Psalm 36:6-10 – God verlos gelowiges deur sy troue liefde

10 Januarie
Psalm 36:6-10 – God verlos gelowiges deur sy troue liefde
6Here, tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke. 7U geregtigheid is soos massiewe berge, u regspraak soos die groot oerwater. U verlos mens en dier, Here. 8Hoe kosbaar is u troue liefde, o God! Mense skuil in die skadu van u vlerke. 9Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink. 10Ja, by U is die fontein van lewe, in u lig sien ons lig.
Die Psalm begin in vers 2 met ’n baie diepsinnige tekening van die goddelose versus die gelowige: “In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord.” (1983-vertaling) ‘n Mens kan allerlei argumente oor God se bestaan en sy betrokkenheid in hierdie lewe aanvoer, daarteen en daarvoor. Maar uiteindelik kom dit neer op wat die laaste woord in jou lewe speel. Die opstand teen God en die idees oor en van Hom. Of die oorgawe en geloof in die bestaan en ingrype van God.
Let op hoe Dawid se beskrywing van die gelowige in vers 6-10 nie in die eerste plek fokus op wat hy of sy vir God doen, of hoe hulle lewe anders is as die goddeloses nie. Dawid fokus op wie God is – “Tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke. U geregtigheid is soos massiewe berge, u regspraak soos die groot oerwater.” Van die hoogste punt in die hemele, tot by die laagste punt onder die aarde (die oerwater), so omvattend is God se troue liefde, getrouheid, geregtigheid en regspraak.
God gee beskerming vir mense wat by Hom skuil. God gee oorvloed aan dié wat naderkom om te drink van die fontein van lewe wat net by God te vinde is. God gee lig vir elkeen wat daarna soek. Dit is beloftes waarop jy kan staatmaak. En op grond van daardie beloftes kan jy ook saam met Dawid bid, soos in die laaste deel van hierdie Psalm, dat hierdie beskerming en oorvloed sal seëvier oor al die goddeloosheid en onreg in hierdie wêreld: “11Reik met u troue liefde uit na hulle wat U ken, met u geregtigheid na die opregtes van hart. 12Laat ‘n verwaande voet my nie inhaal nie, en die hand van goddeloses my nie laat rondswerf nie.” Wat tot die belydenis sal lei: “13Daar val hulle wat onreg pleeg; hulle word platgedruk en kan nie weer opstaan nie.”
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-36-laat-u-liefde-bly-by-die-wat-u-erken/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar