Hoe “praat” die Heilige Gees?
Baie mense wonder oor die vraag: “Hoe ‘praat’ die Heilige Gees?” Daarmee word onder andere die volgende bedoel. Hoe kom ‘n mens die Gees se werking in jou of ‘n geloofsgemeenskap agter? Is dit iets wat buite jouself gebeur, óf binne in jouself, óf albei?
Om hierdie vrae te antwoord, moet ‘n mens eers vir jouself die vraag beantwoord: “Wat is die Heilige Gees?”
Wat is die Heilige Gees?
Dit is duidelik uit die Skrif dat God een Wese is in wie drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees. Hulle is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid (Luk 1:35; Matt 3:16-17; Joh 15:26; Gal 4:6; 1 Joh 5:7-8; Matt 28:19; 2 Kor 13:13).
Om meer spesifiek die vraag na die Heilige Gees te antwoord, haal ek aan uit my verwoording daarvan in Wie is God?, vraag en antwoord 38 (vgl ook Wat glo jy? vir kinders):
“Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag van God. Hy is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy is ook aan my gegee sodat Hy my deur ’n ware geloof deel kan laat kry aan Christus en al sy weldade, my kan troos en ewig by my bly.”
(Gebaseer op Apostoliese Geloofsbelydenis 8; Geloofsbelydenis van Nicea 8; Nederlandse Geloofsbelydenis 8, 11; Heidelbergse Kategismus 53)
Hoe “praat” hierdie Gees dan met ons? Veral soos die Skrif self die vraag beantwoord.
Die Gees “praat” deur die Skrif
Dit is duidelik uit die Skrif dat dit die Skrif self is wat die primêre manier is waardeur die Heilige Gees “praat”. Die Heilige Gees se woorde kom van buite af, van die eksterne woorde van die Skrif self.
Dit lei ons af uit die feit dat Hy as die Begeleier in die totstandkoming van die Skrif verkondig word (2 Pet 1:21; 1 Pet 1:11-12). Die doel van die Skrif is om as primêre onderrig gebruik te word in die vorming van gelowiges in hulle verhouding met God (2 Tim 3:16-17). In die Skrif hoor ons dus die Heilige Gees met ons “praat”.
Wanneer Petrus terugdink aan die wyse waarop die profete in die Ou Testament geskryf het, verbind Hy dit aan die werk van die Heilige Gees: “meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.” (2 Pet 1:21 – BDV).
Die Griekse woord wat Petrus vir meevoer gebruik, is pherō. Dit dra die betekenis van begeleiding in ‘n rigting. Soos Louw-Nida dit verklaar: “to so influence others as to cause them to follow a recommended course of action—‘to guide, to direct, to lead.”[1]
Die Heilige Gees is dus die Een wat die skrywers meegevoer het in die skrifstelling van God se Woord. Dit legitimeer daarmee vir ons die hele Ou Testament as die Woord van God. Dit is die primêre manier waardeur die Heilige Gees met ons “praat”.
Petrus se beoordeling van die Skrif kom ooreen met die wyse waarop Paulus oor die Skrif praat: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” (2 Tim 3:16-17 – BDV).
Dit is duidelik dat Paulus die Skrif op dieselfde manier as Petrus aan die werk van God self verbind. Hy gebruik die woord theopneustos wat letterlik beteken “God-ge-asem”. Dit is vanwaar die vertaling “God geïnspireer” vandaan kom. Die hele Skrif is dus God se Woord. Die manier waarop Hy met ons “praat”.
Hierdie inspirasie van die Skrif beteken nie dat God die woorde van die Bybel meganies gedikteer het nie, maar dat Hy die skrywers organies beïnvloed het, geïnspireer het, meegevoer het om wat Hy wou openbaar van Homself, sy wese en werke, neer te pen. So praat Petrus daaroor sowel as Paulus.
As voorbeeld kan ons Dawid neem wat die werklikheid beskryf van die Gees wat “in hom” God se woord aan hom oordra. Dit is só ‘n werklikheid in sy binneste dat dit die woorde vorm wat hy gebruik: “Die Gees van die Here spreek in my, en sy woord is op my tong.” (2 Sam 23:2; vgl Jesus wat dit eggo in Matt 22:23).
So was dit ook met die profete. Jesaja praat daarvan dat God se woorde in die mond van sy mense gelê is, ‘n belofte wat ook vir die nageslag geld en dit vir altyd: “Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van nou af tot in ewigheid nie.” (Jes 59:21).
Die profete was dus kanale waardeur die Gees gepraat het, soos Hy hulle binneste en hulle monde aangeraak het. Uit die inhoud van hulle woorde het dit duidelik geblyk dat dié woorde van die Heilige Gees afkomstig was. Hy het inderdaad daardeur “gepraat”.
Soos Lukas dit in die Nuwe Testament verwoord: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het.” (Hand 28:25; 4:25). Dieselfde geld die wyse waarop Stefanus en die ander apostels deur die Heilige Gees gebruik is, sodat hulle woorde ook die woorde van God was, soos Lukas dit vir ons in Handelinge vertel (Hand 6:10). Daarom is dit ook vir ons opgeteken as deel van die uiteindelike volle kanon van die Skrif.
Al die skrywers van die Skrif is in die proses met hulle hele opvoeding en menswees meegevoer om God se Woord te skrif te stel, op só ‘n wyse dat die Skrif Gods Woord in mensetaal is. Nie dat ‘n mens ‘n onderskeid kan maak tussen die Goddelike kant en die menslike kant nie. Dit is onskeibaar. Die Skrif is volledig deur God geïnspireer en volledig deur mense geskrywe.
Dit is waar van die “hele Skrif”, in sy totaliteit, sowel as in sy afsonderlike dele.
Paulus praat in die brief aan Timoteus natuurlik van die Ou Testament soos dit deur die vroeë kerk gebruik is. Die Nuwe Testament was nog in wording. Maar dit is ook waar van die Nuwe Testament.
Trouens, Paulus se briewe sou die begin wees van die groeiende korpus materiaal wat in die Nuwe Testament ingesluit sou word. Van die begin af was sy briewe gereken as van dieselfde kanoniese status as dié van die Ou Testament, soos Petrus bevestig (2 Pet 3:15-16). Mettertyd is dieselfde status aan die evangelies en ander boeke van die Nuwe Testament toegeskryf.
Wat is hierdie Skrif dan?
Hierdie Skrif is God se Woord in mensetaal wat die openbaring van God aan ons deurgee. Dit geld die hele Skrif, beide dit wat voor Christus geopenbaar is in die Ou Testament, sowel as dit wat deur die verkondiging van die evangelie te skrif gestel is in die Nuwe Testament.
Daarom kan Petrus die gesag van beide aan ons verkondig: “Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is.” (1 Pet 1:11-12; Neh 9:30).
Die Gees “praat” in ons hart
Dit is egter ook duidelik uit die Skrif dat die eksterne woorde wat deur die Skrif na ons toe kom, in ons harte moet grondvat, moet binnedring, sodat dit vrug kan dra (soos die gelykenis van die Saaier in Matt 13 dit grafies met die vrugbare grond illustreer). Daar is dus ook ‘n “innerlike getuienis” van die Gees wat die Woord van God vasmaak in ons harte en lewens.
Calvyn verwoord dit só diepsinnig: ”Want soos God alleen in sy Woord ’n bekwame Getuie vir Homself is, sal die Woord geen geloofwaardigheid in die hart van die mens vind voordat dit deur innerlike getuienis van die Gees beseël word nie. Gevolglik moet dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het, noodwendig ons hart binnedring om ons te oortuig dat Hy dit wat God verbied het, getrou aan ons oorgedra het.”[2]
Dit het eerstens te make met die Woord self.
Dit sien ons oorvloedig geïllustreer in die lewe van Jesus. Hy kon die duiwel telkens antwoord vanuit sy herinnering aan die Skrif, spesifiek uit die wet, soos die Gees dit deur Moses en ander skrywers neergepen is (Deut 8:3; 6:16; 6:13).
Jesus volg hier die voorskrif van die Ou Testament na, soos die Psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre.” (Ps 119:11). Daarom kon Hy in die uur van sy grootste versoeking die aanslag op Hom deur die woorde van die Skrif die hoof bied.
Die apostel Johannes maak dit ook van toepassing op gelowiges dat dit is wanneer “die woord van God in ons bly” dat ons die Bose kan oorwin (1 Joh 2:14).
Ook Paulus eggo dit en sê: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16).
Paulus het dit self nagevolg in sy bediening, soos die Gees die Skrif lewend gemaak het vir hom: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.” (1 Kor 2:13).
En maak dit die reël vir alle gelowiges in hulle stryd teen die Bose. Die woord van God is soos ‘n swaard wat ‘n gelowige weerbaar maak in die stryd om die waarheid: “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God.” (Ef 6:17).
Dit is waarom die Here Jesus ons kan aanspoor om op die werk van die Heilige Gees te vertrou, want Hy sal op ‘n goddelike manier in ons werk om ‘n getuie van die evangelie te wees.
Soos John Piper dit stel: “The words of Christ are the raw material that the Holy Spirit works with as he teaches us what to say.”
Markus en Matteus verwoord dit as ‘n gawe van die Heilige Gees: “En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.” (Mark 13:11; Matt 10:19-20).
Lukas verwoord dit as ‘n lering van die Heilige Gees, iets wat ook nie lank voor die tyd gebeur nie, maar in die uur waar dié getuienis nodig is: “Want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.” (Luk 12:12).
Daarom kan Jesus in die evangelie van Lukas ons aanraai om nie soseer te vertrou op die presiese manier waarop ons voorberei op ‘n konflik situasie nie, maar eerder op die werking van die Gees: “Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie. Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” (Luk 21:14-15).
Dit beteken nie dat daar nie voorbereiding is nie, maar die voorbereiding is gefokus op die internalisering van alles wat Jesus deur die evangelies vir ons gegee het: “As julle in My bly en my woorde in julle“, sal julle baie vrug dra en die voorreg van gebedsverhoring beleef (Joh 15:7).
Dit geld natuurlik die hele Skrif soos die Heilige Gees dit vir die kerk gegee het: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Joh 16:13-14).
Die resultaat van die vervulling van dié belofte was die Nuwe Testament.
Dit het tweedens te make met die getuienis, liefde en gawes van die Gees self.
Die Gees “praat” egter nie net deur die Skrif nie. Hy gee ook nie net begeleiding deur ons te “leer”, “herinner”, en “troos” nie (Joh 15). Hy gee ons ook die getuienis in die hart dat ons kinders van God is (Rom 8:16; 1 Joh 5:10-13). Hy stort daarby die liefde van God in ons hart uit (Rom 5:5; 1 Kor 13) en gee aan ons gawes wat ons in sy diens en onder sy begeleiding kan gebruik (1 Kor 12-14).
Paulus verkondig hierdie getuienis aan ons: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” (Rom 8:16). Dit is die primêre manier waarop God ons aan Homself verbind: “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Rom 8:15).
Hierdie werk van die Heilige Gees verbind ons as lewende getuies aan die Here Jesus self: “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ’n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” (1 Kor 12:3).
Soos Johannes dit eggo:
“Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens. As ons die getuienis van mense aanvaar — die getuienis van God is vir seker groter, omdat dit die getuienis van God is wat Hy oor sy Seun gelewer het. Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself; wie God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak omdat hy nie die getuienis geglo het wat God oor sy Seun gelewer het nie. En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”(1 Joh 5:7-12).
Hierdie getuienis is die fundamentele oortuiging wat die onderbou gevorm het van die fisiese getuienis wat die apostels voor die Joodse Raad gelewer het: “En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Hand 5:32).
Paulus skryf uitvoerig oor die liefde van God sowel as oor die gawes wat die Gees verleen in 1 Korintiërs 12-14.
Die liefde wat in ons hart uitgestort is (Rom 5:5) vorm die gesindheid waarin die gawes van God uitgeleef moet word: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”(1 Kor 13:4-7).
Die gawes berus daarmee saam op die werking van die Gees wat nie net vir ons sekere vermoëns gee nie, maar wat onder sy begeleiding uitgevoer word: “daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.” (1 Kor 12:6).
Dit sluit onder andere die volgende in: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees ’n woord van wysheid gegee, en aan die ander ’n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan ’n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” (1 Kor 12:7-11; vgl Rom 12:6-8; 1 Pet 4:10).
Dit het derdens te make met die begeleiding van die Gees self.
Hierdie ervaring kan baie kragdadig wees, soms selfs beleef word as ‘n fisiese ervaring, maar ander kere ook sagter en oorredend. Dit sien ons op verskillende maniere in die Skrif.
In die lewe van Jesus sien ons die kragdadige kant daarvan. Markus beskryf die leiding van die Heilige Gees as ‘n dryfkrag: “En dadelik het die Gees Hom uitgedryf (ekballō) in die woestyn.” (Mark 1:12). Matteus noem dit ‘n trekkrag: “Toe is Jesus deur die Gees weggelei (anagō) die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.” (Matt 4:1).
Jesus kom dus ook terug van dié versoeking in die woestyn in die “krag van die Gees” (Luk 4:14; vgl Hand 10:38; Rom 1:4). Soos Paulus dit ook beskryf in die lewe van gelowiges (Rom 15:13,19; Ef 3:16; 2 Tim 1:7).
Dieselfde geld die ervaring van Filippus in sy bediening van die minister van Ethiopië. Eers het ‘n engel van die Here het met Filippus gepraat om hom op die pad van Jerusalem na Gasa toe te laat gaan (Hand 8:26).
Daarna tree die Gees tot die begeleiding toe: “Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.” (Hand 8:29).
Ná die minister tot bekering gekom en gedoop is, het die Gees Filippus daarna fisies weggevoer na Asdod toe – 37 km noord van Gasa – waar hy die evangelie tot in Sesarea – nog 120 km noord – verkondig het. Dit het meteens en bo-natuurlik gebeur (Hand 8:39).
Dieselfde gebeur met die eerste sendingreis van Paulus en Barnabas: “En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” (Hand 13:2).
Die presiese manier waarop die Heilige Gees hier “gepraat” het, word nie uitgespel nie, maar dit is duidelik dat die stem van die Gees helder en duidelik was en die hele gemeenskap van gelowiges bereik het.
Dieselfde geld die ervaring wat Paulus-hulle gehad het dat hulle op hulle tweede sendingreis deur die Heilige Gees verhinder is om ‘n sekere gebied te besoek: “En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom.” (Hand 16:6-8).
Nog later praat hy daarvan dat die Gees hom gebind het om die reis na Jerusalem aan te pak op die pad wat hy tot in Rome moes volg om die evangelie ook daar te verkondig: “En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem.” (Hand 20:22). Hy gebruik die Griekse woord anankazō wat die betekenis van ‘n bevel of gebod dra. In Engels compell.
Die Gees se werk in ons het egter ook ‘n sagter meer beïnvloedende kant. Wanneer Paulus van die Gees se leiding in ons binneste praat, word dit as ‘n invloed uitgespel: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word (agō), dié is kinders van God.” (Rom 8:14; Gal 5:18).
Die woord wat vir “lei” gebruik word, agō, het meer te make met die begeleidende invloed van ‘n leermeester wat jou in ‘n rigting beïnvloed as met iemand wat jou dwing.
Daar is ook nóg ‘n ander kant van die werk van die Gees in ons binneste, een waarin ons gebede oorwoeker word deur die versugtinge wat die Gees self tot God uitspreek, waarin ons net die plek is waar dit gebeur. Ons is ná alles natuurlik ‘n tempel van die Heilige Gees, persoonlik (1 Kor 6:19) en as geloofsgemeenskap (2 Kor 6:16; Ef 2:21).
Ons ervaar dit byvoorbeeld in die wyse waarop die Gees in ons gebede werk: “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Rom 8:26-27; vgl Hebr 7:25).
Hierdie versugtinge is nie iets wat ons eers “hoor” nie, want die Gees “praat” nie dié dinge vir ons ore nie, maar vir dié van God self. Maar, dit is ‘n ervaring waarby ons ingetrek word, en waar ons gebede oorwoeker word deur die Gees om in te pas by dít wat binne God se wil vir hierdie wêreld is.
[1]Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.464.
[2]Calvyn, J., Simpson, H.W., vertaal deur & Brink C.M.M., vertaal deur, 1984. Institusie van die Christelike godsdiens, Potchefstroom: Calvyn-Jubileum boekefonds.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar