Skip to main content

Klaagliedere 2: “Ag, hoe het die donker toegesak op Sion”

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDaar is weer twee sprekers wat optree in hierdie gedig, die profeet en die verpersoonlikte Jerusalem.  Dit gee ’n handige verdeling van die inhoud van die gedig:

  • 2:1-19 – Jeremia: “Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak op Sion!
  • 2:20-22 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.

2:1-19 – Jeremia: “Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak op Sion!

Hierdie deel van die gedig bevat drie dele:

  • 2:1-10 – Jeremia beskryf die donker wat die Here in sy toorn laat toesak het op Sion.
  • 2:11-17 – Jeremia beskryf sy eie moedeloosheid en smart oor die toestand van die stad en sy mense
  • 2:18-19 – Jeremia roep hulle op om sonder ophou te bid om die lewe van hulle kinders

DIS DONKER: Die digter praat in die eerste tien verse in die derde persoon en beskryf die donker wat die Here in sy toorn laat toesak het op Sion.  Die pragstad is tot in die stof verneder.  Die Here het in sy toorn selfs sy eie tempel nie ontsien nie.  Die woord vir tempel in vers vers 1 is eintlik “voetstoel van sy voete” wat soms met die ark verbind is (Ps. 99:5), soms met die hele tempel (Jes. 60:13).  Die Here het sy genade teruggetrek en die krag van Juda gebreek.  Hy het self hul teëstander geword.

Hy het sy eie woning verniel asof dit ’n skerm in ’n tuin is” wat nie net die genadeloosheid van die oordeel uitdruk nie – niks word gespaar nie, selfs nie die Here se tempel nie – maar ook die boodskap begin dra van die tydelikheid en veranderlikheid van ’n kultus wat aan ’n vaste gebou verbind is.  Die Here kan nie ingeperk word deur ‘n gebou nie.  Daarom dat Jesus later kon verklaar dat die tyd gekom het dat die ware aanbidders God nie meer op ’n berg of in Jerusalem sal aanbid nie, maar enige plek onder die son.  Die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, Hom deur die Gees en in waarheid moet aanbid (Joh. 4:21-24).

Die verwoesting van die plek van ontmoeting, die vertrapping van sy heiligdom, en die ontheiliging van die tempel deur die vyand lui egter hier ’n donker tyd vir die volk in.  Die krisis is die verwording van die gelowiges: “Daar is geen onderrig meer in die wet nie,” letterlik: “Daar is nie meer ‘tôrâ’ nie“. Die begeleiding uit God se wet, sy riglyne vir die lewe, het tot stilstand geknars.  Die profete ontvang ook geen visioen waarmee God sy wil kan uitdruk nie.  Die Hebreeuse woord wat hier met ontvang vertaal is, is eintlik vind – d.w.s. selfs as hulle soek na die Here, kry hulle nie ’n antwoord nie.

Die koning is en sy leiers is weggevoer, die oorblywende leiers – priesters en profete – is verslae.  Dis regtig donker in Sion.

EK’S MOEDELOOS: In vers 11 tot 17 verwoord die digter sy eie moedeloosheid en smart oor die lyding en verwonding van die stad en sy mense.  Sy oë is gedaan van huil: “dit brand in my, my moed is gebreek.”  Wat hom veral ontstel is die effek op die weerloses in die samelewing, die kinders en babatjies wat inmekaar sak omdat hulle nie iets het om te eet of te drink (letterlik: waar is die graan en wyn?) nie: “In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.”

Dié lyding is só erg dat Jeremia nie eers kan of wil probeer om hulle te troos met iets wat nóg slegter is as wat die stad van Jerusalem ervaar nie.  Want, daar is niks wat slegters as dit is nie.

Maar dan rig hy sy visier op een van die oorsake van dié tragedie: “Die visioene van jou profete was vals en misleidend.”  Die woord wat met “misleidend” vertaal is, is letterlik “witgeverf” wat ’n mens laat dink aan die skrifgeleerdes en Fariseërs wat deur Jesus beskryf is as: “witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matt. 23:27-28).

Die profete se visioene was dus bedoel om toe te smeer, die situasie beter voor te doen as wat dit regtig is.  Maar dit het die volk in ’n ontsettende tragedie gedompel.  Jeremia spel dit só uit: “Hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.”

Hulle val gryp die verbeelding aan.  Die mense slaan hulle hande saam, skud hulle kop en spot hulle: “dit is die dag waarvoor ons gewag het.” Maar Jeremia weet: “Die Here het dit gedoen.” Dit beteken dit is net van Hom wat ’n omkeer te wagte kan wees.

BID SONDER OPHOU: Daarom rig Jeremia hom tot die volk om in die lig van hulle tragiese toestand die saak met die Here uit te maak: “Roep tot die Here, Sion, laat jou trane in strome vloei, dag en nag, moet jou nie rus gun nie, moenie dat jou oë verligting kry nie. Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders, hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.

2:20-22 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.

Dit is presies wat Jerusalem dan doen, soos die digter dit verwoord: “Kyk tog, Here, let tog op …”  Van die woorde en frases in die eerste tien verse word in hierdie gebed tot God gebruik. Daarmee word die afgryse van ’n oorlogsituasie voor die Here gebring.  Dit is genadeloos.  Niemand ontvlug of kom vry nie, oud en jonk, skuldiges en onskuldiges, jong vroue en jongmanne, die gewone bevolking en die priesters en profete.

Hoewel die Here deur die Joodse volk se vyande gewerk het, kan Jerusalem nie ontkom van die feit dat dit uiteindelik die werk van die Here self is nie: “U het ’n slagting aangerig en geen genade betoon nie.” En hoewel die reg van die Here om só op te tree reeds in die eerste hoofstuk erken is, roep Jerusalem, teen hoop op hoop, dat die Here sal raaksien.  Net dit, want daarin lê alreeds die hoop vir ’n lotsverandering.

Boodskap

Die donkerte van die verwoesting van ’n volk en ’n stad is erger as die ergste lyding wat daar is.  Ons sien dit vandag nog, soos nou onlangs met Mosul in noord-Irak in die provinsie van Nineve deur die groep wat hulle self die Islamic State noem.  Tienduisende Christene moes hulle huise verlaat, omdat hulle “Nasareners” is, volgelinge van die Man van Nasaret.

Die Christene kan as martelare beskou word, anders as die Jode wat met die ballingskap net hulleself te blameer gehad het.  Maar dieselfde gebed kan vandag nog vir hulle en vir onsself gebid word, maak nie saak in watter situasie ’n mens is nie, en wat die oorsaak daarvoor is nie: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.” Net van God kom verandering.  Net van God kan verandering gevra word.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda