Skip to main content

2 Korintiërs 5:11-21 – As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping

26 Maart

2 Korintiërs 5:11-21 – As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping

11Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees. 12Ons is nie weer besig om onsself by julle aan te beveel nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teen dié wat hulle op die uiterlike voorkoms beroem, en nie op wat in die hart is nie. 13As ons buite onsself is, is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle. 14Die liefde van Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; 15en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is. 16Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. 17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 18En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. 19Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. 20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! 21Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

In die eerste deel van hoofstuk 5, vers 1-10, het Paulus geskryf oor die verlange na ons ewige woning in die hemele. Die hoop op die ewige lewe is die dryfveer om in alles die Here te behaag, want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. Dan fokus Paulus in die tweede deel, vers 11-21, op die feit dat hierdie hoop so werklik is dat hy en sy medewerkers alles in die stryd werp om mense te oortuig om in ontsag vir die Here te lewe. Want, die liefde van Christus vir hierdie wêreld wat Hy gedemonstreer het in sy plaasvervangende sterwe vir sondaars, is die boodskap wat alle mense moet hoor. Trouens, dié wat deur daardie liefde aangeraak word, word in Christus ‘n nuwe mens, ‘n nuwe skepping. Die “ou dinge” van hierdie lewe gaan verby. Dit word alles nuut, want hulle binnekant is in Christus reeds deel van God se nuwe skepping vóór die volle werklikheid daarvan ook fisies en liggaamlik gaan aanbreek!

Daarom kyk Paulus met ander oë na mense en nooi hy ons uit om dieselfde te doen. Dit is van min, indien van enige waarde, wat jy van iemand na sy uiterlike kan raaksien. Al wat tel, is wat innerlik gebeur en hoe dit uitspeel in iemand se lewe. Paulus gebruik Christus as voorbeeld. Daar is ‘n groot verskil om Hom van buite na sy uiterlike te ken (selfs al bewonder jy Hom), en om “in Christus” te wees, dws wanneer Hy sy intrek in ons hart en lewe inneem en Hy jou binnekant nuut maak. Dit is net wanneer ons “in Christus” is wat ons verhouding met God heeltemal herstel word, en ons die sekerheid van verlossing kry deur die inwoning van die Gees. Daarom kyk ons ook nou na onsself en na mekaar uit die hoek van ons “in Christus”–wees en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

Elkeen wat daarom hierdie wonderlike werklikheid beleef dat hulle in Christus ‘n nuwe skepping geword het, kan nie anders as om hierdie boodskap aan alle mense te gaan verkondig nie. Ons is versoen met God en het nou die bediening van die versoening ontvang ook as boodskap vir hierdie wêreld. Ons is nou gesante of ambassadeurs van God se versoening in hierdie sondige wêreld. Ons tree daarom aan die een kant op “ter wille van Christus” – dws om sy boodskap aan die wêreld te bring, maar aan die ander kant met volle gesag. Dit is “asof God self” deur ons ‘n beroep op mense doen: “Laat julle met God versoen!” Christus het vir ons immers die grootste geskenk gegee: “sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.” Daarom, soos Paulus in die volgende hoofstuk gaan sê: “As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie!” Want God sê deur ons aan alle mense: “Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing!” (aangehaal uit Jes 49:8)

Lees meer: https://bybelskool.com/2-korintiers-511-613-ambassadeurs-van-die-versoening/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.