Skip to main content

3 Johannes – Getrouheid aan die waarheid en gasvryheid word geprys en aangemoedig

Johannes noem homself in dié brief net soos in 2 Johannes weereens net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros vertaal kan word.  Hierdie rig hy die brief egter aan Gaius, “die geliefde”, soos die Griekse woord agapetos vertaal kan word.  Sommige vertaal dan dié woord ook as vriend, soos in die N.A.V..

Daar is drie ander Christene in die NT wat die naam Gaius dra:

  • Gaius van Korinte wat deur Paulus gedoop is en bekend gestaan het as ’n gasvrye man (Rom 16:23; 1 Kor. 1:14);
  • Gaius van Masedonië wat saam met Paulus op sy tweede sendingreis was en saam met hom in die moeilikheid kom in Efese (Hand 19:29);
  • Gaius van Derbe wat saam met Paulus op sy derde sendingreis was (Hand. 20:4).  Laasgenoemde is deur Johannes biskop van Pergamum gemaak – die gemeente aan wie Johannes die derde brief in Openbaring geskryf het waarin hy leerstellige sake aangeraak het (Openb. 2:12-17) – volgens ’n tradisie wat uit die 4de eeu n.C. kom.

Hoewel Gaius uit Derbe dus die mees waarskynlike identifikasie met die Gaius in Johannes se derde brief is, kan ’n mens dit nie met stelligheid bewys nie, omdat daar geen ander duidelike aanduiding hiervan uit die vroeë kerkgeskiedenis is nie.  Die tradisie uit die 4de eeu verbind ongelukkig ook nie eksplisiet dié Gaius van Pergamum aan die Gaius van die 3de Johannes brief nie.  Dit bly egter die mees waarskynlike identifikasie.

Gaius word deur Johannes geskets as iemand wat hom aan die ware leer probeer hou het (vers 3-4), wat ’n groot invloed in sy gemeenskap gehad het (vers 5), omdat hy gerespekteer is (vers 2,6) en vermoënd genoeg om reisende leraars finansieel te ondersteun (vers 6) – soos Smalley dit tereg opsom (Word kommentaar).  Hy was egter ook iemand wat self maklik beïnvloedbaar was en daarom aangemoedig moes word om te fokus op die goeie voorbeelde, nie die slegtes nie (vers 11).

Johannes se voorbidding en blydskap oor Gaius se getrouheid aan die waarheid – vers 1-4

Johannes bid (N.A.V. vertaal “hoop”) dat dit met Gaius se gesondheid in alle opsigte net so goed sal gaan as wat met hom geestelik (Griekse woord siel word gebruik) gaan.  Dit is veral Gaius se getrouheid aan die waarheid wat vir Johannes groot vreugde verskaf.  Só het die berig Johannes bereik deur medegelowiges wat by hulle in Efese aangedoen het.  Gauis het die “pad van die waarheid geloop” (N.a.v. vertaal: “in die waarheid lewe”).

Johannes se blydskap oor Gaius se gasvryheid – vers 5-8

Johannes is ook bly vir Gaius se gasvryheid vir besoekende gelowiges, veral omdat dié mense vir hom vreemdelinge was.  Sy liefde vir hulle is prakties bewys en Johannes moedig Gaius aan om hulle verder te help op hulle reis vir die evangelie, op ’n manier wat God waardig sal ag.  Daarmee, sê Johannes, word ons medewerkers van die waarheid en help ons die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus.

Johannes kontrasteer die optredes van Diotrefes en Demetrius – vers 9-12

Johannes waarsku Gaius egter teen die hoogmoed en magsbeheptheid van Diotrefes wat gesteld is op sy status en magsposisie in die gemeente en daarom nie net Johannes-hulle se gesag verwerp nie, maar doelbewus slegte en valse gerugte oor hulle versprei.  Hy bewys ook nie gasvryheid nie, wat wys hoe hy ’n streep trek deur die praktiese hulpbetoon wat die kenmerk van die Christelike gemeenskap is en behoort te wees.  Trouens, hy keer dié wat gasvryheid wil betoon en dryf hulle uit die gemeente uit.

Johannes waarsku Gaius dus om hom van Diotrefes te distansieer en eerder die voorbeeld van Demetrius te volg wat ’n positiewe getuienis  van almal het, Johannes-hulle inkluis.  Daar word op een ander plek in die NT van ’n Demetrius gepraat, die silwersmid wat Paulus hulle soveel probleme in Efese gegee het (Hand. 19:23-41).  Dit sou wonderlik wees om te dink dat dié man tot bekering gekom het en nou as voorbeeld vir die gelowiges voorgehou word.  Daar is ook sprake uit ’n 4de eeuse tradisie van ’n Demetrius wat deur Johannes as biskop van Filadelfia aangestel is – die gemeente aan wie die 6de brief in Openbaring geskryf is (Openb. 3:7-10).  Daar is egter geen ander getuienis om dit te staaf nie, so dit bly net ’n interessante moontlikheid.

Slot

Johannes sluit die brief op dieselfde manier as sy 2de brief en voeg by dat Gaius se vriende vir hom groete stuur.  Johannes is op pad en sal sake aanspreek en regstel met sy koms.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

3 Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders