Skip to main content

Hebreërs 10:15-31 – God dink glad nie meer aan ons sondes en wettelose dade nie

15 April (Goeie Vrydag)

Hebreërs 10:15-31 – God dink glad nie meer aan ons sondes en wettelose dade nie

15Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, 16“Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: 17“Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” 18Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie. 19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom, 20langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het ‘n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.23Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. 24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, 25sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom! 26Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, 27maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. 28Wanneer iemand die wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. 29Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? 30Want ons ken Hom wat gesê het: “Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld.” en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.” 31Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!

Met sy kruisdood het Jesus as Hoëpriester die hemelse heiligdom gereinig deur sy bloed (Hebr 9:23-28). Sonde het immers nie net ‘n aardse invloed nie, maar ook ‘n hemelse. Daarom was dit nodig dat Jesus ’n offer bring wat die afstand tussen God en ons kon oorbrug, en so “die sonde ter syde te stel”, waarna Hy die voorreg kon benut om “nou ter wille van ons voor God te verskyn”. Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.” Sedertdien wag Jesus totdat sy vyande “’n voetbank vir sy voete gemaak word, want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak.” Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo. Daarmee het twee beloftes vir ons in vervulling gegaan. Die eerste is dat God met ons ‘n verbond gesluit het dat Hy sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf sodat ons van binne-af Hom kan dien. Die tweede is dat Hy glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie. Glad nie! Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap. Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis: “Ek sal glad nie meer aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade dink nie.

Die gevolg is dat ons nou vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ’n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.” Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12). Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid aan te gryp in ons verhouding met God: “Laat ons daarom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ’n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop. Let ook op die samehang van die interne reinigingswerk van God met die uiterlike teken daarvan, die doop. Dit is dus nie genoeg om mense by geloofsekerheid uit te bring nie, hoe belangrik dit ook al is by die begin van die pad met God. Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (10:22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (10:36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – 10:39). Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moedvertrouereguit en openhartig (in Engels: courageboldnessconfidence, en frankness).

Vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God. Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15). Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense. Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; vgl. Ef. 6:19). En hy wys uit hoe goeie dienswerk (diakens) in die gemeente ’n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13). Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade”, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-923-1018-jesus-christus-verskyn-in-die-heiligdom-voor-god-ter-wille-van-ons/ en https://bybelskool.com/hebreers-1019-39-laat-ons-die-heiligdom-ingaan-met-vrymoedigheid/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.