Spreuke 5:15-23 – Mag jou huwelik geseënd wees
Spreuke 5:15-23 – Mag jou huwelik geseënd wees
15Drink water uit jou eie opgaarput, en lopende water uit jou eie bron. 16Moet jou fonteine straataf spoel, op die dorpspleine watervore word? 17Hulle is vir jou alleen bedoel, nie vir vreemdelinge by jou nie. 18Mag jou waterbron geseënd wees; verheug jou oor die vrou van jou jeug 19– ‘n bekoorlike rooitakbokkie, ‘n grasieuse klipbokooitjie. Haar borste, mag hulle jou altyd bevredig; mag jy deur haar liefkosings voortdurend bedwelmd wees. 20Waarom sou jy jou laat bedwelm, my seun, deur ‘n vreemde, die boesem van ‘n uitlander omhels? 21Voor die oë van die Here is die weë van ‘n man immers oop en bloot, en al sy paaie hou Hy in die oog. 22Die goddelose – sy eie sondeskuld vang hom, en in die strikke van sy sonde word hy vasgeknel. 23Hy, hy sterf weens ‘n gebrek aan vermaning, en deur die omvang van sy sotheid, verdwaal hy.
Die volgende lewensles van die pa aan sy seun strek van Spreuke 5:1 tot 6:19. Ons lees net vers 15-23. Die pa spel in die eerste deel van die hoofstuk vir sy seun in geen onseker taal die gevaar uit van ‘n verhouding met ‘n slegte (getroude) vrou. Dit is ‘n pad van die dood. Sy hou jou weg van die pad van die lewe. Dit lyk miskien na “easy sex“, maar dit is net skyn, die skyn van die dood. Dit laat jou verdwaal. ‘n Verhouding met ‘n vreemde vrou het ekonomiese en patologiese gevolge. Jy doen jouself finansiële sowel as fisiese skade aan.
Dan keer die pa die situasie om. Sal jy nou graag wil hê iemand anders moet by jou vrou kom slaap? Stellig nie. So, waarom dit aan iemand anders doen? Die punt van die verbod op ontrou is om volle vreugde te vind in die huwelik met die vrou (of man) wat die Here vir jou gegee het. Drink water uit jou eie reënbak! Jou vrou moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. Dan sal jou huwelik geseënd wees.
Let op dat hier in die enkelvoud gepraat word, want dit was altyd die ideaal dat die huwelik monogaam sal wees, soos Jesus helder in Matteus 19 vir ons leer op grond van Genesis 2. Poligamie het via die nageslag van Kain pos gevat, en selfs die Israeliete het die nasies daarin begin navolg. Maar, dit was nooit God se skeppingsdoel met die mens nie. Laat jou eie vrou (of man) jou dus bedwelm, en niemand anders nie, want God sien en reageer op alles wat jy doen. Hierdie waarskuwing het daarby ook ‘n geestelike kant, want die Here sien dit alles raak. Jou sonde sal jou inhaal, jy sal sterf deur só ‘n gebrek aan selfbeheersing. Wie goddeloos lewe en God se wet hieroor oortree, sal vasval en verstrik in hulle skuld, sonde en sotheid, sê die pa. Hiermee waarsku die pa sy seuns dat hulle nooit die effek van die skuld van ongeregtigheid en sonde moet onderskat nie. Jy kan moontlik nog jou skuld wegsteek vir ander, maar nie vir jouself of vir God nie. Dit is waarom vermaning só ’n belangrike deel van ’n geloofsgemeenskap se omgee vir mekaar moet wees. Ons mag nie wegskram daarvan nie. Daar is lewens op die spel. Wie lê die Here op jou hart vandag met wie jy moontlik moet praat?
Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-51-23-bly-weg-van-hartelose-verhoudings/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar