Rut 1:6-22 – U volk is my volk
Die verhaal in hierdie eerste toneel draai om Rut se getrouheid aan Naomi en aan God. Hoe pragtig sê sy dit nie in vers 16: “Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly; want u volk is my volk; u God is my God.” Let ook op dat Orpa se keuse om terug te gaan, eintlik ook beteken dat sy vir haar eie gode kies, ten minste soos Naomi daaroor oordeel (1:15).
Ek besef ook net dat die verbintenis aan God ’n verbintenis insluit aan God se mense en omgekeerd. Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is. Dit is die plek waar God in sy genade die beste ervaar word, hoewel Hy natuurlik Homself ook oral openbaar.
Dat Rut hier kies om God te dien, is ook ’n verwesenliking van die Abrahamitiese belofte (Gen 12:3) dat in hom alle volke van die aarde geseën sal word. Sy is ’n vreemdeling uit ’n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, en word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!
Let op hoe Naomi se perspektief op haar lewe in stryd is met wat agter die skerms besig is om te gebeur. Sy oordeel dat die Here (Jahwe) teen haar gedraai het (1:13,21), dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (1:21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (1:20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi.
Intussen is ’n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander. Sy sien ’n deel daarvan raak in vers 6 dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ’n goeie oes, maar is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê. Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling … maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom. Soos die Bybel vir die lewe 24/7 sê (wat ’n lekker Bybel om te lees!): “God verander doodloopstrate in hoopstrate.”
Let ook op hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ’n oes (hoofstuk 1) , ’n ontmoeting (hoofstuk 2), ’n dorsvloer (hoofstuk 3), ’n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke. Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.
Laat my besef dat ’n mens nie met ’n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. En dat jy veral nie daaruit gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stilwees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes 30:15).
Twee eksegetiese opmerkings:
- Een van die redes waarom die Moabiete verag is in Israel, is natuurlik die feit dat hulle weens bloedskande tot stand gekom het. Lot se dogters het hom verlei en uit hulle het die Moabiete en Ammoniete voortgespruit (Gen 19).
- Hierdie verhaal dien dus eintlik ook as ’n soort verdediging van Dawid se afkoms, bedoel vir sy eie mense uit Juda, maar ook vir die Benjaminiete wat aan Saul se nageslag verbonde gebly het, ten spyte van sy verwerping deur die Here.
View all posts in this series
- Rut 1:1-5 – Inleiding - November 11, 2010
- Rut 1:6-22 – U volk is my volk - November 12, 2010
- Rut 2 – God bewys sy trou aan lewendes en dooies - November 15, 2010
- Rut 3 – God werk deur Naomi se strategie - November 16, 2010
- Rut 4 – God gee ‘n wonderlike uitkoms - November 17, 2010
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar