Die sonde teen die Heilige Gees
Die sonde teen die Heilige Gees is om Hom te laster, om sy invloed op die werk van Jesus aan die Satan toe te skryf, soos die Fariseërs gedoen het. Dit lei tot ‘n onberoulike, morele en geestelike opstand teen God waarmee jy jou eie gewete verkrag en toeskroei. Dit is ‘n “deliberate, open-eyed rejection of the known truth.” (John Stott). Dit is om die duisternis liewer te hê as die lig. En daarin te volhard. Tot die einde toe. Tot die dood toe.
Om God te laster
Markus verwoord dit so:
“Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel — omdat hulle gesê het: Hy het ’n onreine gees.” (Mark 3:28-30).
Matteus verwoord dit so:
“Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.” (Matt 12:31-32).
Lukas gebruik nie die term in sy weergawe van dié gesprek nie (Luk 11:14-23).
Johannes laat dié verhaal uit in sy evangelie, maar verwys na ‘n sonde tot die dood wat waarskynlik hiermee verband hou, waarop ek hieronder sal uitbrei.
Sonde tot die dood
Die “sonde teen die Heilige Gees” is per definisie deel van wat Paulus en Jakobus die sonde noem wat tot die dood lei (Rom 6:16; Jak 1:15). Hierdie tipe sonde word gepleeg deur iemand wat in die sonde volhard – enige sonde – nooit die Here om vergifnis vra nie, nooit tot geloof en bekering kom nie, en sterf sonder enige verandering.
Só iemand sal die ewige lewe nooit sien nie, sê die Hebreërskrywer:
“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebr 6:4-6).
Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: “If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible” (Word kommentaar). Let op die “”should“, want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik vir sy gehoor nie.
Hoekom sou hierdie afvalligheid só erg wees, as ‘n mens ter wille van die argument sou bedink? Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word. Presies wat bedoel word met die sonde teen die Heilige Gees.
Johannes praat ook van ‘n sonde wat tot die dood lei wat hiermee verband hou en nog helderder aan die sonde teen die Heilige Gees verbind kan word as in Paulus en Jakobus se geval.
Johannes sê: “As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is ’n sonde wat nie tot die dood is nie.” (1 Joh 5:16-17).
Daar is drie verklarings hiervan, waarvan al drie vir my van toepassing is, maar die derde een die meer waarskynlike is:
1. Sommige verbind hierdie sonde tot die dood aan die sondes wat volgens die wet van Moses met die dood gestraf moes word. Hulle verwys na Lev 18-20 met die lyste van seksuele sondes waarby Romeine 1:18-32 aansluit en dit duidelik in die laaste vers stel: “Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.” ‘n Belangrike waarskuwing.
Dit kan ook miskien verwys na “opsetlike sondes” wat volgens die OT wet onvergeefbaar was (bv opsetlike moord Eks 21:14). Dit geld egter enige sonde waarvan nie tot inkeer gekom word nie, soos Samuel die volk gewaarsku het dat as hulle nie tot bekering kom van hulle sondes nie, en opsetlik aangaan daarmee, hulle uitgewis sal word (1 Sam 12:25).
Dawid bid roerend dat hy beskerm sal word teen opsetlike sondes, want dit sal ‘n streep trek deur God se vergifnis (Ps 19:13). Dieselfde geld ook die NT gelowiges soos die Hebreërskrywer ons ook waarsku: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.” (Hebr 10:26).
2. Ander verbind dit aan ‘n totale afvalligheid waarin afgode gedien word, soos Johannes self teen waarsku aan die einde van die perikoop: “Bewaar julleself van afgode.” (1 Joh 5:21).
3. Die verklaring wat vir my die meeste sin maak, maar met veral in die ooreenkoms met die wyse waarop die ander evangelies daaroor skryf, is dat Johannes ook hier skrywe oor die sonde of lastering teen die Heilige Gees.
Bedroef en weerstaan
Daar is ander plekke waar gepraat word van die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30) of weerstaan (Hand 7:51), maar dit op sigself is nog nie die sonde teen die Heilige Gees nie, tensy dit natuurlik sy volle loop neem in só ‘n persoon se lewe.
Dries Bester
Middag Chris.
Groot vraag vir my as n persoon. Ek hoor sovele mense wat sê dat die Heilige Gees met hulle gepraat het. Volgens my kan die Heilge Gees nie self met jou praat nie maar kry n persoon sy antwoord deur die Skrif.
Ek het al n persoon geantwoord op so n opmerking dat n mens baie versigtig moet wees, dat n mens nie die Heilige Gees gebruik as n alibi of n dekmantel nie en ook pasop dat jy jou nie self verpersoonlik met die Heilige Gees. Help n biedjie.
Groete
Dries.
Chris van Wyk
Hi Dries. Hierdie is nie net ‘n groot vraag vir jou nie. Dit is ‘n groot vraag vir die hele kerk. En, ja, aan die een kant het dit ‘n eenvoudige antwoord, dat dit so is dat die Gees primêr deur die Woord praat (2 Pet 1:21; 2 Tim 3:16; 1 Pet 1:11-12). Maar, aan die ander kant is die antwoord ook weer meer kompleks as dit, want die blote feit dat ‘n mens sê dat die Gees deur die Woord praat, beteken dat daar ‘n kommunikasie van die Gees deur die Woord aan jou adres gaan. Dat jy iets “hoor”. Dat dit selfs ‘n woord vir jou gee om te praat (2 Sam 23:2; Jes 59:21; Mark 13:11; Luk 12:12). En die wonder daarvan, as iets vir jou uit die Woord deur die werk van die Gees oopgaan, is dat jou hart warm raak, brand, soos die Emmaus-gangers gesê het toe Jesus die Skrifte vir hulle uitgelê het (Luk 24:32). En dié ervaring laat baie mense dit verwoord as dat die Gees of die Here met hulle “praat”. Hierby kom die ervaring dat die Gees wysheid en insig gee wat ‘n mens help met die toepassing van ‘n Skrifgedeelte. Enigiemand wat al ooit ‘n getuienis of boodskap moes lewer, sal daarvan kan getuig. Dat dit soms in die oomblik gegee word. Hoe baie keer het ek dit nie in vergaderings beleef nie dat die Gees my wysheid gee wat vir ‘n spesifieke saak op daardie oomblik nodig is. Ditto met prediking en in Bybelstudiegroepe. Dat dié wysheid min of meer altyd uit ‘n bepaalde herinnering aan die Skrif is, is so (Jesus in versoeking). Maar die wyse waarop die Gees my dit laat verwoord, is soms verstommend vars en nuut. Dit is immers God se belofte (Luk 21:14-15). Dit is daarby duidelik uit die ervaring van gelowiges in die Skrif dat hulle die Gees se werking op verskillende ander maniere ervaar het. Nie net in woorde nie. Ook in bewegings van die hart. Dit kan soms as ‘n dryfkrag of trekkrag beleef word (Jesus na die woestyn – Mark 1:12; Matt 4:1), soms as ‘n invloed wat ons help onderskei, waarin die Gees die Woord in ons binnekant gebruik (Hebr 4:12), soms as ‘n verhindering (Paulus – Hand 16:6-8) ensomeer. Die Gees se werking het soms ook ‘n fisiese kant, soos Filippus op die pad na Gasa ervaar het (Hand 8). Ek het begin om iets te skryf hieroor, maar gou agtergekom dat dit te omvattend raak. Ek sal verder werk daaraan, en mettertyd iets publiseer.
Chris van Wyk
Die bydrae oor die Heilige Gees het vinniger klaargekom as wat ek gedink het. Geniet: https://bybelskool.com/hoe-praat-die-heilige-gees/
Ansie Faure
Middag Chris
Mense sė dat die doop van Jesus(Mikvah) beteken? is dit onderdompeling? As jy groot gedoop word, is dit omdat jy jou lewe aflè vir Jesus en opstaan as nuwe persoon, soos in Mattheus3:4-8 waar Johannes 3:6 En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hul sonde? Wil net graag weet
Ansie
Chris van Wyk
Die Hebreeuse Mikvah is ‘n versamelnaam vir water. Dit word net vier keer in die OT gebruik: 1) vir die see in die skeiding van water van droeë grond (Gen 1:10), 2) vir al die verskillende opbergplekke in Egipte (Eks 7:19), 3) vir ‘n natuurlike fontein of opgaardam (Lev 11:36), en 4) vir ‘n mensgemaakte opgaardam (Jes 22:11).
Vanaf die tweede eeu vC is daar ook mikva’ot (meervoud) gebou wat vir rituele reiniging gebruik is en trappe het waarmee jy daarin kon afklim.
In die NT lees ‘n mens van die baddens (kolymbēthra) van Bethesda (Joh 5) en Siloam (Joh 9) was waarskynlik sulke mikva’ot was. Johannes se verwysing na die gebruik om jou te reinig op jou pelgrimstog na die onderskeie Joodse feeste, maak dit waarskynlik dat van die mikva’ot daarvoor gebruik is (Joh 11:55). So ook Paulus met sy reinigingshandeling (Hand 21:23-24).
Dit kan wees dat die eerste dope in Jerusalem op Pinksterdag en daarna in sulke mikva’ot gebeur het (Hand 2:38-41). Dit was egter nie ‘n vereiste nie, soos die vroeg-Christelike lering in die Didage bevestig. Die feit dat Johannes die Doper in die Jordaanrivier gedoop het (Mark 1:5), dat Jesus in die Jordaan gedoop is (Mark 1:9), soos Jesus se dissipels ook, dat hulle ook waarskynlik riviere in hulle eie bediening van die doop gebruik het (Joh 4:1-2), en die minister van finansies van Ethiopië ook in ‘n stroom of rivier gedoop is (Hand 8:36), het hierdie vryer benadering beïnvloed.
Die verbintenis van die doopbediening aan ‘n doelgemaakte doopbak in kerke dateer eers uit die middel van die 3de eeu nC, toe die Christelike kerk al hoe meer veld gewen het en uiteindelik in die volgende eeu as staatsgodsdiens erken is.
Dié dope was meesal onderdompeling óf as die water vlakker was, besprinkeling. Ons kry voorbeelde van beide in die grafiese uitbeeldings van dope uit die Christelike era. Die doop is ‘n teken van die dood vir die sonde en die opstanding in die nuwe lewe wat Jesus Christus vir ons moontlik maak. Dit word gedoen met belydenis van sonde sowel as belydenis van geloof by volwassenes en uiteraard in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons lees ook van gesinne wat gedoop is op grond van die geloof van die ouers – Lidia (Hand 16:15) en die tronkbewaarder (Hand 16:31-33) in Filippi. Daarmee is kinders ingesluit in die verbond, soos wat die besnydenis dit aanvanklik gedoen het (Gen 17:9-14). Dit is ‘n genadeteken waarop sulke kinders dan self in geloof moet antwoord later in hulle lewe.
Christene het egter regdeur die eeue hieroor verskil, alhoewel albei vorme van die doop doodgewoon langs mekaar bestaan het. Dit is egter ‘n groot onderwerp om volledig te hanteer, waarvoor ek nie nou die tyd het nie.
Ansie Faure
Baie dankie Chris ek waardeur die antwoord en verstaan dat dit ‘n lang onderwerp sal wees, ensal wag op volgende verwysing, Geseėnde aand
Ansie