1 Petrus 1:1-9 – God se krag bewaar jou vir die verlossing wat gereed staan om geopenbaar te word
1 Petrus 1:1-9 – God se krag bewaar jou vir die verlossing wat gereed staan om geopenbaar te word
1Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, 2hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word! 3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê 4op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – 5ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word. 6Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. 7Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. 8Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.
Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer. Hy was ‘n oop en eerlike mens, selfs effens driftig. Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak. Selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer. Twee keer heel letterlik van die skuit in die see (Matt 14; Joh 21)! In die proses het hy soms foute gemaak. ‘n Oor afgekap. Jesus moes Malgus se oor genees toe Petrus op ‘n ander manier oorboord gegaan het in die tuin van Getsemane (Joh 18:10). Soms het Petrus egter bitterlik gehuil oor sy beperkinge. In die tuin toe hy die Here Jesus drie keer verloën het (Joh 18:15-18, 25-27). Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk (Joh 21:15-19). Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd. Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad. Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu nC uit Rome (aangedui as Babilon in die brief – 1 Pet 5:13 – soos dit ook in Openbaring gedoen word – Openb 14:8; 17:5). Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Hulle is vreemdelinge binne die politieke bedeling van die streke waar hulle woon, maar hulle is ook deel van die een volk van God wat verspreid is oor die aarde. Die eerste ding waaroor Petrus skryf vir hierdie mense, is oor blydskap. Oor die dinge waarop jy moet fokus sodat daar ‘n blydskap in jou kan losbars. Petrus praat van ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. Waaroor? Drie beloftes.
1. Jy kan bly wees, want daar is ‘n ewige erfenis wat in die hemel vir jou in bewaring gehou word. Petrus weet die opstanding van Jesus Christus uit die dood het dié erfenis vir ons verwerf. Die vreugde oor die ewigheid is die basis van ons hoop – ’n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde van alles in besit sal neem. Dit is nie ‘n “pie in the sky when you die” nie. Dit is die dryfkrag agter ons volharding in hierdie lewe. Want ons weet die einde is goed. Soos Stephen Covey altyd gesê het, “begin with the end in mind.” Wel, dit is ons einde. Dit is die einddoel van ons lewe. Die dood het nie die laaste sê oor ons nie. Dit ewige lewe het. Dit is God se belofte. As jy swaarkry en sukkel – met siekte of net met afsondering – dink ‘n slag oor die ewigheid en laat dit jou hart vrolik maak.
2. Jy kan bly wees, want jy word deur geloof en die krag van God bewaar vir die verlossing. Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het. Die krag van God – wat Hy in die skepping geïllustreer het, en in die opstanding van die Here Jesus Christus uit die dood – dié krag is in jou aan die werk. En dit sal jou bewaar vir die verlossing. Daar kan niks met jou gebeur wat hierdie doel van God met jou kan dwarsboom nie. Nie siekte of swaarkry of die dood nie. Nie afsondering of gebrek of verlies nie. Niks nie. Dit is God se belofte.
3. Jy kan bly wees, want jou swaarkry is vir ‘n kort tydjie. Ons moet ons verbly in hierdie beloftes: “al moes ons nou eers vir ’n kort tydjie deur allerhande swaarkry bedroef word.” Daar is immers ’n doel met swaarkry. Dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is. Dit wys dat ons geloof eg is, dat dit die moeite werd is. Kyk na goud. Mense doen baie moeite om goud mooi te kry. Hulle sit dit in ’n warm vuur om al die vuilgoed weg te brand. Dan is die goud mooi suiwer. Met geloof is dit ook so. Swaarkry is soos vuur wat jou geloof mooi skoon brand. As dit dus sleg met jou gaan, moet jy nie wegdraai van die Here af nie. As Jesus weer kom, sal almal sien hoe lief jy vir die Here was.
Lees meer (twee preke): https://ngkerksomerstrand.co.za/1-petrus-11-9-jubel-oor-god-in-allerhande-beproewings/ en https://ngkerksomerstrand.co.za/wees-bly-1-petrus-13-9/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar