Lukas 15:11-32 – God se Vaderhart is vol barmhartigheid
Lukas 15:11-32 – God se Vaderhart is vol barmhartigheid
11Verder het Hy gesê: “’n Man het twee seuns gehad. 12Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel. 13Nie lank daarna nie het die jongste seun al sy goed in geld omgesit en na ‘n ver land gereis, en daar alles wat hy besit het, deur sy losbandige leefwyse verkwis. 14Teen die tyd dat hy alles uitgegee het, het daar ‘n baie ernstige hongersnood in daardie land uitgebreek, en hy het begin gebrek ly. 15Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas. 16Hy het gewens dat hy sy honger kon stil met die peule wat die varke gewoonlik gevreet het, maar niemand het vir hom daarvan gegee nie. 17“Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! 18Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. 19Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ 20Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. 21Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ 22Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou ‘n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom ‘n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. 23Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, 24want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier. 25“Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en ‘n gedans. 26Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. 27‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’ 28Hy het briesend kwaad geword en wou nie ingaan nie, maar sy vader het uitgekom en mooi met hom gepraat. 29Maar hy het vir sy vader gesê, ‘Kyk, ek sloof my al soveel jare vir u af, en het nog nooit ‘n opdrag van u verontagsaam nie, en vir my het u nooit eers ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende kon feesvier nie. 30Maar toe hierdie seun van u terugkom, wat u besittings op prostitute uitgemors het, slag u vir hom die vetgemaakte kalf!’ 31Toe sê hy vir hom, ‘My kind, jy is altyd by my, en alles wat myne is, is joune. 32Ons moet feesvier en bly wees, want jou broer was dood, en hy het lewendig geword. Hy was verlore, en is weer gevind!’ ”
Die jongste seun in die gelykenis van die Verlore Seun is die wêreld in om te gaan soek na geluk en sin in sy lewe. Hy gaan op soek na die dinge wat hy, tragies genoeg, reeds in die vaderhuis het, maar nie raaksien nie. Hy gaan soek vreugde, sekuriteit, liefde, sy plek in die lewe, kortom: hy gaan soek ‘n “home away from home!” Daarvoor eis hy sy deel van die erfporsie op – waarskynlik ‘n derde deel, aangesien twee-derdes na die eersgeborene, die oudste broer, sou gaan (Deut 21:17) – en gaan soek geluk in die wye wêreld nadat hy die erfporsie in geld omgesit het. Hy verkwis egter al sy besittings deur losbandig te lewe. Die jongste seun eindig dus, onder andere ook weens ‘n groot hongersnood, en die gebrek wat hy begin ly, tussen die varke. Van die grootste vernederings denkbaar vir ‘n Jood, want varke was as onrein gereken (Lev 11:17). Die man wat hom gehuur het, het hom daarby sleg behandel, sodat hy steeds honger gely het, en nie eers sy honger kon stil met die peule (van die karob boom) wat vir die varke gegee is nie. Dan kom daar ‘n wending by hom. Lyding het ‘n manier om ‘n mens tot jouself te laat kom, en jou fokus reg te kry! Hy dink by homself dat sy pa se dagloners beter af is as hy. Hulle het ‘n oorvloed kos en hy vergaan van die honger. Die jongste seun besluit daar en dan om huis toe te gaan, sy sonde teen die hemel (God) en sy pa te bely. Hy is bereid om sy kindskap te laat vaar, en net as ‘n dagloner behandel te word. Die jongste seun voeg die daad dan by die woord.
Dan gebeur die wonder. Die vader sien sy seun toe hy nog “ver weg” was, kry hom “innig jammer” en hy “hardloop” hom tegemoet. Dit lyk asof hy die hele tyd vir hom gewag het. Onthou ook dat vir ‘n Midde-Oosterse vader om na sy seun aangehardloop te kom, ongewoon was en eintlik ‘n bietjie onwaardig. Die vader se vreugde oorskry egter alle grense van sy waardigheid. Die seun word ook nie kans gegee om sy skuldbelydenis te voltooi nie. Hy kom nie eers uit by die deel dat hy soos ‘n dagloner behandel wil word nie. Die pa se aanvanklike omhelsing en soen is die teken van versoening. Die kleed, ring en skoene herstel sy status as kind. Daarom word die vetgemaakte kalf geslag vir ‘n fees. Want, sy seun was vir alle praktiese doeleindes dood. Dit het nou alles verander. Hy het as’t ware uit die dood uit opgestaan. Maar, daar was ook die tweede seun, eintlik ook verlore, al was hy nog by sy pa se huis. Hy was in die veld, waarskynlik besig om te werk, en met sy tuiskoms het musiek en gedans ‘n groot feesviering verklap. Hy het by ‘n dienskneg probeer uitvind wat aan die gang is, maar die nuus dat die fees vir sy verlore broer gehou is, het hom net kwaad gemaak, soveel so, dat hy nie eers wou ingaan by die huis nie. Sy pa se pleitrede dat hy die fees moet kom bywoon val egter op dowe ore. Soos die Fariseërs van sy tyd het hy so gefokus op die nakom van sy eie reëls – hy het gewerk sonder om enigiets te geniet van wat sy deel was as deel van die vaderhuis – dat hy selfs die vreugde van sy pa oor sy verlore broer misken. Let op hoe hy hom so versit teen sy verlore broer wat terugkom dat hy hom aan die einde van die verhaal buite die huis bevind, selfs al sê sy pa vir hom dat hy vir hom kosbaar is, en dat alles wat die pa s’n is – die tweederdes wat oor is – syne is. Die pa se oproep aan die tweede broer dat hy saam met hulle almal moet feesvier en bly wees, was uiteraard ook gerig aan die Fariseërs en skrifkenners wat na hom geluister het. Jesus nooi hulle ook uit om bly te wees oor die bekering van die sondaars en tollenaars wat daar na Hom sit en luister het. Want hulle was soos hierdie jongste broer wat dood was en nou lewend geword, het. Hulle was verlore, en nou is hulle gevind.
Die pa se reaksie openbaar God se Vaderhart as ’n hart vol barmhartigheid wat geen grense ken nie. Hy sal soos in die eerste gelykenis van die verlore skaap alles doen om die verlore een te gaan haal en terug te dra tot by die ander. Hy sal oral soek in die huis soos die vrou in die tweede gelykenis totdat die verlore muntstuk gevind is en die getal muntstukke weer volledig is. En Hy aanvaar soos die pa in die derde gelykenis die verlore seun nog voordat hy terug is by sy pa. Daarom dat Thielicke in sy bekende preek praat van die “wagtende vader”; dat hy elke dag aan sy verlore kind gedink en oor hom gedroom het; dat hy so volledig ingestel was op hom, so besig was om te dink oor sy seun en sy lotgevalle, dat toe die seun uiteindelik sy opwagting maak, hy eenvoudig heeltemal anders optree as wat daar in sy tyd van iemand soos hy verwag is; hom tegemoetgehardloop en met ope arms terug verwelkom het in die huis.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-141-1532-god-het-n-hart-vir-verlorenes/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar