Klaagliedere 4: “Ag, hoe dof het die goud geword”
In die klaaglied van hoofstuk 4 word die problematiek van leierskap aangespreek. Die leiers se sondes en oortredinge, sê Jeremia, het nie net die Here se geduld met hulle laat opdroog nie, maar die hele volk in die wanhoop van ballingskap gedompel. Die leiers het hulle glans verloor soos goeie goud wat dof geraak het, soos sneeu wat nie meer sy glans behou nie, maar swarter as roet geword het.
Tóg, sê Jeremia, is daar hoop, want die Here sal uiteindelik die straf vir hulle sonde beëindig. Hy sal die ballingskap nie laat voortduur nie, en dié ongeregtigheid aan die kaak stel van die nasies wat hulle verlekker het in Israel se oordeel.
Jeremia se nadenke daaroor word in drie dele opgedeel:
- 4:1-16 – Jeremia: “Daar word geen genade aan die leiers betoon nie.”
- 4:17-20 – Jerusalem: “Ons kyk ons oë moeg om hulp wat nie opdaag nie.”
- 4:21-22 – Jeremia: “Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion … maar jóú sonde gaan Hy straf, Edom.”
4:1-16 – Jeremia: “Daar word geen genade aan die leiers betoon nie.”
Let op na die treffende metafore waarmee die val van die leiers in hierdie deel van die klaaglied beskryf word:
- “Ag, hoe dof het die goud geword, hoe het die goeie goud sy glans verloor!”
- “Die gewyde edelstene lê weggegooi op al die hoeke van die strate!”
- “Die leiers van Sion het meer glans gehad as sneeu, hulle was witter as melk … Maar nou is hulle swarter as roet.”
Hierdie leiers word nou beskou as erdepotte. Hulle is nie meer op enige manier spesiaal nie.
Hoekom? Want die gemeenskap het só wreed geword onder hulle (gebrek aan) leiding dat die hele gemeenskapslewe in duie gestort het.
Dit het onvermydelik tot ’n vermindering in hulle status gelei: “Hulle word nie eens op die strate herken nie.” Om die waarheid te sê, mense wil niks met hulle te doene hê nie: “Gee pad! Julle is onrein!” Dit sluit in dat die Here hulle lot nie meer aantrek nie, en geen meegevoel met hulle het, of genade aan hulle betoon nie.
Maar die grootste probleem is nie wat dit aan hulle as leiers gedoen het nie. Die Here se toorn het nie net die leiers getref nie, maar almal. Hy het ’n vuur in Sion aangesteek wat hom tot op sy fondamente verteer het.
4:17-20 – Jerusalem: “Ons kyk ons oë moeg om hulp wat nie opdaag nie.”
In hierdie kort gedeelte word die angs van die volk op twee maniere beskryf. Aan die een kant is daar die misplaaste verwagting dat iemand hulle sou help – miskien word hier na Edom verwys, aangesien in die volgende gedeelte juis ’n oordeel oor hulle uitgespreek oor hulle houding teenoor Juda. Dit het egter nie gebeur nie.
Aan die ander kant is daar die gedwarsboomde verwagting dat die koning sy man sou staan teen die bedreiging, maar hy het voete van klei gehad en is gevang deur die vyand – ’n klaarblyklike verwysing na Sedekia se vlug wat deur Nebukadnesar gefnuik is.
4:21-22 – Jeremia: “Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion … maar jóú sonde gaan Hy straf, Edom.”
Tóg, sê Jeremia, is daar hoop. Die Here, belowe hy, sal uiteindelik die straf vir Juda se sonde beëindig. Hy sal die ballingskap nie vir altyd laat voortduur nie, en die ongeregtigheid van Edom aan die kaak stel wat hulle verlekker het in Israel se oordeel.
Boodskap
Daar is nie regtig groot sondes en klein sondes nie. Sonde bring ’n skeiding met God, hoe groot of klein dit nou ook al is. Daar is om dieselfde rede ook nie juis groter sondaars en kleiner sondaars nie, al praat ons soms so. Maar dit is tog ’n feit dat geestelike leiers se ongehoorsaamheid ’n groter impak op die geloofsgemeenskap het weens die feit dat hulle invloedsfeer groter is. Daarom sonder die Here die geestelike leiers uit in hierdie klaaglied van Jeremia.
Tóg, sê Jeremia, is daar hoop, want die Here is self uiteindelik die Leier van sy volk, sowel as van die geestelike leiers. Hy sal self bepaal wat die uiteinde van sy volk sal wees asook van hulle leiers. Daarin lê ook ons hoop. Die Here sal sy mense nie sonder rigting en begeleiding laat nie. Daarop kan ons staatmaak.