Skip to main content

Tag: Jesaja

Jesaja as boek

Julle sal almal waarskynlik al in preke of kommentare gehoor en gelees het van die indeling van Jesaja in drie dele: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja.  Dit is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C.  Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.

Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind.[1] Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien.  Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.

Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer.  Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie.  Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.

Dit is ook hoe ek graag die boek Jesaja met julle wil deurlees.


[1] Alphonso Groenewald, Nuutste ontwikkelinge in die studie van die boek Jesaja http://teo.co.za/artikel/articles/222/1/Profetenavorsing01-Nuutste-ontwikkelinge-in-die-studie-van-die-boek-Jesaja/Bladsy1.html .  Gepubliseer 10 Augustus 2009.

Jesaja 1 – Julle ken My nie

Hoofstuk 1-5 vorm ’n eenheid en handel oor die saak wat die Here teen sy volk het.  Hoofstuk 6 handel oor die roeping van Jesaja as profeet, wat terugverwys na die eerste deel en ook die tweede deel, hoofstuk 7-12 inlei.  Daar word gefokus op die belofte aan Agas, ’n belofte wat hy verspeel het, maar wat op uitnemende wyse in Jesus eeue later vervul is.  Die eerste van ’n aantal oordele oor die nasies – die een oor Assirië – word tussenin in hoofstuk 10 vertel.

Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die koningstydperke van Ussia (word ook Asarja genoem in 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda – ongeveer van die jaar 740 – 697 v C, die sterfjare van onderskeidelik Ussia en Hiskia.

Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).

In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel.  Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, en nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie.  Dit sit agter:

1.       die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land –  1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jes 36 en 2 Kon 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);

2.       die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en  tot bekering roep – 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);

3.       die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).

Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (:19); Hy belowe nuwe leiers (:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (:27).

Ander bydraes vir vandag

WEEK 1 – Jesaja 1-6

Kies ’n Bybellees metode

Soos gebruiklik gee ek ’n aantal maniere waarop jy die Bybel kan lees.  By die spyskaart hierbo is daar ’n aantal bydraes wat ek al daaroor geskrywe het Inligting/Bybellees.  Jy kan ook kyk na die preek wat ek 16 Januarie 2011 by Klema gelewer het waar ek aan die hand die verhaal van Josua die skuif van ’n fokus op die gesproke na die geskrewe Woord van God verduidelik (Jos 1:1-9; vgl Eks 17:8-16, veral vers 14; 33:7-23, veral vers 11; En vgl Jos 24:26 waar Josua self bydra tot die geskrewe Woord van God!).  En dan 8 maniere uitspel waarop ons na God se Woord kan luister.

Ek wil een metode byvoeg waarin ek die gewoonte van die daily examen (Ignatius – vgl ook John Ackerman se Stop/Look/Listen metodiek en die artikel daaroor by Communitas) kombineer met die lees van die Bybel.

Gebruik ’n Joernaal om jou gedagtes en ervarings neer te skryf – dan kan jy altyd teruggaan en bemoedig word deur die manier waarop die Here jou deur sy Woord begelei.

1. STOP: Raak bewus van God se teenwoordigheid – fokus bv. op jou asemhaling deur effe dieper as gewoonlik asem te haal.
2.       KYK: Dink waarderend terug oor gister – fokus op dit wat goed was en hoe jy daaroor gevoel het.
3.       WAARDEER: Kies een aspek en bid daaroor – verwoord jou dankbaarheid teenoor God vir wat Hy vir jou is en doen.
4.       LEES: Lees die gedeelte vir die dag uit die boek Jesaja – skryf neer wat jou tref.
5.       LEER: Lees die dagstukkie op die Internet (of e-pos) – skryf neer wat jou tref en as jy vrae het of ’n bydrae wil maak, doen dit by www.bybelskool.com by comments aan die onder kant van die bydrae (terloops: daar sal No comments staan as niemand nog iets geskryf het nie, of 1 comment of 2 comments as iemand al kommentaar gelewer het).
6.       LUISTER: Kies een van die gedagtes in die teksgedeelte en dink verder daaroor na. Wat beteken dit vir jou prakties?  Dink spesifiek na oor hoe dit verband hou met wat gister gebeur het.
7.       ANTWOORD: Antwoord die Here op wat Hy vir jou sê –  skryf neer wat Hy vir jou wil wees, wil doen of wat Hy van jou vra om te wees of te doen.

Leesplan Jesaja

Baie welkom by hierdie Bybelskool oor die boek Jesaja.  Ons gaan hierdie boek DV deurlees in die eerste kwartaal 2011.

Hier is die leesplan:

Datum Teks Byeenkoms (18:30)
20-26/1 Jesaja 1-6 26/1
27/1-2/2 Jesaja 7-12 2/2
3-9/2 Jesaja 13-27 9/2
10-16/2 Jesaja 28-35 16/2
17-23/2 Jesaja 36-39 23/2
24/2-2/3 Jesaja 40-48 2/3
3-9/3 Jesaja 49-55 9/3
10-16/3 Jesaja 56-61 16/3
17-23/3 Jesaja 62-66 23/3
24-30/3 Jesaja in die NT 30/3

Ek gaan in die eerste week elke dag ’n paar inleidende opmerkings oor die boek Jesaja maak.  Ek plaas dit onderaan elke bydrae, sodat die fokus steeds val op die lees van die Bybel.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda