Die verloop van die laaste week van Jesus
- Die verloop van die laaste week van Jesus se aardse bediening begin die Saterdagaand te vore met ‘n ete in Betanië (Joh 12:1-8).
- Jesus ry die Sondag Jerusalem binne en slaap weer in Betanië (Luk 19:29-44; Mark 11:1-11; Matt 21:1-11).
- Jesus reinig die tempel die Maandag (Mark 11:12-19; Matt 21:12-17; Luk 19:45-48) en oornag weer in Betanië (Matt 21:17).
- Jesus lewer sy strydgesprekke met die Fariseërs die Dinsdag (Mark 11:20-25; 12:1-44; 13:1-37; 14:1-2; Matt 21:18-46; 22:1-46; 23:1-39; 24:1-25:46; Luk 20:1-21:38).
- Woensdag was waarskynlik ‘n soort rusdag, met die salwing in Simon se huis die aand (Mark 14:3-9; Matt 26:6-13) en die verraad van Judas voor die Joodse leiers (Mark 14:10-11; Matt 26:1-5,14-16; Luk 22:1-6).
- Die paasmaaltyd vind plaas op die Donderdagaand, die eerste dag van die ongesuurde brood, die 14de Nisan (Mark 14:12-26; Matt 26:17-30; Luk 22:7-38). Onthou die dag begin die aand, so dit eindig eers die Vrydagaand, na die kruisiging.
- Die res van die evangelies vertel almal dat die kruisiging op die Vrydag om 09:00 plaasvind en dat Jesus dood is net na 15:00.
- Jesus is in die graf van Vrydagmiddag laat tot Sondagmôre vroeg, die eerste dag van die week (Luk 24:1; Matt 28:1; Mark 16:1-2; Joh 20:1).
- Jesus was dus op elkeen van drie dae in die graf. Die Vrydagmiddag (voor die sabbat begin het, dws die Saterdag), die hele Saterdag, en ongeveer die helfte van die Sondag wat die vorige aand begin het.
Dit kom ooreen met beide die voorspellings wat Jesus gemaak het, selfs die voorspellings in die OT, en hoe die kerk na die tyd daaroor berig het, onder andere Paulus.
Jesus sê Hy sal “na drie dae opstaan” (Mark 8:31). En Hy sê in dieselfde evangelie dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58). Dit is duidelik uit die wyse waarop in daardie tyd na dae verwys is, dat ‘n deel van ‘n dag ook as ‘n dag getel het. Joodse dae is immers van sononder tot sononder getel wat ‘n vloeibaarheid in die verwysing na ‘n dag tot gevolg gehad het. Daarom kon Markus sê “na drie dae” en “binne drie dae”. Dit het vir hom dieselfde betekenis gehad.
‘n Mens kan die volgende gegewens in ag neem om die vraag te beantwoord na die drie dae::
- Jesus se verwysing na Jona se “drie dae en drie nagte” (Matt 12:40) was ‘n Hebreeuse idioom wat vir enige kombinasie van ‘n deel van drie verskillende dae gebruik is. So skryf RT France in sy Jesus and the Old Testament en D A Carson in die Expositors Bible Commentary.
- ‘n Mens sien dit 1 Samuel 30:12-13 waar die frase gebruik word om iemand se uitputting aan te dui asook in Jona 1:17 vir Jona se tyd in die groot vis. Iets soortgelyks sien ‘n mens in 2 Kronieke 10:5 en 12 waar Rehabeam mense wegstuur om na drie terug te kom, maar hulle kom reeds op die derde dag terug. Dieselfde gebeur in die boek Ester waar sy die Jode beveel om drie dae en nagte te vas, maar dan “op die derde dag” voor die koning verskyn (Est 4:16; 5:1).
- ‘n Mens moet dus hierdie idiomatiese gebruik in gedagte hou as ‘n mens hoor dat Jesus self voorspel dat Hy na drie dae sal opstaan (Mark 8:31; 9:31; 34). Daarom kan Hy ook sê “op die derde dag” (Luk 9:22). Trouens, Jesus verklaar dat Hy “binne drie dae” sal opstaan (Mark 14:58).
- ‘n Mens moet verder ook onthou, die Joodse dae is van sononder tot sononder getel.
- Jesus word gekruisig op ‘n Vrydag, die “dag voor die sabbat” (Mark 15:42), die “dag van voorbereiding” (Luk 23:54; Joh 19:31).
- Die graf is van die Saterdag af bewaak omdat almal geweet het van die voorspelling dat Hy op die derde dag sou opstaan (Matt 27:62).
- Jesus word opgewek op die Sondag, die eerste dag van die week, en daarom die derde dag van sy dood (Mark 16:2; Luk 24:1; Mat 28:1; Joh 20:1).
- So Goeie Vrydag was die eerste dag (Donderdagaand tot Vrydagaand), Stil Saterdag die tweede dag (Vrydagaand tot Saterdag aand), en Paassondag die derde dag (Saterdagaand tot Sondagaand).
- Die helderste stem is egter Paulus wat vir ons sê Jesus is: “OP die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” (1 Kor 15:4).
- Paulus verwys hier na Hosea 6:2: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag sal Hy ons laat opstaan”, wat in Hosea eintlik net dui op die sekerheid van God se verlossing waarop die volk kan staatmaak, maar in die lig van Jesus se kruisiging en opstanding nuut geïnterpreteer word. Vir die volk belowe God dat sy oordeel baie vinnig opgehef sal word as hulle na Hom toe terugkeer. God wil hulle juis só motiveer om te reageer op sy aanbod. Die oorlog sal net twee dae duur! Vir Jesus het dit die betekenis gehad dat die tydperk van Jesus se dood net twee dae sal duur, dws op die derde dag sal Hy opstaan. So het Paulus dit uitgelê.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Chris Visser
Chris. Dankie; ‘n Moslem probeer my vastrek met die vraag van 3 volle dae in die graf.
Ek het nog altyd verstaan (ek dink dis wat jy ook sê) is drie dele van dae, nie 3 volle dae en nagte?
Ek soek toe weer by Google. Wonder net of jy n kommentaar hierop het…
Conversation with Muslims:
The Bible predicted that Jesus would be in the grave for three days. However, Jesus was crucified on Good Friday and rose on Easter Sunday… If you are confused about how that adds up to three, you aren’t alone. look here
https://www.youtube.com/watch?v=A_n14VZthrw
Maar ‘n ander ou het ‘n nog langer verduideliking: Hy bring ‘n begrip in wat ek nie geken het nie. “high-day Sabbath” wat nie die Saterdag is nie, maar vroeer.
Look here.
https://www.youtube.com/watch?v=97znBZwYu0Y
and also read this.. http://www.sabbath.org/…/Is-high-day-weekly-Sabbath.htm
Dankie,
Chris Visser
Chris Visser
Hierdie weergawe stem met jou saam. https://www.youtube.com/watch?v=Nag8TonUPIA
Chris van Wyk
Hi Chris, jy moet ook die ander artikel lees wat ek geskryf het, maar dit is min of meer dieselfde inligting.