Psalm 104:25-35 – Almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd
Pinksterdag!
Die RCL sluit net hierdie deel van Psalm 104 hierdie jaar in. Dit is só ‘n pragtige Psalm dat ek die eerste deel volgende week gaan hanteer (in die plek van die RCL teks Psalm 8 wat ek vroeër al hanteer het).
Psalm 104:25-35 – Almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd
25Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; 26daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel. 27Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. 28Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. 29Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. 30Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond ‘n nuwe voorkoms. 31Mag die majesteit van die Here vir ewig duur; mag die Here Hom verheug in sy werke, 32Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook. 33Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil my God besing solank ek bestaan. 34Mag my bepeinsing vir Hom aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in die Here. 35Mag sondaars van die aarde af verdwyn en goddeloses nie meer bestaan nie. Loof die Here, o my siel! Halleluja!
Psalm 104 is saam met Psalm 8, 19, 29 en 148 die vyf Psalms van die natuur of die skepping in die Psalmboek. Daar is baie maniere om hierdie lofpsalm in te deel. Ek kies vir ’n eenvoudige ses-deling wat vier dinge uitspel waarvoor die Here geloof en geprys moet word, en afgerond word met ’n gebed vir God en ’n verbintenis tot lofprysing aan Hom (ons lees vers 25-35 vandag en vers 1-24 volgende week): 1) God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4. 2) God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13. 3) God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14-24. 4) Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30. 5) Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32. 6) Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35.
Die Psalm loof die Here dat alles en almal van sy versorging afhanklik is: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 27). Dit geld die seediere, en die seevaarders, selfs die oer seedier die Leviatan (simbool van die chaos magte wat deur God beheer word – vgl Job 3:8 en veral 40:20 waar die woord eerder met “seedraak” vertaal moet word, weens die simboliek). Alles kom uit God se hand – versorging en die lewe. Sonder God se guns is geen lewe moontlik nie. Hy is die soewereine Skepper Heer. Hy is ook die soewereine Voorsiener Heer. Dit laat die Psalmis die hoop en gebed uitspreek dat God tog sal voortgaan om Hom te verheug in sy werke, soos dit van Hom in die Genesis 1 gedig vertel is. Mag sy Majesteit vir ewig duur, soos ook sy blydskap in sy Skepping, al is sy blik soms ook dreigend en donderend.
Die Psalmis sluit af met die verbintenis om van sy kant af die Here te loof en prys. Dit is waarvoor hy bestaan. Soos hy elke woord in lofprysing aan die Here moet opdra, so moet elke gedagte (bepeinsing, besinning) van hom in die eerste plek vir die Here, soos ’n geurige offer, aangenaam wees. Hy wil hom verheug in die Here sy hele lewe lank, met woorde en gedagtes.Net voor hy afsluit met die laaste: “Loof die Here, o my siel! Halleluja!” kry hy ‘n dwarsklap in na die sondaars en goddeloses vir wie hy tot nie-bestaan verwens. Hulle is ’n klad op God se goeie skepping en verdien nie om in die ruimte wat God geskep het, te gedy nie. Die implikasie is dat hulle voortbestaan God se goeie Skepping in gedrang kan bring (Allen).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-104-hoe-groot-is-u-hoe-groot-is-u/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar