Skip to main content

Inleiding op Jakobus

Jakobus die broer van Jesus

JakobusDie brief van Jakobus is waarskynlik geskryf deur Jakobus, die broer van Jesus.  Hy was waarskynlik die oudste seun naas Jesus, en het ook drie ander broers gehad: Joses, Judas (skrywer van die brief van Judas) en Simon.  Hy het natuurlik ook susters gehad (Mrk. 6:3).  Hoewel hy aanvanklik, soos sy ander broers, negatief was oor die bediening van Jesus (Joh. 7:3-5), het die Here Jesus ná sy opstanding persoonlik aan hom verskyn (Paulus verwys daarna in 1 Kor. 15:7), waarna hy nie net die Pinkstergebeure met die uitstorting van die Heilige Gees beleef het nie (Hand. 1:14), maar ook daarna ’n sterk leiersrol in die gemeente en vroeë kerk gespeel het.

Beide Paulus (Gal. 1:19; 2:9) en Lukas (Hand. 15:13; 21:18) beskryf hom as ’n leier, een van die “pilare” van die vroeë kerk, wat spesifiek ’n leidende rol in die insluiting van die gelowiges uit die heidene gespeel het.  Dit is ook hy wat die brief aan die gelowiges uit die heidene voorgestel het asook die inhoud daarvan (Hand. 15:13-21).  Hy het egter self gefokus op die evangelisering van Jode (Gal. 2:9) soos ’n mens ook uit die aanhef van sy brief kan aflei (Jak. 1:1).

Daar was wel ook twee van die dissipels van Jesus wat die naam Jakobus gehad het en moontlik kon kwalifiseer as skrywer van die brief.  Die eerste was Jakobus, die seun van Sebedeus (Mrk. 3:17), wat ook die broer van die geliefde dissipel Johannes was, die twee Boanerges, “seuns van die donder”.  Hierdie Jakobus het egter vroeg as martelaar gesterf aan die hand van Herodes (Hand. 12:2 – dit was voor 44 n.C., omdat Herodes self toe gesterf het).  Hy kon dus nie dié brief geskryf het nie.  Die tweede was Jakobus, die seun van Alfeus (Mrk. 3:18), wat moontlik ook klein-Jakobus genoem is (Mrk. 15:40), maar waarvan ons niks verder weet nie en ook nie verder genoem word in die NT nie.  Dit is ook onwaarskynlik dat hy dié brief geskryf het.

Dit is daarom dat Jakobus, die broer van Jesus, deur die vroeë kerk tradisie as die skrywer beskou word (bv. Hegesippus, Klement van Alexandrië, Origines, Eusebius).  Hy was volgens hulle ’n gerekende leier wat ’n groot invloed uitgeoefen het, meer as wat ons uit die res van die NT boodskap kan aflei.  ’n Mens sou graag meer van hom wil weet!  Al wat ons egter verder weet, is dat hy volgens die geskiedskrywer Josefus ’n marteldood sterf in 62 n.C.  Ons het natuurlik ook dié brief.

Fokus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel

Jakobus noem homself “’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus” en rig sy brief “aan die twaalf stamme in die Diaspora”.  Dié woord Diaspora is gebruik om die “verstrooiing” van die Jode buite hulle land aan te dui, sommige weens ekonomiese redes, ander weens politieke redes.  Dié titel word nou op hierdie Jode in verstrooiing, maar wat intussen in die Here Jesus Christus begin glo het, van toepassing gemaak.

Uit die brief lei ons af dat die meeste van hulle arm was, maar dat daar wel ook enkele rykes in hulle geledere was, hoewel Jakobus nie te positief oor hulle was nie.  Hy spreek hulle skerp aan asook dié wat deur hulle wêreldse invloed meegesleur word (Jak. 1:9-11 – “laat die onbeduidende broer in sy hoë aansien roem, en die ryke in sy onbeduidendheid”; 2:2; 5:1-6).  Hy maak veral melding van die uitdagings waaraan hierdie Christen Jode blootgestel is – allerlei beproewings (Jak. 1:2, 12), versoekings (Jak. 1:13), uitbuiting wat hulle uitgelok het tot negatiewe reaksies (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), vooroordele (Jak. 2:2 vv) en erge onderlinge konflikte (Jak. 4:1 vv) wat hulle tot kwaadpratery (Jak. 4:11 vv) en klagtes verlei het (Jak. 5:9).  Hulle het ook geworstel met die problematiek van die werklik armstes van die armes en hoe sulke mense gehelp moes word (Jak. 2:13-17).

Jakobus fokus dus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig hulle aan om hulle geloof prakties uit te leef.  Deur te fokus op die praktyk van hulle geloof sal hulle geestelik volwasse kan word om te volhard in die geloof.  Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, is dus juis die boublokke van hulle geloof wat deur die toetsing daarvan tot volledige ontwikkeling kan kom: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak. 1:2-4).

Interessant is die ooreenkomste met die Bergrede van die Here Jesus, Jakobus se broer, wat ’n mens kan raaksien in sy leringe oor vreugde in beproewing (Vgl. Jak. 1:2, 12: “Geseënd is die man …” en Matt. 5:3-12), gebedsverhoring (Vgl. Jak. 1:5-8 en Matt. 7:7-11), die relatiwiteit van rykdom (Vgl. Jak. 1:9-11 en Matt. 6:19-34), versoekings (Vgl. Jak. 1:12-15 en Matt. 5:27-30), hoor en doen (Jak. 1:19-27 en Matt. 7:21-23), die hulp aan armes (Vgl. Jak. 2:14-17 en Matt. 6:1-4), respek en nie-veroordeling (Jak. 4:11-12 en Matt. 5:38-42; 7:1-6), aardse skatte (Vgl. Jak. 4:13-17 en Matt. 6:19-21), en eedswering (Vgl. Jak. 5:12 en Matt. 5:33-37) om maar net ’n paar duidelike ooreenkomste te noem.

Dit is ook ’n boek wat ooreenkomste toon met die wysheidstradisies van die OT, veral Spreuke.

Die wysheid is volgens Jakobus ook iets wat van God af kom en nie maar net uit die somtotaal van aardse wysgere se leringe nie.  Vgl. bv. Jakobus 1:5: “As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit vra van God, wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word,” met Spreuke. 2:6: “Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.”.

Wysheid moet ook getoon word deur goeie gedrag en dade net soos ons dit lees in Spreuke.  Vgl. bv. Jakobus se tekening van die “vrug van geregtigheid” wat volg op dié wat hulle wysheid wys deur hulle goeie gedrag en dade (Jak. 3:13-18) met Spreuke se beskrywing van die wysheid: “waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg” (Spr. 8:20).

Indeling

In my aanvanklike leeswerk het ek die volgende indeling gemaak aan die hand van die breër praktiese sake wat in die brief aangeraak word.  Dit is dan ook die wyse waarop ons die brief gaan lees:

Hoofstuk Tema Datum
Inleiding Praktiese Christenskap 10-Nov
Hfst. 1:1-18 Volhard in beproewing 10-Nov
Hfst. 1:19-2:26 Doen wat die woord sê 11-Nov
Hfst. 3 Tree met sagmoedige wysheid op 12-Nov
Hfst. 4 Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op 13-Nov
Hfst. 5 Volhard in gebed 14-Nov

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.