Johannes 16:4-15 – Die Gees sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel
Ons het in die kerkjaar gekom by die tyd wat “Ordinary time” (RCL) of “Koninkrykstyd” (Leesrooster) genoem word. Dit is die 24 weke tussen Pinkster en Advent waarin die Evangelie lesings fokus op verhale uit die bediening van Jesus. Saam met die ander tekste uit die OT en NT gaan dit in hierdie tyd oor die wyse waarop die koninkryk van God besig is om gestalte in die lewe te kry. “Ordinary time” is dus nie “gewone tyd” nie, maar “gestruktureerde tyd” (“ordinary” word in die betekenis van “ordinals” gebruik, dws “genommerde” tyd). Vandaar die keuse van die Leesrooster om dit “Koninkrykstyd” te noem. Dit is ‘n tyd waarin ons fokus ook op ons eie roeping en bediening in hierdie wêreld. Met die beloftes van die Here wat ons aanspoor om te volhard totdat Hy die beloftes in ons lewens vervul. Volgende Sondag is ook Drie-Eenheidsondag. Ek fokus hierdie week dus ook op die Drie-Eenheid.
Johannes 16:4-15 – Die Gees sal die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel
4b“Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. 5Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. 6Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. 7Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 9“Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; 10van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; 11van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. 12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. 14Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. 15Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.”
Waar Jesus vroeër alleen bewus was van die teenstand uit die wêreld, lig Hy sy dissipels nou daaroor in, sodat hulle paraat kan wees wanneer dit ook met hulle gebeur. Jesus waarsku hulle egter nie net oor die realiteit van die vervolging nie. Hy praat ook oor sy hemelvaart en fokus spesifiek op die voordeel wat dit vir hulle het, want ná sy hemelvaart kan Hy die Heilige Gees, die Helper, vir hulle stuur. Daar is immers ‘n spesifieke rol wat elkeen van die drie Persone in die Drie-eenheid speel soos deur God die Vader bepaal. Uiteraard deel hulle Een Godheid, maar in Drie Persone waarin daar ook ‘n duidelike onderskeid is. Soos die Geloofsbelydenis van Athanasius dit sê: artikel 2: “Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer, artikel 3: sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.” (lees die hele geloofsbelydenis hier)
Die Heilige Gees se rol sal wees om aan die een kant die sondigheid van die wêreld aan te toon, sowel as die oordeel oor die duiwel (negatiewe funksie) en daarteenoor aan die ander kant dat die reg aan Jesus se kant is (positiewe funksie). Die Heilige Gees sal mense van die sonde van ongeloof in Jesus oortuig, as ‘n mens die konteks in gedagte hou. Die Heilige Gees sal as die Gees van waarheid met Jesus se hemelvaart die rol oorneem om hierdie wêreld van die waarheid in Jesus te oortuig. Dit is natuurlik dieselfde waarheid as wat Jesus as die Waarheid (Joh 14:6) en die Woord as die waarheid verkondig (Joh 17:17), want verder aan sal Jesus dit verder uitbrei deur te sê dat die Gees die waarheid sal verkondig soos Jesus dit in die eerste plek verkondig het. Die Heilige Gees sal die mense ook van oordeel oortuig, want met Jesus se verheerliking deur die kruis, opstanding en hemelvaart sal die regeerder van hierdie wêreld, die duiwel, geoordeel word, ‘n oordeel wat uiteindelik almal wat nie in Jesus glo nie, sal tref. Let op dat die Gees dus nie net ’n interne private rol in die gelowiges het nie, maar ook ’n publieke rol. Jesus besef dat hulle nie alles nou kan inneem nie, maar belowe dat die Heilige Gees hulle sal lei in die volle waarheid deurdat alles wat Jesus vir die gelowiges verwerf het, deur die Gees aan hulle gegee sal word. Dit sluit ook die waarheid oor die toekomstige dinge in. Let op dat die dinge wat die Gees sal kommunikeer vanuit die kommunikasie van die Drie-eenheid sal kom. Jesus het van die Vader ontvang, en die Gees weer van Jesus. Dit is dus een waarheid, want dit kom van een God. Die Vleesgeworde Waarheid (Jesus), die Geskrewe waarheid (Skrif) en die inwonende Waarheid (Gees) het dieselfde inhoud. Die Heilige Gees, die Helper, is dus die eerste groot bate van ons verhouding met die Here Jesus. Hy help ons nie net met ons eie private lewe in gehoorsaamheid aan Christus nie, maar is ook die Een wat deur ons publieke getuienis met hierdie wêreld in gesprek tree om hulle van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig. In die proses lei Hy ons in die volle waarheid.
Wat ons egter goed moet verstaan van hierdie waarheid is dat dit direk staan teenoor die waarheid van die wêreld. Daar kom ‘n dag van afrekening wanneer God die boeke van ons gewetens (Openb 20:12; NGB 37; vgl 2 Kor 5:10; Matt 12:36) sowel as die boek van die lewe (Fil 4:3; Openb 3:5; 13:8; 17:8; 20:12,15; 21:27; 22:19) – wat ook die boek van die Lam genoem word (Openb 13:8; 21:27) – sal oopmaak en sy regverdige oordeel oor die mensdom sal fel. Ek weet nie van jou nie, maar dit is nie gedagtes wat ek baie hoor as mense oor die Heilige Gees en sy werk praat nie. Die persoonlike bemoedigende vertroostende kant van die werk van die Heilige Gees oorheers gewoonlik. Hierdie publieke konfronterende kant van sy werk word baie minder beklemtoon. En ek wonder of dit nie baie keer ‘n rede is waarom ons die werk van die Gees nie agterkom nie. Want ons is nie beskikbaar vir Hom om in gesprek te tree met die mense van hierdie wêreld nie. Ons is nie betrokke by mense om hulle aan die evangelie bloot te stel nie. Gevolglik ervaar ons die Gees nie. Net op tye waar ons nood ervaar en vertroosting nodig het. Want ons is nie op die plekke en besig met die mense waar die Gees se werk nodig is nie. Die Gees help ons om Jesus se stem te word op aarde. En almal moet sy stem hoor. Dit is waarvoor die Heilige Gees in jou woon. Om in jou kontak met mense in hierdie wêreld hierdie boodskap oor te dra: oor sonde, oor geregtigheid, oor oordeel. Die Gees is met daardie doel gegee. Jy kom sy werking in jou agter wanneer jy jou beskikbaar stel om oor hierdie dinge te praat, om die Heilige Gees toe te laat om deur jou sy oortuigingswerk te doen.
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-161-33-die-heilige-gees-is-ons-inspirasie/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar