die lees van die teks (Jes 53:7-8) en beweeg daarvandaan na die evangelie van Jesus Christus.

Maar die beste kom nog!  Dit is gou duidelik dat wat as verklaring begin oorgaan in verstaan.  Die amptenaar vra, wat verhinder dat hy gedoop word …  en met ‘n eenvoudige geloofsbelydenis klim Filippus en hy by ‘n riviertjie af en hy word in die koninkryk van God ingedoop.

Die minister van finansies is begelei om te verstaan wat hy lees en die boodskap van die teks vir homself toe te eien.  En dit is dié toe-eiening wat van verklaring verstaan maak.

Ons leer dus uit die verhaal dat die kerk nooit tevrede kan wees nét met ‘n verklaring van die Skrif nie.  Verstaan hang nie net af van die gebruik van die regte metodes van verklaring nie, al is dié metodes ook hoe verantwoord.  Dit sal nooit genoeg wees om net die verklaring van ‘n teksgedeelte te hoor sonder om nie ook die belofte en die krag en die oortuiging wat die teksgedeelte bring te ervaar nie.

Laasgenoemde is die tipe verstaan wat die geloof in ‘n lewende God van ‘n lees van die Bybel verwag, ‘n verstaan wat Calvyn ‘n teologiese hermeneutiek genoem het.  In filosofiese terme: daar moet ‘n “fusing of horizons” (Gadamer) wees, waar die wêreld van die teksgedeelte die wêreld van die leser ontmoet en daar ‘n versmelting, ‘n verstaan gebeur.

9. Toets verstaan aan die geloofsgemeenskap

Uit resente navorsing oor die hermeneutiek, is daar ‘n groeiende konsensus dat lesers meer indra in die verstaansproses van ‘n teks, as wat geleerdes in die verlede gedink het.  Dit is ook waar van wetenskaplike navorsing – alle feite word gekleur deur die teorie waarmee dit ontdek of waargeneem word – en ook waar van historiese navorsing – alle uitbeeldings van die geskiedenis is ook maar net dit, uitbeeldings van die geskiedenis en nie gelyk te stel aan wat werklik gebeur het nie.

In die resepsie hermeneutiek word byvoorbeeld al hoe meer studies gedoen om agter te kom hoe verskillende groepe mense dieselfde teks verstaan.  Daaruit begin dit duidelik word dat “lesings nie soseer te make het met wat die teks beteken nie, maar met die betekenis wat lesers daaraan toeken – en dit kan radikaal verskil … Lees is nie daarop uit om betekenis te vind wat as’t ware reeds in die teks aanwesig is nie, maar om nuwe betekenis te maak met behulp van die teks” (Smit 2006:80).

Omdat ons lees dus altyd tegelyk eksegese (uitleg) én eisegese (inleg) is, of dit nou die letterlike én allegoriese uitleg van die vroeë kerkvaders is en of dit nou Calvyn se simplex sensus én usus is, die blywende vraag vir Bybellees is: “Hoe kan ons in die lig van ons uitleg- en inlegkunde die Bybel verantwoordelik lees?”

Ons behoort daarom die Bybel ook te lees met ‘n gesonde hermeneutiek van suspisie, in die eerste plek gemik op ons eie (moontlike mis)verstaan, maar ook op ander se (moontlike wan)interpretasies (geleerdes noem dit die wêreld onder die teks), omdat alle eksegese uit ‘n lesersperspektief ook eisegese bevat. Ons moet sensitief wees vir die rol wat belange (Marx), van watter aard ook al, kan speel.  Ons moet rekening hou met die onbewuste (Freud) en die rol van mag (Nietzsche) en die retoriek van en kommunikasielyne in die teks sowel as in ons verstaan daarvan (Byvoorbeeld: wie sê wat aan wie en hoekom? ) (Smit 2006:86).

Om dit effektief te kan doen, is die volgende drie riglyne belangrik:

  • IN DIE GEMEENSKAP VAN GELOWIGES – Ons behoort die Bybel te lees saam met ‘n verskeidenheid ander gelowiges, waarin ons probeer om regtig te verstaan hoe ander die teksgedeelte hoor, om te voorkom dat ons tevrede is net met een perspektief (ons eie) wat maklik tot ‘n kettery of ‘n ideologie kan lei.
  • MET KENNIS VAN ANDER TRADISIES – Ons behoort ook deeglik kennis te neem van die interpretasie van die Bybel deur die eeue en die kommentaar wat in die verskillende tradisies daarop gelewer is, ook dié tradisies waarvan ons verskil, want ons is nie die eerste gelowiges wat die Bybel lees nie (die wêreld voor die teks).
  • IN ‘N VOORTGAANDE PROSES – Ons behoort nooit op te hou om te luister na die Bybel nie! Dit is juis in die voortgaande lees van en nadenke (meditatio) oor die teks saam met ander wat ons verstaan breër en dieper word, wanopvattings reggestel word, insigte bevestig word en die impak van die teks groter word.  En dan gebeur die wonder dat ons lees van die Bybel uitmond in ‘n verstaan wat ware gemeenskap met God (contemplatio) moontlik maak.

Verwysings

Conradie, E M & L C Jonker 2001 Angling for Interpretation. A guide to understand the Bible better. Study Guides in Religion and Theology 4.  Publications of the University of the Western Cape. Salty Print: Bellville.  Revised version of the first part of Fishing for Jonah(1995).

Conradie, E M & L C Jonker, D G Lawrie, R A Arendse 1995 Fishing for Jonah. Various approaches to Biblical interpretation.  Text and Context 6.  Publications of the University of the Western Cape: Bellville.

Smit, D 2006 Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan.  Lux Verbi.BM: Wellington.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hermeneutiek


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar