Jesus is drie dae in die graf
Jesus was op elkeen van drie dae in die graf. Die Vrydagmiddag (voor die sabbat begin het, dws die Saterdag), die hele Saterdag, en ongeveer die helfte van die Sondag wat die vorige aand begin het.
Dit kom ooreen met beide die voorspellings wat Jesus gemaak het, selfs die voorspellings in die OT, en hoe die kerk na die tyd daaroor berig het, onder andere Paulus.
Jesus sê Hy sal “na drie dae opstaan” (Mark 8:31). En Hy sê in dieselfde evangelie dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Dit is duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het. Joodse dae is immers van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Markus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.
‘n Mens kan die volgende gegewens in ag neem om die vraag te beantwoord na die drie dae::
- Jesus se verwysing na Jona se “drie dae en drie nagte” (Matt 12:40) was ‘n Hebreeuse idioom wat vir enige kombinasie van ‘n deel van drie verskillende dae gebruik is. So skryf RT France in sy Jesus and the Old Testament en D A Carson in die Expositors Bible Commentary.
- ‘n Mens sien dit 1 Samuel 30:12-13 waar die frase gebruik word om iemand se uitputting aan te dui asook in Jona 1:17 vir Jona se tyd in die groot vis. Iets soortgelyks sien ‘n mens in 2 Kronieke 10:5 en 12 waar Rehabeam mense wegstuur om na drie terug te kom, maar hulle kom reeds op die derde dag terug. Dieselfde gebeur in die boek Ester waar sy die Jode beveel om drie dae en nagte te vas, maar dan “op die derde dag” voor die koning verskyn (Est 4:16; 5:1).
- ‘n Mens moet dus hierdie idiomatiese gebruik in gedagte hou as ‘n mens hoor dat Jesus self voorspel dat Hy na drie dae sal opstaan (Mark 8:31; 9:31; 34). Daarom kan Hy ook sê “op die derde dag” (Luk 9:22). Trouens, Jesus verklaar dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58).
- ‘n Mens moet verder ook onthou, die Joodse dae is van sononder tot sononder getel.
- Jesus word gekruisig op ‘n Vrydag, die “dag voor die sabbat” (Mark 15:42), die “dag van voorbereiding” (Luk 23:54; Joh 19:31).
- Die graf is van die Saterdag af bewaak omdat almal geweet het van die voorspelling dat Hy op die derde dag sou opstaan (Matt 27:62).
- Jesus word opgewek op die Sondag, die eerste dag van die week, en daarom die derde dag van sy dood (Mark 16:2; Luk 24:1; Mat 28:1; Joh 20:1).
- So Goeie Vrydag was die eerste dag (Donderdagaand tot Vrydagaand), Stil Saterdag die tweede dag (Vrydagaand tot Saterdag aand), en Paassondag die derde dag (Saterdagaand tot Sondagaand).
- Die helderste stem is egter Paulus wat vir ons sê Jesus is: “OP die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” (1 Kor 15:4).
- Paulus verwys hier na Hosea 6:2: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan”, wat in Hosea eintlik net dui op die sekerheid van God se verlossing waarop die volk kan staatmaak, maar in die lig van Jesus se kruisiging en opstanding nuut geïnterpreteer word. Vir die volk belowe God dat sy oordeel baie vinnig opgehef sal word as hulle na Hom toe terugkeer. God wil hulle juis só motiveer om te reageer op sy aanbod. Die oorlog sal net twee dae duur! Vir Jesus het dit die betekenis gehad dat die tydperk van Jesus se dood net twee dae sal duur, dws op die derde dag sal Hy opstaan. So het Paulus dit uitgelê.
Deon Venter
Daar is ook ‘n moontlike ander verduideliking vir die 3 dae-vraagstuk. Die vraag is of Jesus nie dalk op die Donderdag gekruisig is nie. Die Bybel verwys nie noodwendig na ‘n “Vrydag” nie. Ja, ek weet die 83-vertaling praat van ‘n “Vrydag”, maar geen van die ouer vertalings doen nie. Die KJV lees as volg: Mark 15:42 – “And now when the even was come, because it was the preparation, that is, the day before the sabbath”. Die Vrydag-aanname spruit juis uit hierdie stukkie “the day before the sabbath”.
Maar onthou, dit was Paasfees. En die dag na Paasfees is dag een van die Fees van Ongesuurde Brode. Die eerste en die laaste dae van die Fees moet as sabbat gevier word – Lev 23:5-8. Die Jode het nie Paasfees “van-Vrydag-tot-Sondag” gevier soos ons nie. Hulle het dit volgens die kalender gedoen (die 14de dag van die eerste maand – Nisan). Die volgende dag, die 15de, was outomaties as sabbat gevier, ongeag watter dag van die week dit was.
Wat wel skriftuurlik is, is die feit dat Opstanding op Sondag plaasgevind het. Mat 28:1 en Joh 20:1 maak melding van “die eerste dag van die week”. Respektiewelik “In the end of the sabbath, as it began to dawn toward the first day of the week, came Mary Magdalene and the other Mary to see the sepulchre.” en “The first day of the week cometh Mary Magdalene early, when it was yet dark, unto the sepulchre, and seeth the stone taken away from the sepulchre.”, beide aanhalings uit die KJV.
Is daar dus ‘n argument vir die Kruis op Donderdag? Die verloop sou dan so lyk:
Woendagaand die 14de van Nisan – Die Laaste Avondmaal
Donderdagoggend die 14de van Nisan – Die Kruisiging
Donderdag sononder tot Vrydag sononder, die 15de van Nisan – Sabbat op die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode
Vrydag sononder tot Saterdag sononder, die 16de van Nisan – die weeklikse sabbat.
Sondagoggend die 16de van Nisan – Opstanding!
Net toe ek die stuk hierbo klaar geskryf het, lees ek iets wat seker as sterk argument teen bogenoemde teorie gebruik kan word. Die Fees van die Ongesuurde Brode word in Eks 12:6-20 ingestel. Vers 16 in die 83-vertaling (in ooreenstemming met vers 17 in die KJV), lui as volg” . . .Op hierdie dag mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.”
As kos op dié dag voorberei mag word, wat is die “preparation” dan waarvan Markus 15:42 praat? Dit is alom bekend dat die “voorbereiding” gegaan het om kos voor te berei omdat daar nie op die sabbat gewerk mag word nie.
Nou is ek deurmekaar en moet voor begin, maar ek los solank hierdie by julle vir ingeval een van julle dalk ‘n antwoord het.
Chris van Wyk
Dis hoe ‘n mens Bybel lees. Sorgvuldig! Welgedaan. Hou aan daarmee.
Friedel
Dagsê Chris,
Om hierdie vraag korrek te beantwoord, moet ons begin deur te verstaan dat daar 2 sabbatte in die kruisigingsweek was.
1. Die eerste dag van die fees van ongesuurde brode (7 dag fees wat volge na die dag van Joodse Pasga).
2. Weeklikse Sabbat (7e dag rus)
Dit word in detail hier verduidelik.
https://www.vibranthearts.org/kruisiging-tydlyne/
3 dae en 3 nagte pas nie heeltemal in jou verduideliking van hierdie artikel in nie.
Vrede.
Chris van Wyk
Hi Friedel, die Bybelse getuienis praat net van een sabbat in daardie week. Hier is die vier evangelies se getuienis oor die kruisiging en opstanding. Dit gebeur op die Vrydag en Sondag (Sondag begin natuurlik reeds 18:00 Saterdagaand) onderskeidelik:
Markus noem die dag van die kruisiging die “voorbereidingsdag” en beskryf dit as die dag voor die sabbat, dws die sewende dag van daardie week (Mark 15:42). Hy beskryf die dag van die opstanding as die oggend ná die sabbat, die eerste dag van die volgende week (Mark 16:1-2).
Volgens Markus was die kruisiging dus op die Vrydag en die opstanding op die Sondag, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.
Matteus doen dieselfde, maar op ‘n ander manier. Hy noem die “volgende dag” ná die kruisiging die dag “ná die voorbereidingsdag” (Matt 27:62). Dit is die dag waarop die leierpriesters en Fariseërs Pilatus gevra het om die graf te verseël. Hy praat dus van die dag van die sabbat, dws die Saterdag, want Matteus sê net daarna, “ná die sabbat”, toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, dws die Sondag, het Maria-hulle die graf leeg gevind (Matt 28:1).
Volgens Matteus het die kruising ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.
Lukas is net so helder soos Markus en Matteus daaroor dat die kruisiging plaasvind op die “voorbereidingsdag” net voor die sabbat sou aanbreek die Vrydagaand (Luk 23:54). Die vroue het op die sabbat gerus (Luk 23:56) en baie vroeg die môre, op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by die graf gekom en dit leeg gevind (Luk 24:1-2).
Volgens Lukas het die kruisiging ook op die Vrydag plaasgevind en die opstanding op die Sondag, tegnies enige tyd sedert 18:00 die vorige aand.
Johannes vertel dit ook soos die ander evangelies dit vertel, maar met ekstra inligting. Om die waarheid te sê, hy vertel dit vanuit drie hoeke.
Pilatus gee in ‘n eerste rondte die opdrag vir die kruisiging op die voorbereidingsdag vir die pasga (Joh 19:14). Hierdie voorbereidingsdag word dan verder uitgespel.
Ná die kruisiging kom die Jode in ‘n tweede rondte na Pilatus, steeds op die “voorbereidingsdag”, en vra dat die liggame verwyder word voor die sabbat wat daardie aand sou begin. Dit is waarom hierdie sabbat ‘n “groot dag” genoem word. En hier raak dit duidelik dat die voorbereiding baie besonders was, want dit was vir die pasga sowel as vir die sabbat (Joh 19:31).
In ‘n derde rondte kom Josef van Arimatea en Nikodemus na Pilatus en vra dat hulle Jesus kan begrawe, omdat dit die “voorbereidingsdag” was en die sabbat binnekort sou aanbreek die aand 18:00 (Joh 19:42). Johannes vervolg die verhaal deur letterlik direk daarna in die volgende vers te vertel dat Maria Magdalena op die eerste dag van die week, dws die Sondag, by ‘n leë graf aangekom het (Joh 20:1). Weereens, die opstanding moes dus êrens op die Sondag gebeur het vóór dagbreek, want die Sondag het al die vorige aand begin volgens die Joodse beskouing.
Volgens Johannes het die kruisiging dus ook plaasgevind op die Vrydag en die opstanding die Sondag, weereens, met die Joodse beskouing in ag geneem dat dit enige tyd sedert 18:00 die Saterdagaand kon gebeur het.
Theodorus Gerhardus Klein
Deon, die verduideliking van die dag van voorbereiding is in Johannes 19:14 – En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Jesus was dus gekruisig op die dag van voorbereiding vir die pasga, nie vir die gewone weeklikse Sabbat nie. Die volgende dag was die “Fees van Ongesuurde Brode” ook ‘n Sabbat volgens die voorskrifte in Levitikus 23, hierdie Fees word deur die Joodse kalender bepaal en is nie op ‘n vaste dag van die week nie, anders as die weeklikse Sabbat. Daar was dus die Groot Feesdag waaop ook geen werk gedoen mag wees nie en die normale weeklikse Sabbat. Daar is ook geen aanduiding in the Nuwe Testament wanneer Christus uit die dood opgestaan het nie. Net ‘n lee graf is gevind vroeg na die weeklikse Sabbat. Die Goeie Vrydag teorie kan op geen manier die enigste teken gegee deur Jesus, naamlik “Drie dae en drie naget” verduidelik nie. Friedel is reg met die Groot Feesdag en die weeklikse Sabbat op twee verkillende dae in die week to Christus gekruisig was.
Theodorus Gerhardus Klein
Dit is ook onwaarskynlik dat die Joodse Raad op die Groot Feesdag of op die weeklikse Sabbat gaan vra het dat die graf beveilig moet word. Die Keiser beopdrag toe dat hulle dit self mag doen. Nog meer onwaarskynlik is dat die Joodse Raad die graf sou seel en bewaak op die Groot Feesdag en/of op die weeklikse Sabbat. Dit is meer waarskynlik dat hull dit die Vrydag oggend sou doen, na die Groot Feesdag.