Skip to main content

Inleiding op Jakobus

Jakobus die broer van Jesus

JakobusDie brief van Jakobus is waarskynlik geskryf deur Jakobus, die broer van Jesus.  Hy was waarskynlik die oudste seun naas Jesus, en het ook drie ander broers gehad: Joses, Judas (skrywer van die brief van Judas) en Simon.  Hy het natuurlik ook susters gehad (Mrk. 6:3).  Hoewel hy aanvanklik, soos sy ander broers, negatief was oor die bediening van Jesus (Joh. 7:3-5), het die Here Jesus ná sy opstanding persoonlik aan hom verskyn (Paulus verwys daarna in 1 Kor. 15:7), waarna hy nie net die Pinkstergebeure met die uitstorting van die Heilige Gees beleef het nie (Hand. 1:14), maar ook daarna ’n sterk leiersrol in die gemeente en vroeë kerk gespeel het.

Beide Paulus (Gal. 1:19; 2:9) en Lukas (Hand. 15:13; 21:18) beskryf hom as ’n leier, een van die “pilare” van die vroeë kerk, wat spesifiek ’n leidende rol in die insluiting van die gelowiges uit die heidene gespeel het.  Dit is ook hy wat die brief aan die gelowiges uit die heidene voorgestel het asook die inhoud daarvan (Hand. 15:13-21).  Hy het egter self gefokus op die evangelisering van Jode (Gal. 2:9) soos ’n mens ook uit die aanhef van sy brief kan aflei (Jak. 1:1).

Daar was wel ook twee van die dissipels van Jesus wat die naam Jakobus gehad het en moontlik kon kwalifiseer as skrywer van die brief.  Die eerste was Jakobus, die seun van Sebedeus (Mrk. 3:17), wat ook die broer van die geliefde dissipel Johannes was, die twee Boanerges, “seuns van die donder”.  Hierdie Jakobus het egter vroeg as martelaar gesterf aan die hand van Herodes (Hand. 12:2 – dit was voor 44 n.C., omdat Herodes self toe gesterf het).  Hy kon dus nie dié brief geskryf het nie.  Die tweede was Jakobus, die seun van Alfeus (Mrk. 3:18), wat moontlik ook klein-Jakobus genoem is (Mrk. 15:40), maar waarvan ons niks verder weet nie en ook nie verder genoem word in die NT nie.  Dit is ook onwaarskynlik dat hy dié brief geskryf het.

Dit is daarom dat Jakobus, die broer van Jesus, deur die vroeë kerk tradisie as die skrywer beskou word (bv. Hegesippus, Klement van Alexandrië, Origines, Eusebius).  Hy was volgens hulle ’n gerekende leier wat ’n groot invloed uitgeoefen het, meer as wat ons uit die res van die NT boodskap kan aflei.  ’n Mens sou graag meer van hom wil weet!  Al wat ons egter verder weet, is dat hy volgens die geskiedskrywer Josefus ’n marteldood sterf in 62 n.C.  Ons het natuurlik ook dié brief.

Fokus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel

Jakobus noem homself “’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus” en rig sy brief “aan die twaalf stamme in die Diaspora”.  Dié woord Diaspora is gebruik om die “verstrooiing” van die Jode buite hulle land aan te dui, sommige weens ekonomiese redes, ander weens politieke redes.  Dié titel word nou op hierdie Jode in verstrooiing, maar wat intussen in die Here Jesus Christus begin glo het, van toepassing gemaak.

Uit die brief lei ons af dat die meeste van hulle arm was, maar dat daar wel ook enkele rykes in hulle geledere was, hoewel Jakobus nie te positief oor hulle was nie.  Hy spreek hulle skerp aan asook dié wat deur hulle wêreldse invloed meegesleur word (Jak. 1:9-11 – “laat die onbeduidende broer in sy hoë aansien roem, en die ryke in sy onbeduidendheid”; 2:2; 5:1-6).  Hy maak veral melding van die uitdagings waaraan hierdie Christen Jode blootgestel is – allerlei beproewings (Jak. 1:2, 12), versoekings (Jak. 1:13), uitbuiting wat hulle uitgelok het tot negatiewe reaksies (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), vooroordele (Jak. 2:2 vv) en erge onderlinge konflikte (Jak. 4:1 vv) wat hulle tot kwaadpratery (Jak. 4:11 vv) en klagtes verlei het (Jak. 5:9).  Hulle het ook geworstel met die problematiek van die werklik armstes van die armes en hoe sulke mense gehelp moes word (Jak. 2:13-17).

Jakobus fokus dus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig hulle aan om hulle geloof prakties uit te leef.  Deur te fokus op die praktyk van hulle geloof sal hulle geestelik volwasse kan word om te volhard in die geloof.  Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom, is dus juis die boublokke van hulle geloof wat deur die toetsing daarvan tot volledige ontwikkeling kan kom: “sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak. 1:2-4).

Interessant is die ooreenkomste met die Bergrede van die Here Jesus, Jakobus se broer, wat ’n mens kan raaksien in sy leringe oor vreugde in beproewing (Vgl. Jak. 1:2, 12: “Geseënd is die man …” en Matt. 5:3-12), gebedsverhoring (Vgl. Jak. 1:5-8 en Matt. 7:7-11), die relatiwiteit van rykdom (Vgl. Jak. 1:9-11 en Matt. 6:19-34), versoekings (Vgl. Jak. 1:12-15 en Matt. 5:27-30), hoor en doen (Jak. 1:19-27 en Matt. 7:21-23), die hulp aan armes (Vgl. Jak. 2:14-17 en Matt. 6:1-4), respek en nie-veroordeling (Jak. 4:11-12 en Matt. 5:38-42; 7:1-6), aardse skatte (Vgl. Jak. 4:13-17 en Matt. 6:19-21), en eedswering (Vgl. Jak. 5:12 en Matt. 5:33-37) om maar net ’n paar duidelike ooreenkomste te noem.

Dit is ook ’n boek wat ooreenkomste toon met die wysheidstradisies van die OT, veral Spreuke.

Die wysheid is volgens Jakobus ook iets wat van God af kom en nie maar net uit die somtotaal van aardse wysgere se leringe nie.  Vgl. bv. Jakobus 1:5: “As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit vra van God, wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word,” met Spreuke. 2:6: “Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.”.

Wysheid moet ook getoon word deur goeie gedrag en dade net soos ons dit lees in Spreuke.  Vgl. bv. Jakobus se tekening van die “vrug van geregtigheid” wat volg op dié wat hulle wysheid wys deur hulle goeie gedrag en dade (Jak. 3:13-18) met Spreuke se beskrywing van die wysheid: “waar ek gaan, is daar geregtigheid, my pad is dié van die reg” (Spr. 8:20).

Indeling

In my aanvanklike leeswerk het ek die volgende indeling gemaak aan die hand van die breër praktiese sake wat in die brief aangeraak word.  Dit is dan ook die wyse waarop ons die brief gaan lees:

Hoofstuk Tema Datum
Inleiding Praktiese Christenskap 10-Nov
Hfst. 1:1-18 Volhard in beproewing 10-Nov
Hfst. 1:19-2:26 Doen wat die woord sê 11-Nov
Hfst. 3 Tree met sagmoedige wysheid op 12-Nov
Hfst. 4 Tree met respek vir mekaar en in afhanklikheid van God op 13-Nov
Hfst. 5 Volhard in gebed 14-Nov

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar