Skip to main content

Rut 1:6-22 – U volk is my volk

Die verhaal in hierdie eerste toneel draai om Rut se getrouheid aan Naomi en aan God.  Hoe pragtig sê sy dit nie in vers 16: “Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly; want u volk is my volk; u God is my God.”  Let ook op dat Orpa se keuse om terug te gaan, eintlik ook beteken dat sy vir haar eie gode kies, ten minste soos Naomi daaroor oordeel (1:15).

Ek besef ook net dat die verbintenis aan God ’n verbintenis insluit aan God se mense en omgekeerd.  Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is.  Dit is die plek waar God in sy genade die beste ervaar word, hoewel Hy natuurlik Homself ook oral openbaar.

Dat Rut hier kies om God te dien, is ook ’n verwesenliking van die Abrahamitiese belofte (Gen 12:3) dat in hom alle volke van die aarde geseën sal word.  Sy is ’n vreemdeling uit ’n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, en word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn.  Verstommend!

Let op hoe Naomi se perspektief op haar lewe in stryd is met wat agter die skerms besig is om te gebeur.  Sy oordeel dat die Here (Jahwe) teen haar gedraai het (1:13,21), dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (1:21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (1:20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi.

Intussen is ’n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander.  Sy sien ’n deel daarvan raak in vers 6 dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ’n goeie oes, maar is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê. Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling … maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom.  Soos die Bybel vir die lewe 24/7 sê (wat ’n lekker Bybel om te lees!): “God verander doodloopstrate in hoopstrate.”

Let ook op hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ’n oes (hoofstuk 1) , ’n ontmoeting (hoofstuk 2), ’n dorsvloer (hoofstuk 3), ’n huwelik (hoofstuk 4).  Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke.  Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.

Laat my besef dat ’n mens nie met ’n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie.  En dat jy veral nie daaruit gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie.  In stilwees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes 30:15).

Twee eksegetiese opmerkings:

  • Een van die redes waarom die Moabiete  verag is in Israel, is natuurlik die feit dat hulle weens bloedskande tot stand gekom het.  Lot se dogters het hom verlei en uit hulle het die Moabiete en Ammoniete voortgespruit (Gen 19).
  • Hierdie verhaal dien dus eintlik ook as ’n soort verdediging van Dawid se afkoms, bedoel vir sy eie mense uit Juda, maar ook vir die Benjaminiete wat aan Saul se nageslag verbonde gebly het, ten spyte van sy verwerping deur die Here.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Rut


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda