Johannes 18:39–19:42 – Dit is volbring!
Johannes 18:39–19:42 – Dit is volbring!
39“Maar daar is ‘n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” 40Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was ‘n misdadiger. 191Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gesel. 2Die soldate het ‘n kroon van doringtakkies gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het ook ‘n purperrooi mantel vir Hom omgehang en 3na Hom gegaan en aangehou sê: “Gegroet, koning van die Jode!” En hulle het Hom herhaaldelik geklap. 4Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” 5Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” 6Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” 7Die Jode antwoord hom toe: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself Seun van God gemaak het.” 8Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. 9Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie ‘n antwoord gegee nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” 11Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan ‘n groter sonde skuldig.” 12Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.” 13Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga,ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” 15Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie ‘n koning nie, slegs die keiser.” 16Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. 17Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. 18Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. 19Pilatus het ook ‘n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” 22Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” 23Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. 25By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. 28Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” 29Daar het ‘n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n marjoleintak en bring dit na sy mond. 30Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee. 31Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was ‘n belangrike dag – het die Jode vir Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. 32Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. 35Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. 36Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En ‘n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” 38Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim ‘n dissipel van Jesus was, Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en ‘n mengsel van ongeveer ‘n honderd litra mirre en adelhout gebring. 40Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by ‘n begrafnis. 41By die plek waar Hy gekruisig is, was daar ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. 42Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was.
Pilatus sit sy gesprek met die Jode voort om te kyk of hy nie die saak kan beredder nie. Pilatus se oordeel laat hom egter liederlik in die steek. Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ’n keuse tussen Barabbas, ’n bewese misdadiger, en Jesus te gee. Hy meen dat hy ’n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart. Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat en nie Jesus nie. Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging. Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.
Wat ’n mens egter raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy poging tot amnestie vir Jesus asook die lyfstraf waarmee hy hulle simpatie met Jesus probeer ontlok het) en die moorddadige skynheilige Jode, is ’n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel. Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee. Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie. Iets wat ons ook in ons eie uitdagende situasies kan beproef. Watter ironie. Die Jode, die verbondsvolk van die Koning van die wêreld, wat die keiser bó Hom kies, en boonop sorg dat Hy sterwe. En daarmee voltrek die Jode ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd ook God as Koning verwerp het – 1 Sam 8:7). Pilatus wys ook vir ons hoe jy dieper en dieper in die moeilikheid insak as jy eers begin om mense ter wille te wees. In plaas daarvan om die regte ding te doen, om ‘n onskuldige man los te laat, probeer Pilatus verskillende partye gelukkig hou. Dit kan nooit op iets goeds uitloop nie. Jesus daarenteen wys vir ons hoe ‘n mens jou kalmte in ‘n baie uitdagende situasie kan behou deur die fundamentele waarhede van God in gedagte te hou. Net God het ware mag. Dit is met Hom wat alle leiers rekening moet hou. Pilatus, Herodes en die Joodse leiers. En wat hier gebeur, is iets wat God toelaat. Daarom kan Jesus volhard op sy lydensweg.
Dit is hoekom Jesus die reis van Gabbata na Golgota kon begin en dit enduit deursien. Dit is ’n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe. Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor. Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou. Daarom kon Hy met oortuiging sê: “Dit is volbring!” Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ’n spesifieke lewenstaak. Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ’n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ’n onskuldige kruisdood in ag neem. ‘n Klein stukkie genade word in sy dood aan Hom bewys deurdat Hy ‘n ordentlike begrafnis kry. Dat sy liggaam wat so verniel is deur die loop van daardie vreeslike dag met deernis en sorg hanteer word in sy dood. Sy vernedering deur die dag word opgevolg met ‘n stukkie eerbetoon die aand. Maar, die hele heelal hou asem op vir wat nou gaan gebeur; sien met reikhalsende verlange uit na die opstanding wat die krag van God se koninkryk eksponensieel aan die brand sou steek in hierdie sondige wêreld!
Lees meer (vers vir vers kommentaar): https://bybelskool.com/wp-content/uploads/2022/03/Johannes19.docx
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar