Psalm 77:1-20 – O God, u weg is heilig

20 Junie

Psalm 77:1-20 – O God, u weg is heilig

1Vir die musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. ‘n Psalm. 2Ek roep hard na God, ek roep om hulp. Ek roep hard na God, sodat Hy my moet hoor. 3In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar. 4Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees. Sela 5U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie. 6Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare. 7Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek. 8Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? 9Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe (beloftes) van geslag tot geslag tot ‘n einde gekom? 10Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Sela 11Toe het ek gesê: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.” 12Ek sal die Here se dade onthou, ja, ek wil u wonders van vroeër onthou. 13Ek sal oor al u werke mymerend prewel, oor u handelinge wil ek nadink: 14O God, u weg is heilig. Wie is so ‘n groot god soos God? 15U is die God wat wonders doen, U het u krag onder die volke bekend gemaak. 16U het u volk met die krag van u arm losgekoop – die kinders van Jakob en Josef. Sela 17Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, dit het ineengekrimp; ja, die oerwaters het gesidder. 18Wolke het water uitgegiet, donderwolke het gedreun, ja, u pyle het heen en weer geflits. 19Die geluid van u donderweer was in die stormwind, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het gesidder en gebeef. 20Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar. 21U het, deur die hand van Moses en Aäron, u volk soos kleinvee gelei.

Hierdie Psalm worstel met die vraag of God nog handel soos in die verlede. Om die waarheid te sê, die worsteling is só erg dat die Psalmis eintlik amper hoop opgegee het, soos die kernvers in vers 11 met hartseer uitdruk: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.” (2020-vertaling) Die verandering van sy regterhand beteken dat Hy sy hand nie meer gebruik nie, dws “onaktief” geraak het. In die NET Bible (Ps 77:10) word dit dus so vertaal: “Then I said, ‘I am sickened by the thought that the sovereign One might become inactive.’” Dit wil sê, die Psalmis is doodbang dat God nie meer optree soos tevore nie. Die rede vir dié vrees is dat hy na God roep om hulp, in die verwagting dat God sal hoor, maar daar gebeur niks nie (vers 2). Sy onvermoeide gebede bring geen troos nie. Sy nadenke oor God bring hom nie vreugde nie. Om die waarheid te sê, sy gedagtes oor God laat hom kreun en kla, dit mergel hom uit (vers 4). Dit is so erg vir hom dat hy wakker lê in die nag. Trouens: “U hou my ooglede oop” (vers 5). Sy ontsteltenis laat se gebede opdroog dat hy eintlik “sprakeloos” (1983-vertaling) raak. Al wat hy nog regkry, is om die verlede te peins in ‘n poging om die kloutjie by die oor te kry. Met die vraag: kan ’n mens nog regtig van God verwag dat Hy in die hede sal optree? Die Psalm worstel dus met die basiese belewenis van God se afwesigheid in sy nood.

Hoewel ons nie enigsins van ’n verandering in die situasie van die Psalmis lees nie, bly hy egter nie in hierdie verslaentheid en bevraagtekening van God nie. Vanaf vers 14 kry hy dit reg om van die merendeels ek-taal wat hy tot dusver gebruik het, weg te beweeg en meer direk met God besig te raak. Hy spreek God direk aan: “U is die God …”  Hy fokus weer doelbewus sy gedagtes op die wonderlike dade van die Here uit die verlede, maar hierdie keer om God se lof direk te besing, want alles wat die Here doen, weet hy, is eintlik heilig.  “O God, u weg is heilig” (vers 14). “Heilig” word hier gebruik in die betekenis van uniek of buitengewoon. Dit is wat die nadenke oor die verlede bevestig. God se buitengewone dade wys onomwonde in die verhale van die Uittog uit Egipte (vers 16), die tog deur die Rooi See (vers 20) en die begeleiding deur die woestyn (vers 21).  God is vir sy mense ’n God wat wonders doen, wat hulle op kragtige wyse verlos, wat sy krag in die natuur demonstreer, maar ook in verhouding met sy mense hulle kan begelei (vers 21). (Psalm 78 sal verder uitbrei op dié dade van God regdeur die woestyntyd tot en met Dawid, wat beteken die twee Psalms kan as ‘n eenheid gelees word. In vers 65 van Psalm 78 word God se ingrype geteken as ‘n held wat uit die slaap wakker word en optree om sy mense te verlos, wat eintlik as ’n antwoord op die vrees van Ps. 77:11 gesien kan word.)

Die worsteling van die Psalm is baie relevant vir ons vandag.  Dieselfde vrae oor God se betrokkenheid by ons lewens kom by ons op veral wanneer ons in die nood is. Kan Hy vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy in die verlede gedoen het? Om die waarheid te sê, soms as ons hoor van ander mense wat wonders ervaar, bring dit by ons die twyfel, nie óf God in ons lewens kan ingryp nie, maar of Hy dit wil doen. Die omkeer in ons worsteling kom – soos by die Psalmis – wanneer ons minder bekommerd raak oor wat ons ervaar en ons met God self besig raak, Hom aanspreek, Hom loof vir sy grootheid en heiligheid, vir sy buitengewone dade, ten spyte van ons nood.  Dit is dan wat ons begin ervaar dat Hy al die tyd by ons is en dat ons op sy begeleiding in elke situasie kan staatmaak, selfs al word die spesifieke nood nie presies opgelos soos ons dit wil hê nie. Die sin van my lewe lê nie in die afwesigheid van nood nie, maar in die teenwoordigheid van God self. Sy pad is heilig. Daarin vind ek berusting.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-77-o-god-u-weg-is-heilig/

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: