Skip to main content

Psalm 118:1-18 – Vir ewig duur sy troue liefde

16 April (Stil Saterdag)

Psalm 118:1-18 – Vir ewig duur sy troue liefde

1Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde. 2Laat Israel sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” 3Laat die huis van Aäron sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” 4Laat dié wat vir die Here ontsag het, sê: “Vir ewig duur sy troue liefde.” 5In my angs het ek geroep: “Here!” Hy het my geantwoord; die Here het vir my ruimte gemaak. 6Die Here is vir my; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen? 7Die Here is vir my, as my helper; en ek, ek sal op my haters neersien. 8Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. 9Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou. 10Alle nasies het my omsingel; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 11Hulle het my omsingel, ja, hulle het op my toegesak; in die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 12Hulle het my omsingel soos bye, maar hulle is geblus soos ‘n vuur in doringstruike. In die Naam van die Here kon ek hulle waarlik afweer. 13Julle het my hard gestamp, dat ek moes val, maar die Here het my gehelp. 14My krag en sterkte was die Here; Hy het my tot hulp gekom. 15Die geluid van jubelkrete en van verlossing klink op in die tente van regverdiges. Die regterhand van die Here doen kragtige dade. 16Die regterhand van die Here is hoog gelig; die regterhand van die Here doen kragtige dade. 17Ek sal nie sterf nie, maar ek sal lewe en vertel van die dade van die Here. 18Die Here het my ernstig tereggewys, maar aan die dood het Hy my nie oorgegee nie.

Psalms 110-118 in die vyfde Psalmboek help die geloofsgemeenskap om te fokus op God se beloftes. Dit is beloftes soos:

  • die vestiging van sy Messiaanse koninkryk waarvoor God instaan (Ps 110);
  • dat God se werk groots en betroubaar is vir sy mense (Ps 111);
  • dat ontsag vir God se gebooie vreugde bring en dat vertroue op Hom die vrees vir slegte tyding verdryf (Ps 112);
  • dat die lewe betekenisvol raak wanneer die Here geprys word van waar die son opkom tot waar dit ondergaan (Ps 113);
  • dat hulle jubeling oor die Uittog uit Egipte vir hulle ‘n model gee om nie net te dink aan die nuwe Uittog uit Babel nie, maar ook aan God se belofte van redding uit elke vasgevalde situasie waar hulle hulle mag bevind (Ps 114);
  • dat hulle mag weet dat God sy eer daarin stel om hulle vertroue op Hom en sy beloftes te beantwoord (Ps 115);
  • dat hulle die Here mag liefhê, want Hy verhoor hulle smeekgebede (Ps 116);
  • dat hulle mag weet en vertrou daarop dat God oneindig betroubaar is in sy onmeetlike liefde vir hulle (Ps 117).

Dít is die pakket van beloftes wat hulle met hulle mag saamdra op hulle lewenspad. Hierby kom Psalm 118 nou om dié inleidende fokus op God se beloftes af te rond met die gedagte dat daar aan God se liefde geen einde is nie, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het. Daarvan moet Israel getuig. Daarvoor moet Israel God loof. Dit is dan ook uit dié hoek wat ons die skare se woorde met die intog in Jerusalem moet hoor as hulle die woorde uit Psalm 118:26 gebruik: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” soos Matteus dit vir ons vertel (Matt. 21:9). Psalm 118:27 maak dan net soveel meer sin: “Begin die fees! Wuif met takke!” Hoewel die fees in Jesus se geval natuurlik geëindig het by sy kruisdood. Die beloftes van die Here in Psalm 110-118 is dus met die koms van Jesus vervul. So interpreteer die vier evangelieskrywers dit (Mark 11; Matt. 21; Luk. 19; Joh. 12). Selfs die skare in Jerusalem kon dit nie inhou nie en het Hosanna vir die Koning gesing. Ook Jesus was baie bewus daarvan dat sy lewe die boodskap van die Psalms vervul het, soos ons lees in Luk. 24:44: “dat alles vervul moet word wat in die … psalms oor My geskrywe is”. Die Psalm onderstreep dus dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie, en dat ons van Hom kan verwag dat Hy altyd só sal wees. Die Psalm herinner ons ook aan die voorreg om deur lofprysing en danksegging ‘n getuienis af te lê van wie God ook vir ander kan wees. Aan sy liefde is daar geen einde nie, voorwaar!

Ek lees in die Bybel vir die Lewe die storie van die Engelse filosoof, teoloog, vertaler, prediker en Hervormer: John Wycliffe (1329-1384). John het ‘n passie gehad om alle mense die Bybel in hulle eie taal te laat lees. Sy vyande in die kerk het egter niks daarvan gehou nie, en wou hê dat net die geleerdes die Bybel in Latyn en die oorspronklike tale lees. Hulle het hom selfs verbied om te preek. Op 52 jarige ouderdom het hy as ‘n baie siek man afgetree. Toe sy vyande selfs op sy siekbed hom geteister het met die idee dat hy sy “sonde moet bely” om die Bybel vir alle mense toeganklik te maak – kan jy dít glo! – het vers 17 van Psalm 118 hom te binne geskiet, en het hy dit vir hulle aangehaal: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.” Net daar en dan het John besluit om die hele Bybel in Engels te vertaal. Dit het hom drie jaar geneem en hy het dit voltooi net voor hy op 55 jarige ouderdom oorlede is. Sy passie vir die Woord het ander geïnspireer om dieselfde te doen. Die Tsjeg Johannes Hus (1369-1415) het ‘n proses begin om die hele Bybel in Boheems te vertaal en Maarten Luther (1483-1546) het daarop voortgebou en self die hele Bybel in Duits vertaal. Dat jy dus die Bybel in jou eie taal in jou hand kan hou, is te danke aan die visie en passie van hierdie Hervormers. En Psalm 118:17 was die inspirasie wat die Here in die lewe van John Wycliffe gebruik het om sy lewenswerk te voltooi. Trouens, die hele idee van ‘n Bybel in jou eie taal, kom tot ‘n groot mate van sy visie af!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-118-aan-sy-liefde-is-daar-geen-einde-nie/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar