Klaagliedere 2: “Ag, hoe het die donker toegesak op Sion”

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDaar is weer twee sprekers wat optree in hierdie gedig, die profeet en die verpersoonlikte Jerusalem.  Dit gee ’n handige verdeling van die inhoud van die gedig:

  • 2:1-19 – Jeremia: “Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak op Sion!
  • 2:20-22 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.

2:1-19 – Jeremia: “Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak op Sion!

Hierdie deel van die gedig bevat drie dele:

  • 2:1-10 – Jeremia beskryf die donker wat die Here in sy toorn laat toesak het op Sion.
  • 2:11-17 – Jeremia beskryf sy eie moedeloosheid en smart oor die toestand van die stad en sy mense
  • 2:18-19 – Jeremia roep hulle op om sonder ophou te bid om die lewe van hulle kinders

DIS DONKER: Die digter praat in die eerste tien verse in die derde persoon en beskryf die donker wat die Here in sy toorn laat toesak het op Sion.  Die pragstad is tot in die stof verneder.  Die Here het in sy toorn selfs sy eie tempel nie ontsien nie.  Die woord vir tempel in vers vers 1 is eintlik “voetstoel van sy voete” wat soms met die ark verbind is (Ps. 99:5), soms met die hele tempel (Jes. 60:13).  Die Here het sy genade teruggetrek en die krag van Juda gebreek.  Hy het self hul teëstander geword.

Hy het sy eie woning verniel asof dit ’n skerm in ’n tuin is” wat nie net die genadeloosheid van die oordeel uitdruk nie – niks word gespaar nie, selfs nie die Here se tempel nie – maar ook die boodskap begin dra van die tydelikheid en veranderlikheid van ’n kultus wat aan ’n vaste gebou verbind is.  Die Here kan nie ingeperk word deur ‘n gebou nie.  Daarom dat Jesus later kon verklaar dat die tyd gekom het dat die ware aanbidders God nie meer op ’n berg of in Jerusalem sal aanbid nie, maar enige plek onder die son.  Die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, Hom deur die Gees en in waarheid moet aanbid (Joh. 4:21-24).

Die verwoesting van die plek van ontmoeting, die vertrapping van sy heiligdom, en die ontheiliging van die tempel deur die vyand lui egter hier ’n donker tyd vir die volk in.  Die krisis is die verwording van die gelowiges: “Daar is geen onderrig meer in die wet nie,” letterlik: “Daar is nie meer ‘tôrâ’ nie“. Die begeleiding uit God se wet, sy riglyne vir die lewe, het tot stilstand geknars.  Die profete ontvang ook geen visioen waarmee God sy wil kan uitdruk nie.  Die Hebreeuse woord wat hier met ontvang vertaal is, is eintlik vind – d.w.s. selfs as hulle soek na die Here, kry hulle nie ’n antwoord nie.

Die koning is en sy leiers is weggevoer, die oorblywende leiers – priesters en profete – is verslae.  Dis regtig donker in Sion.

EK’S MOEDELOOS: In vers 11 tot 17 verwoord die digter sy eie moedeloosheid en smart oor die lyding en verwonding van die stad en sy mense.  Sy oë is gedaan van huil: “dit brand in my, my moed is gebreek.”  Wat hom veral ontstel is die effek op die weerloses in die samelewing, die kinders en babatjies wat inmekaar sak omdat hulle nie iets het om te eet of te drink (letterlik: waar is die graan en wyn?) nie: “In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.”

Dié lyding is só erg dat Jeremia nie eers kan of wil probeer om hulle te troos met iets wat nóg slegter is as wat die stad van Jerusalem ervaar nie.  Want, daar is niks wat slegters as dit is nie.

Maar dan rig hy sy visier op een van die oorsake van dié tragedie: “Die visioene van jou profete was vals en misleidend.”  Die woord wat met “misleidend” vertaal is, is letterlik “witgeverf” wat ’n mens laat dink aan die skrifgeleerdes en Fariseërs wat deur Jesus beskryf is as: “witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matt. 23:27-28).

Die profete se visioene was dus bedoel om toe te smeer, die situasie beter voor te doen as wat dit regtig is.  Maar dit het die volk in ’n ontsettende tragedie gedompel.  Jeremia spel dit só uit: “Hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.”

Hulle val gryp die verbeelding aan.  Die mense slaan hulle hande saam, skud hulle kop en spot hulle: “dit is die dag waarvoor ons gewag het.” Maar Jeremia weet: “Die Here het dit gedoen.” Dit beteken dit is net van Hom wat ’n omkeer te wagte kan wees.

BID SONDER OPHOU: Daarom rig Jeremia hom tot die volk om in die lig van hulle tragiese toestand die saak met die Here uit te maak: “Roep tot die Here, Sion, laat jou trane in strome vloei, dag en nag, moet jou nie rus gun nie, moenie dat jou oë verligting kry nie. Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders, hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.

2:20-22 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.

Dit is presies wat Jerusalem dan doen, soos die digter dit verwoord: “Kyk tog, Here, let tog op …”  Van die woorde en frases in die eerste tien verse word in hierdie gebed tot God gebruik. Daarmee word die afgryse van ’n oorlogsituasie voor die Here gebring.  Dit is genadeloos.  Niemand ontvlug of kom vry nie, oud en jonk, skuldiges en onskuldiges, jong vroue en jongmanne, die gewone bevolking en die priesters en profete.

Hoewel die Here deur die Joodse volk se vyande gewerk het, kan Jerusalem nie ontkom van die feit dat dit uiteindelik die werk van die Here self is nie: “U het ’n slagting aangerig en geen genade betoon nie.” En hoewel die reg van die Here om só op te tree reeds in die eerste hoofstuk erken is, roep Jerusalem, teen hoop op hoop, dat die Here sal raaksien.  Net dit, want daarin lê alreeds die hoop vir ’n lotsverandering.

Boodskap

Die donkerte van die verwoesting van ’n volk en ’n stad is erger as die ergste lyding wat daar is.  Ons sien dit vandag nog, soos nou onlangs met Mosul in noord-Irak in die provinsie van Nineve deur die groep wat hulle self die Islamic State noem.  Tienduisende Christene moes hulle huise verlaat, omdat hulle “Nasareners” is, volgelinge van die Man van Nasaret.

Die Christene kan as martelare beskou word, anders as die Jode wat met die ballingskap net hulleself te blameer gehad het.  Maar dieselfde gebed kan vandag nog vir hulle en vir onsself gebid word, maak nie saak in watter situasie ’n mens is nie, en wat die oorsaak daarvoor is nie: “Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het.” Net van God kom verandering.  Net van God kan verandering gevra word.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: