Skip to main content

Tag: dienaar van die Here

Wie is die Dienaar van die Here in Jesaja?

http://www.discipledaily.org/wp/Die Dienaar van die Here in Jesaja verwys soms na ‘n individu (bv. Jes. 42:1-9) en soms na die volk (bv. Jes. 42:1-25).  Wanneer daar na ‘n individu verwys word, is die fokus op wat dié dienaar deur sy gehoorsaamheid sal regkry vir die volk (bv. Jers. 43:1-13). Wanneer daar na die volk verwys word, word hulle as mislukte dienaar van die Here geteken (bv. Jes. 42:1-25), maar die hoop uitgespreek dat hulle tog ‘n lig vir die nasies sal wees deur die werk van die dienaar van die Here as individu (bv. Jes. 44:1-45:8).

Dit is waarop Jesaja 49-50 ook op fokus, die dienaar van die Here wat die volk moed in sal praat om hulle taak as God se verteenwoordigers op aarde na te kom.  Daarvoor moes dié dienaar onnoembare lydig deurgaan soos dit veral in Jesaja 52-53 beskrywe word: “deur óns oortredinge is Hy deurboor.

Daarom skryf ek in my bydrae oor Jesaja die volgende oor die identifikasie van die Dienaar as individu met Jesus (Kry my eboek hier):

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.  Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Jesus het dus hierdie profesie van die Dienaar van die Here (die individuele een) vervul.  Daar word dus in Jesaja na Jesus verwys, maar natuurlik in terme van ‘n profesie wat eers vanuit die vervulling daarvan in die NT duidelik geword het.

Jesaja 64 – Bid dat God nou ‘n verskil maak

Tweede deel van die gebed

64:1-5a – Jesaja bid namens die volk dat God weer groot wonders sal doen soos vroeër, berge wat skud, vuur wat brand, dat veral die nasies kan weet, God kom dié te hulp wat onthou hoe Hy wil hê hulle moet lewe.  Jesaja maak dus staat daarop dat God nie net transendent is en afsydig sal bly nie, maar immanent sal word – “die hemel oopskeur” – en ‘n verskil in hulle tyd sal maak.

64:5b-7 – Maar, die probleem, erken Jesaja, is dat die volk juis dit nie gedoen het nie – om God te vertrou en te doen wat Hy wil nie.  Daarmee bely hy uiteindelik namens die volk hulle skuld en erken hy dat hulle regverdiglik deur God gestraf is.  En gee Jesaja vir ons insig waarom gebede soms nie beantwoord word nie, al het ‘n mens beloftes waarop jy kan staatmaak.  Sonde en ongeloof dwarsboom meesal God se ingrype, hoewel Hy nooit aan bande gelê kan word om nie soms in elk geval in te gryp en verandering te bring, as dit in Sy plan pas nie.

64:8-12 – Saam met dié erkenning van God se “onskuld”, herinner Jesaja vir God, dat Hy hulle Vader is (histories gesproke), en hulle Skepper (algemeen gesproke), en bid Hy ernstig dat God nie sal aanhou om kwaad te wees vir hulle nie en hulle sondes teen hulle sal hou nie.  Hy vra dat God tog sal ingryp en die stad en tempel weer herstel.  Hy beroep hom dus op God se genade.  Terloops: dit is duidelik dat die gebed die tyd van die ballingskap veronderstel.

Die idee van God as Vader is iets wat nie baie in die Ou Testament voorkom nie, moontlik omdat sommige godsdienste ‘n verwantskap tussen gode en mense getrek het, wat juis anders was in die OT visie op God.  God is Skepper, die Gans Andere, en ons skepsels, die maaksels van Sy hande.  In die NT het die konsep van God as Vader veral in Jesus se verhouding met die Vader na vore gekom as beskrywing van die intimiteit van dié verhouding.  En so, veral met die gebed wat Jesus ons geleer het – die Ons Vader – het die benaming van God (Vader) gemeengoed in die Christelike gemeenskap geword (vgl Rom 8:15).  Onthou net dat dit steeds metafore vir God is, en nie werklike beskrywings nie – en dat Hy in Jesaja ook as moeder (Jes 66:13 – vgl ook Ps 131) en as kind (Jes 9:5) geteken word, afhangende van die konteks en die punt wat die Bybelskrywers probeer oordra.

Die volgende twee hoofstukke, hoofstuk 65-66, gee ‘n antwoord op dié gebed van Jesaja, en gee vir ons ook ‘n kykie in hoe gebedsverhoring werk. Jy is welkom om solank die artikel van Neels Jackson op Facebook oor die onderwerp te lees.

Jesaja 63 – Selfs in oordeel kan jy jou op God beroep

Jesaja 63 en 64 vorm ‘n eenheid en is opgebou uit twee dele:

  1. Jesaja 63 se eerste perikoop drup van die bloed.  God se oordeel oor die nasies word in grafiese detail beskrywe – 63:1-6.
  2. Dit word opgevolg met ‘n gebed van Jesaja namens Israel vir hulle verlossing – 63:7-64:12.

63:1-6: Die Here self kom van Edom en hulle hoofstad Bosra af nadat Hy die volke getrap het in Sy toorn om sy volk te red.  Niemand het Hom bygestaan nie, net sy woede was by Hom.  Die geweld van die oorwinning het sy klere rooi gekleur – ironies genoeg presies wat die naam Edom beteken.  Waarskynlik staan Edom hier ook as simbool van die wêreld wat in opstand teen God is (vgl hfst 36 – vgl ook Open 14:17-20 waar dié beeldspraak verder geneem word). Dit beteken dat dit ook ‘n boodskap het vir die wyse waarop God uiteindelik die wêreld gaan hanteer aan die einde van die tyd.

63:7-64:12 – Die gebed het twee dele: 63:7-19 en 64:1-12 (daaroor môre).

Daar is ooreenstemming: die twee dele van die gebed begin bv. elkeen met ‘n terugdink na die Uittog uit Egipte en eindig met ‘n belydenis van God se Vaderskap.

Daar is egter ook verskille: in die eerste deel van die gebed verkwalik Jesaja nog God vir die situasie waarin hulle hul bevind – selfs hulle hardkoppigheid word aan God se werk toegeskryf (vgl Jes 6).  In die tweede deel van die gebed kom hy namens hulle egter tot skuldbelydenis – hy bely dat hulle almal deur hulle eie sondes weggewaai is.  En die gebed eindig met ‘n roerende uitroep dat God tog sal ingryp en die stad en tempel weer sal herstel.

Eerste deel van die gebed

63:7-10 – Jesaja gee hier ‘n oorsig oor God se troue liefde soos geïllustreer is met die Uittog uit Egipte. Let op hoe hoog die verwagting was: hulle is “kinders wat nie ontrou sal word nie,” en hoe volledig God vir hulle gesorg het: “Hy self was die engel (vgl Eks 23:20) wat hulle gered het … Hy het hulle altyd gedra.”  Die volk het egter in opstand teen Hom gekom sodat Hy noodgedwonge hulle vyand geword het.

Dit laat ‘n mens besef hoe ernstig boos sonde en opstand teen die Here is.  Tog sien ‘n mens steeds hoe volledig God Homself kan gee vir mense wat hulle oë op Hom rig.  Dit motiveer juis vir Jesaja om namens die volk by Hom om hulp en verlossing aan te klop, al het hulle ernstig drooggemaak.  Terloops, hierdie is slegs een van twee plekke in die OT waar van die Heilige Gees gepraat word (die ander plek is in Ps 51:13).  Die onderskeid van die engel (God self), die Heilige Gees, en verder aan die Vader, dui nog nie op die Drie-eenheid as sodanig nie, maar dui wel op ‘n sekere onderskeid in God.  Dit is ‘n merkwaardige insig wat bygedra het tot die ontwikkeling van die leerstuk van die Triniteit.

63:11-15 – Hy herinner die Here aan die volk wat in hulle nood aan God se groot dade in die verlede gedink het en na Hom gevra het, en inderdaad nou weer ernstig vra dat Hy hulle weer sal raaksien soos in die verlede.

63:16-19 – Hy bely namens die volk dat God hulle Vader is, maar pak die skuld vir hulle hardkoppigheid eintlik op God self (Jes 6).  Hy vra dat God die situasie tog sal verander.  Terloops – die “kort tydjie” is waarskynlik ‘n poëtiese manier waarop Jesaja sy ervaring uitdruk dat die tyd tussen die Intog en die ballingskap vir sy gevoel net te kort was.

TERLOOPS: Somerstranders het my gevra wat ek dink van Willie Esterhuyse se nuwe boek: Die God van Genesis.  Ek het nog nie tyd gekry om dit te lees nie, maar hier is Mike Smuts se weergawe van sy lees daarvan, vir die van julle wat belangstel.  Ek sal ook nog kommentaar lewer op Willie se boek oor die Gode van Egipte …

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.