Klaagliedere 3: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop”

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk drie is in baie opsigte eintlik die hart van die Klaagliedere van Jeremia.    Jeremia is die “ek” in die ses en sestig verse waarvan elke derde een met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin.  Dit is egter ook duidelik dat Jeremia hierdie klaaglied kollektief en namens die volk aanbied aan die Here, soos die gebruik van “ons” regdeur aandui.

Inhoudsgewys dek dit vier belangrike aspekte van die profeet Jeremia se nadenke en refleksie oor die ramp wat die volk getref het.  Dit is dus ook ’n modelgebed om na te volg wanneer ons op soortgelyke wyse in ’n krisis is:

  • 3:1-24 – “Dít sal ek ter harte neem, deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.
  • 3:25-39 – “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra.
  • 3:40-47 – “Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek, en ons tot die Here bekeer.
  • 3:48-66 – “My trane sal aanhou vloei, totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien.

3:1-24 – “Dít sal ek ter harte neem, deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.

Jeremia begin deur sy ellende op die tafel te sit.  Hy beleef die ballingskap as iets wat só erg is, dat dit voel asof hy persoonlik daardeur in God se toorn geslaan is.  Dit is asof hy die donker ingejaag is en die Here hom op ’n pad laat loop waar daar geen lig is nie: “Hy het my toegebou met ’n muur van gif en ontbering rondom my.

Dit is asof sy gebede nêrens kom nie, asof God weier om sy gebede te verhoor.  Dit is asof daar geen uitkomplek vir hom is nie.  Nie net het die Here hom verlaat nie, maar hy vind dat hy uitgelag word deur die volk.  Dit maak die lewe vir hom galbitter.

Maar, juis toe hy gedink het dit is klaar met hom en met sy hoop op die Here, het hy besef: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie.  Daar het ’n oorblyfsel gebly.  Wat beteken: “daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.

Geen wonder dat dié verse Robert Davidson geïnspireer het in die hoopvolle lied: “The steadfast love of the Lord never ceases.  His mercies never come to an end.  They are new every morning, new every morning.  Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.”

3:25-39 – “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra.

Dít is ons hoop, God se troue liefde, selfs wanneer ons in die diepste ellende is.  Trouens, God se trou is só groot dat ’n mens op Hom kan bly hoop, voortdurend na sy wil kan bly vra.

Daarom is dit goed om geduldig te wag op die hulp van die Here, selfs as ’n mens eensaam voel in die dra van die las wat die Here jou opgelê het.  ’n Mens kan selfs jou wang draai vir wie jou slaan, in die hoop dat God sal ingryp – soos Jesus ook later sou aanraai in die Bergrede (Matt. 5:39).

Ons hoop is immers dat die Here ’n mens nie vir altyd verstoot nie, dat as Hy beproewing oor ’n mens bring, daar ook weer uitkoms kom, dat Hy Homself ook weer ontferm omdat sy liefde so groot is.  “Dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Die Here sien immers raak as iemand se reg vertrap word, en sal ook die goeie te voorskyn bring.  Daarom hoef ’n mens nie soseer te kla oor alles wat verkeerd is nie, maar ’n mens liewer toelê daarop om sy sonde te oorwin, iets wat die Here al vir Kain reg aan die begin gesê het: “As jy nie goeddoen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry.  Maar jy moet oor hom heers.” (Gen. 4:7).  Iets wat in Jesus vir ons moontlik geraak het!

3:40-47 – “Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek, en ons tot die Here bekeer.

Daarom is Jeremia se gevolgtrekking dat selfondersoek, selfs publiek as ’n mens die “ons” in gedagte hou, en bekering tot die Here die enigste pad uit die ellende en ontbering is.  Dit moet met die hele hart gedoen word: “Ons het sonde gedoen en was opstandig.

Dié sonde was só erg en só wydverspreid dat die Here eintlik nie ’n ander keuse gehad het as om die volk in ballingskap te verdryf nie.  Die volk het só verword dat die Here Homself van hulle verberg het: “sodat geen gebed na U kon deurkom nie.” Tragies!

3:48-66 – “My trane sal aanhou vloei, totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien.

Daarom onderneem Jeremia om op volhardende manier vir sy volk te bid: “totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien.” Want, hy weet, as God eers raaksien, sal die uitkoms kom.

In ’n verwysing na sy eie ervaring in die put in die binneplaas – wat terloops ook herinner aan Jona se gebed (Jona 2) – verkondig hy aan die volk dat die Here inderdaad hoor en sal verhoor.  Soos die Here sy eie saak beredder het, só sal Hy ook vir die volk se reg opkom.

Boodskap

Dit is treffend hoe hierdie klaaglied beweeg van die persoonlike belewenis van en identifikasie met die pyn van die ballingskap van die geloofsgemeenskap na die persoonlike belydenis van die geloof in God wat goed is vir dié wat op Hom bly hoop, vir dié mense wat na sy wil bly vra.  Hierdie persoonlike belydenis van die profeet mond uit in ’n publieke oproep dat die gemeenskap van gelowiges ’n deeglike selfondersoek sal doen sodat hulle by hernuwing as gemeenskap van gelowiges hulleself tot die Here kan bekeer.  Dit sluit af met die verbintenis tot volhardende gebed vir die geloofsgemeenskap totdat die Here die smeking hoor en daarop reageer.

Klaagliedere 3 is dus by uitnemendheid ’n model om in ons gebede vir groot transformasie na te volg.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Net vanaand vir n vriend gesê, bly hoop en droom en bid, en die Here sal vir jou goed wees al jou dae en aan jou gee wat jy na smag.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: