Klaagliedere 5: “Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees.”

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie klaaglied het wel 22 verse, soos hoofstuk 1,2 en 4, maar die verse begin nie met opeenvolgende letters van die Hebreeuse alfabet nie.  Dit is ook veel korter as die ander klaagliedere.  Die hele gedig word verder as ’n klaaglied van die gemeenskap van Jerusalem verwoord, ’n gepaste afsluiting van die versameling van Klaagliedere van Jeremia.

Vers 1 druk die smeking van die volk uit:

Slaan tog af op wat oor ons gekom het, Here.” Soos dit toenemend in die vorige klaagliedere duidelik geword het, is die hoop van die volk nie geleë in die leiers van die volk nie, maar net in God self.  Daarom vra die volk: “Kyk tog en sien self hoe ons verneder is.

Vers 2-18 druk die benarde situasie van die volk uit. 

Jerusalem beskrywe die ontsetting van die oorheersing wat die eens trotse simbool van God se teenwoordigheid nou beleef:

  • Hulle besittings is aan vreemdes gegee;
  • Die mans is uitgemoor wat baie weeskinders en weduwees agtergelaat het.
  • Die vrouens is verneder.
  • Die Leiers is uitgewis
  • Jonk en oud ly onder die verguising.
  • Daar is geen feestelikheid meer nie.
  • Ekonomies gaan dit beroerd – water en hout is nie meer gratis nie.
  • Polities is hulle ’n verstote gebied.

Maar ten diepste is dit ’n geestelike realiteit.  Die tragiese feit dat hulle oorheers word, dat hulle magteloos voel, dat die hele lewe onveilig geword het – selfs wanneer hulle probeer om in die veld kos te gaan haal – is weens die sondes van die vaders: “Ons het ons aansien verloor, daar het ellende oor ons gekom, want ons het sonde gedoen!

Dit is die rede vir hulle droefheid, “vir die swart kringe om ons oë.

In vers 19 word die hoop van die volk verwoord in ’n enkele geloofsbelydenis:

Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot geslag.”  Dit is tegelyk die enigste vaste punt vir die volk sowel as hulle enigste hoop.  In hulle ontsetting sluit dié enkele sin van verheerliking van die Here hulle toekoms oop.

Daarom sluit die klaaglied en die boek af met die laaste drie verse waarmee hulle hul hoop op God in ’n gebed uitdruk:

  • Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat?
  • Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.
  • Of het U ons heeltemal verwerp? Is U toorn oor ons so groot?

Boodskap

Dit is duidelik dat hierdie klaaglied nie net wil hê dat die pyn van die Godsvolk in hulle benarde situasie verlig word nie, maar dat die verhouding met die Here herstel word:  “Bekeer ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër.”  En dit kan net van God self af kom.  Immers: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:25), iets wat resoneer met beide Dawid se belydenis in Psalm 51 sowel as Jeremia se eie beloftes van herstel in Jer. 30-33, die Boek van Vertroosting.  Die hoop vir bekering lê in God se ingrype, nie in die mens se eie pogings daartoe nie.

Daarmee gee Jeremia vir ons as gelowiges ’n manier waarop ons ook na leed in ons eie lewe en in dié van ons gemeenskap kan kyk en die Here se wil en uitkoms kan bly soek.  Net soos die klaagliedere in die Psalms ons help om ons leed te verwoord en met die regte perspektief op onsself en op God die Here om uitkoms te nader, só help Klaagliedere van Jeremia ons ook daarmee.

Klaagliedere


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeiemidag ds, jou eie drinkwater gaan jy koop en vir jou eie hout gaan jy betaal,kan ds asb net meer uitbrei oor dit asb

    • Hi Aldo – die hartseer situasie het met die ballingskap aangebreek dat die Israeliete wees gelaat is – as’t ware sonder pa’s wat normaalweg water en hout sou verskaf het vir hulle kinders – en moes nou self sien en kom klaar. Hulle ekonomiese voorspoed is deur hulle oorheersers weggeneem en hulle moet nou betaal vir wat eintlik hulle eiendom was.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: