Kolossense 1:15-29 – God se krag werk met mag in ons
Kolossense 1:15-29 – God se krag werk met mag in ons
15Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping; 16want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. 17Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. 18Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; 19want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, 20en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. 21Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; 22maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – 23mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het. 24Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die kerk, 25waarvan ek ‘n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. 26Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. 27God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. 28Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. 29Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.
Vers 15-20 was waarskynlik ‘n lied wat die geloof van die vroeë kerk verwoord het. Dit is in twee parallelle strofes opgedeel: vers 15-17 (skepping) en vers 18-20 (herskepping), waarin dieselfde sake besing word, telkens uit ‘n ander hoek (skepping/herskepping): die wese/oorsprong van die Seun, sy status (Eersgeborene) en werk in die hele kosmos, sowel as in die kerk, en sy versoenende rol in hemel en op aarde. Hiermee poog Paulus om die verkeerde idees – oor die okkultiese en astrologiese beginsels, sowel as die aanbidding van engele, asketiese gebruike, en Joodse voorskrifte – wat onder hulle begin posvat in die kiem te smoor. Let op dat Paulus daarteenoor bely dat die sigbare en onsigbare wesens, trouens alles wat bestaan, deur God geskep is. Hulle kan daarom nie voorwerpe van aanbidding wees nie.
Daarom roep Paulus hulle op om vas te bly staan in die geloof en hulle nie te laat losruk van die hoop op verlossing, soos wat nou kon gebeur deur die mense wat hulle met verkeerde idees mislei. Paulus praat hier nie net van die vervolging wat hulle verduur nie. In die grondteks van vers 24 staan “lyding en verdrukkinge”, dws meer omvattende dinge as net vervolginge. Hierdie lyding en verdrukkinge is dinge wat Christus sou ervaar het as Hy nou nog hier was as mens. In ‘n sekere sin is alle lyding wat Paulus dus ervaar, ter wille van Christus. En die omgekeerde is ook waar. Alle lyding wat Paulus ervaar – omdat Hy in Christus glo en aan Hom getrou wil bly – is dinge wat aan Christus gedoen (sou) word. Dit is waarom Paulus daaroor kan bly wees, want dit is dinge wat Hy ter wille van Christus ervaar, en dinge wat hy namens Christus ervaar.
Let op hoe Paulus van die evangelie praat as ‘n geheimenis wat God nou in Christus geopenbaar het. Daarmee vat hy natuurlik alreeds die idee aan dat daar geheimenisse is waarin ‘n mens nog ingelyf moet word om regtig geestelik te raak. Die evangelie gaan nie oor dinge wat ons nog moet leer nie, maar oor dinge wat reeds oopgemaak is vir ons in Christus en wat al hoe meer deel van ons lewe moet raak. Want dít is die geheimenis: Christus is IN julle. Die Een wat op so ‘n integrale manier by die Skepping en Herskepping betrokke was, is IN ons besig om God se werk te voltooi. En dit is ‘n boodskap wat vir alle mense is, en wat alle mense moet hoor.
Dan vervolg Paulus om oor sy bediening te skrywe. En ek moet sê, ek wonder baie keer hoe Paulus dit reggekry het om in 14 jaar die hele bekende wêreld van daardie tyd met die evangelie te kon bereik. Onthou, daar was nie vervoer soos vandag nie. Jy moes stap waar jy wou wees. En daar was nie die kommunikasie middele van vandag nie. Jy kon nie eers ‘n traktaatjie uitdeel nie, praat nie eers van ‘n e-pos skryf of ‘n Whatsapp stuur nie! Tog het hy met groot impak die wêreld ingevaar met die evangelie, ‘n werk wat die basis gevorm het van die groei van die Christendom, die vrugte waarvan die toets van die tyd deurstaan het. Ek dink een deel van die geheim van Paulus se effektiwiteit lê in vers 29. Paulus het gewerk met die energie wat God hom gegee het. Die NIV vertaal dit as volg: “To this end I labor, struggling with all his energy, which so powerfully works in me.”Struggling with all his energy. Dit is ‘n mondvol! En ‘n belofte wat jy vir jouself kan toeëien, want dieselfde krag werk ook “met mag” in jou.
Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-115-23-jesus-die-here-van-die-skepping-en-die-herskepping/ en https://bybelskool.com/kolossense-124-25-om-met-god-se-energie-te-bedien/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar