Nuusbrief Junie 2024
Ek skryf hierdie nuusbrief ná die verkiesing in SA en is baie bewus van die ongekarteerde waters waarin ons nou verkeer met die koalisies wat ons voorland is.
Ek is ook intens bewus van die feit dat hierdie dinge nie in isolasie van ons verhouding met God gebeur nie. Dit leer ek ook in my stiltetyd waar ek tans besig is met die verhale van die konings en profete van die 8ste tot 6de eeu vC.
Een van die uitstaande dinge wat ek geleer het wat ‘n mens in sulke tye van onrus en nood moet doen, is om nog dieper en met meer doelgerigtheid op die Here self te fokus.
Jesaja gee dié raad in hoofstuk 30:15 aan die volk wat in nood is:
Want so sê my Heer, die Here,
die Heilige van Israel:
“In bekering en rustigheid
lê julle redding,
in kalmte en vertroue lê julle krag.”
Dit is egter raad wat die konings van die Noordryk geweier het om te aanvaar, en die volk is daarom in 722/1 vC in ballingskap weggevoer.
Die raad is gelukkig wel aangegryp deur koning Hiskia van die Suidryk. Hy het met die dreigbriewe van die Assiriërs in die tempel voor die Here gaan kniel, dit voor Hom uitgesprei, en gevra dat Hy sal optree.
Die Here het op ‘n deurslaggewende wyse geantwoord. Hy het 185 000 Assiriërs laat sneuwel met koning Sanherib wat druipstert terug is na sy hoofstad Nineve waar hy deur sy twee seuns om die lewe gebring is, ‘n historiese feit wat ook in die Assiriese annale bevestig word (2 Kon 19; 2 Kron 32; Jes 37).
Dit is ‘n woord ook aan elkeen van ons. Ons krag lê in stil vertroue wat ruimte laat vir God om op te tree. Wees gehoorsaam. Doen wat jy moet. Maar, vertrou die Here vir die uitkoms. (Jy kan vanaf Augustus die bydraes lees wat ek oor Hiskia en die verdere konings sal plaas)

Onlangse kommentaar