Perspektiewe oor oordeel, veroordeling en beoordeling
Ek het ‘n navraag gekry oor die rol wat oordeel en veroordeling in gelowiges se lewe mag speel, indien enigsins:
“Die woord ‘veroordeel’ is nogal ‘n tameletjie onder Christene. Ek verstaan dit dat ons nie die mens moet veroordeel nie, maar die sonde wat gedoen word. Ons is tog instrumente in GOD se hande om vir mekaar die regte pad aan te wys? Of beteken die ‘nie veroordeel nie’ dat ons alles moet verdra in liefde? Hoe anders gaan ek weet as ek iets doen wat die HERE bedroef, as iemand my nie op my verkeerde dade wys nie?”
Perspektiewe
Hier is ‘n paar perspektiewe vir nadenke oor hierdie groot vraagstuk:
God is die Alleen en Hoof Regter
Die teologiese vertrekpunt vir die onderwerp van oordeel, veroordeling en beoordeling lê in die wyse waarop God Hom as die Alleen en Hoof Regter van die hele aarde in die Bybel openbaar. Alle denke oor die wyse waarop ons oordeel, veroordeel of beoordeel vloei daaruit voort.
God is die Regter van die hele aarde (Gen 18:25; Ps 94:2; Rom 3:6). Hy is Almagtig en Soewerein (Gen 17:1; Eks 6:2), die Enigste, die onvergelyklike unieke God (Deut 6:4; Jes 40:18), die Een wat geen bystand van enige aard verlang nie (Deut 32:39). Sy Woord is wet (Jes 1:10), want Hy is altyd reg (Ps 19:9; 33:5; 89:15; 92:16; 119:137; Spr 8:8). Hy bewaar die paaie van die reg (Deut 32:4; Spr 2:8).
God is die absolute geregtigheid
Hierdie reg van God is gebaseer op drie van sy Goddelike eienskappe sê Wick Broomall in sy artikel “Judge, Judging” in The Wycliffe Bible Encyclopedia:
- God se absolute geregtigheid (Ps 9:8; 96:13; 98:2,9);
- God se kennis van selfs die diepste geheime van die mens (Job 34:21-28; Jes 28:17; Rom 2:16);
- God se onweerstaanbare vermoë om belonings te gee of te straf (Ps 11:5-7; Rom 2:1-16).
God maak nooit enige fout in sy oordeel van die mens nie (Gen 18:25; Deut 32:4; Job 8:3; 34:10,12; Rom 3:5). Almal kan daarom sy oordeel aanvaar, omdat dit absoluut regverdig is (Ps 9:4,7-8; 89:14; 97:2) en God volgens die waarheid oordeel (Rom 2:2).
God se wil is die standaard vir enige oordeel
God se wil is die standaard wat in enige oordeel gebruik word (Ps 33:11; 135:6; Ef 1:9-10; Openb 4:11). Alle mense word daarom opgeroep om sy wil te leer ken (Mark 3:35; Joh 7:17; Rom 12:1-2; Kol 1:9), sodat sy wil uitgevoer kan word (Hebr 13:21).
God maak sy wil aan gelowiges bekend deur sy Besondere Openbaring in die Skrifte (Ps 19:8-11; 2 Tim 3:14-17) en die vleesgeworde Woord, Jesus Christus (Joh 1:1-18), soos die Heilige Gees dit vir ons uitlê (Rom 8:16,27; 1 Pet 2:21). Hy maak ook sy wil aan alle mense bekend deur sy Algemene Openbaring (Ps 19:2-7; Rom 1:19-20) wat wel deur die bril van die Besondere Openbaring beskou moet word. Dit kan immers nooit in stryd daarmee wees nie.
God oordeel, veroordeel en beoordeel
Dit is ook op grond van hierdie wil van God wat God kan oordeel, veroordeel en beoordeel. Daar is talle voorbeelde daarvan in die Bybel:
- God se oordeel oor Adam en Eva sowel as die hele mensdom in Eden (Gen 3; Rom 5:12);
- God se oordeel oor die antieke wêreld deur die sondvloed (Gen 6-8; Luk 17:26-27; 2 Pet 2:5; 3:5-6);
- God se oordeel oor Sodom en Gomorra (Gen 19; Luk 17:28-30; 2 Pet 2:6);
- God se oordeel oor die leër van Egipte (Eks 14);
- God se oordeel oor Israel met die verhaal van die goue kalf (Eks 32), sowel as oor die verskeie opstande in die woestyn (Num 14; 16; 25);
- God se oordeel oor die ongelowige Jode weens hulle verwerping van Jesus as die Messias (Luk 21:20-24; 1 Tess 2:14-16);
- God se verkondiging van die finale oordeel oor almal wat die Here Jesus Christus verwerp (Joh. 3:36; 5:24; 2 Tess 1:8-9; Hebr 10:26-31; 12:25; 2 Pet 2:1-10);
- God se openbaring van die finale oordeel oor alle mense (Matt 11:22-24; 25:31-46; Hand 17:31; 2 Pet 2:9; 3:7; Openb 20 :11-15).
God verleen aan ons ’n afgeleide reg tot oordeel
God duld dus geen kompetisie in sy oordele nie, want Hy is Almagtig en Soewerein. Hy kan absolute gehoorsaamheid aan sy wil verwag in enige reg wat Hy in dié verband aan ander toeken.
- In die OT lees ’n mens wel van die reg wat God aan ouers verleen om met onderskeiding hulle kinders in die weë van die Here groot te maak. Maar dit is ’n afgeleide reg.
- Dié reg is ook aan leiers verleen, soos Moses, Aäron, Josua en al die Rigters ten opsigte van die volk. Ook die priesters, profete en latere konings het sekere elemente van regspraak ontvang op hulle spesifieke terrein. Dit is ook ’n afgeleide reg.
Die verskil tussen oordeel, veroordeling en beoordeling
Die Bybel praat op verskillende maniere oor oordeel, veroordeling en beoordeling. Die konteks waarin die woorde gebruik is baie bepalend vir watter betekenis ‘n mens aan die woorde heg.
Die woorde oordeel (krinō) en veroordeling (katakrinō) word gebruik in die betekenis van iemand skuldig te verklaar, om iemand aanspreeklik te hou vir straf. Veroordeling is ‘n intenser vorm van ordeel.
Beoordeling (diakrinō) word gebruik in die betekenis van evaluering op grond van goed nagevorsde en gedetailleerde inligting. ‘n Geestelik volwasse persoon kan deur die innerlike werking van die Gees alle dinge beoordeel (1 Kor 2:15). Ook profete se boodskappe moet deur ander beoordeel word. Dit kan ander profete wees, mense met die gawe van onderskeiding of doodgewoon lede van die gemeente (1 Kor 14:29).
Jesus oor oordeel en veroordeling
Jesus sê duidelik moenie oordeel nie (krinō), dan sal jy nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie (katakrinō), dan sal jy nie veroordeel word nie (Luk 6:37).
Dit gaan in beide woorde – oordeel en veroordeel – oor die uitspraak om iemand skuldig te verklaar, om iemand aanspreeklik te hou vir straf. Veroordeling is net ‘n intenser oordeel. Veroordeel dra die betekenis van absoloute sekerheid: “jy is vir seker skuldig.”
Jesus is uiteraard nie besig om te sê dat ‘n amptelike proses van onderskeiding per definisie verkeerd is nie. Jakobus lei die gemeente in Jerusalem later met sy “oordeel” om nie die las van die wet op gelowiges uit die heidene te lê nie, net maar die verbod op afgodery en onsedelikheid (Hand 15:19). Ook Paulus moedig die gemeente van Korinte aan om in etiese sake ‘n oordeel uit te spreek (1 Kor 5).
Jesus verwys egter hier na die wyse waarop gelowiges in hulle onderlinge verhoudinge ander oordeel of veroordeel.
Hy soek ‘n vergewensgesindheid by ons wat pas by die dankbaarheid dat ons deur God vergewe is.
“God prefers to act in mercy, but he who wants to put another on trial invites God to put him on trial; he who condemns another for his failings invites God to condemn him for his own failings.” (Nolland: Luke 1:1-9:20).
Die probleem met ‘n gesindheid van oordeel of veroordeling is dat dit skynheilig kan wees. Dat ‘n mens jou eie sondigheid oorsien, en net ander se sondigheid in jou visier laat kom.
Jesus verduidelik dit in die sogenaamde “Vlakterede” met ‘n gelykenis wat uit drie kort gesegdes bestaan (Luk 6:39-42):
- ‘n Blinde kan nie ‘n blinde lei nie.
- ‘n Leerling is nie bo sy meester nie.
- Haal die balk uit jou eie oog, sodat jy goed kan sien om die splinter uit iemand anders se oog te haal.
Dit beteken nie dat Jesus alle gedrag kondoneer nie. Jesus wil juis hê dat alle gelowiges sal doen wat Hy sê, soos Hy ’n paar verse later sê (Luk 6:46).
Jesus volg die opmerkings oor veroordeling dus op met drie kort illustrasies wat onomwonde verklaar dat uit mense se gedrag helder sal blyk wie doen wat Hy sê en wie nie (Luk 6:43-49):
- ‘n Boom word geken aan sy vrugte.
- Uit die skat van die hart kom goed of sleg na vore.
- Die fondament van ‘n huis bepaal of hy onbeweeglik staan of in mekaar stort.
Dit beteken uiteraard ook nie dat daar geen oordeel of veroordeling is nie. Die hele Skrif is vol van uitsprake wat die stelligheid van die toorn van God en die straf van sy oordeel en veroordeling uitspel (Matt 12:41 – “die oordeel”; 23:33 – “die oordeel van die hel”; Rom 1:18 – “die toorn van God word van die hemel af geopenbaar”; Rom 2:6 – “in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie”)
Jesus het immers die reg ontvang van die Vader om die wêreld te oordeel (Joh 5:22). In die oordeel sal sommige die opstanding van die lewe ontvang. Ander sal die opstanding van die veroordeling ontvang (Joh 5:29).
Maar, waar pas ons dan in?
Jesus sluit gelowiges in by die oordeel
Jesus is duidelik daaroor dat die apostels in die oordeel wat kom ingespan sal word om oor Israel te oordeel (Matt 19:28). Dieselfde geld al die ander gelowiges in die oordeel oor die wêreld (1 Kor 6:2). Trouens, gelowiges sal selfs oor die engele oordeel (1 Kor 6:3).
Hierdie toekomstige verantwoordelikheid beteken dat die gemeente nou al moet oordeel oor dié wat binne die gemeenskap van geloof is. Alle gelowige se gedrag moet beoordeel word aan die etiese standaard wat die Skrif stel wat dinge soos hoerery, gierigheid, afgodery, kwaadpratery, dronkenskap of diefstal afwys.
Hierdie riglyne sluit egter nog nie in dat gelowiges mag oordeel oor dié wat buite die gemeenskap van geloof is nie (1 Kor 5:12). Dit is eers ná hulle bekering wat hulle gedrag onder die loep kom.
Daar is ook sake waaroor gelowiges mekaar nie mag oordeel nie. Dinge soos verskille oor spys en drank, sowel as oor die sabbat. Dws wat ‘n mens eet, drink of vier. Elkeen moet in dié sake net oortuig wees van hulle saak, en doelbewus nie ander daarin oordeel nie (Rom 14). Paulus is self oortuig dat ‘n mens alles mag eet en drink, en dat jy nie die sabbat of enige ander fees hoef te vier nie, maar gebruik dit nie as ‘n maatstaf om ander te oordeel nie.
Soos Paulus vir die Kolossense skryf: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie.” (Kol 2:16). As hulle aan dié skaduwees van die toekomstige dinge wil vashou, is hulle welkom, maar niemand mag afdwingbare voorskrifte daaroor vir ander maak nie.
Ek sal graag hoor hoe julle hieroor dink!
Beoordeling, Oordeel, Veroordeling
Marinda
Goeiemôre, en báie dankie! Ek stem heeltemal saam met jou, en jy het my kennis verbreed met jou insig oor die teregwys van (huidige) nie-gelowiges. My ondervinding van so ñ benadering is dat ñ mens geweldig baie teenstand kry, want humanisme met die mens op die troon, vier hoogty. Maar dis dan waar die HERE ons vra om te volhard, en aan te hou om SY naam aan almal uit te dra deur dit wat ons sê, maar veral ook doen. Weereens báie baie dankie vir jou gehoorsaamheid hierin.