Lukas 3:21-22 – Die Heilige Gees word in gebed ontvang

9 Januarie
Lukas 3:21-22 – Die Heilige Gees word in gebed ontvang
21In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, 22en die Heilige Gees het in ‘n sigbare vorm soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar het ook ‘n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”
Ons het reeds in Desember Lukas 3:15-16 gelees waar die belofte gegee is dat die komende Messias die volk met die Heilige Gees en vuur sal doop. Hier beskryf Lukas die eerste vervulling daarvan met die doop van Jesus op wie die Heilige Gees in ‘n sigbare vorm soos ‘n duif neergedaal het. Daarby het God sy goedkeuring gegee aan hierdie geliefde Seun van Hom oor wie Hy Hom verheug.
Let op dat Jesus die Heilige Gees ontvang toe Hy direk ná die doop in gebed tot God verkeer het. Dit is dus juis in sy gebed wat die hemele geopen is en God sy seël op die gebeure van die doop deur Johannes sowel as op die bediening van Jesus hierna geplaas het. God se wese as Drie-enige God blyk ook duidelik uit hierdie gebeure. Hy is Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons leer uit hierdie gedeelte dat gebed onontbeerlik is vir die vervulling van God se beloftes. Dit is selfs van Jesus waar. Hy het gebid om die Heilige Gees te ontvang! Hierdie fokus op gebed sal ‘n mens regdeur die Evangelie van Lukas sien (vgl Luk 4:42; 6:12; 9:28; 11:1; 22:30). Ook in die Handelinge van die apostels waar gelowiges ook telkens in gebed met die Heilige Gees vervul is (Hand 4:31; 9:11). Moenie die geleentheid vandag laat verbygaan om vir die vervulling met die Heilige Gees te bid nie. Dit is God se belofte aan jou wat telkens deur gebed vervul word (Luk 11:13; Hand 2:38; Ef 1:3; 5:18).
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-31-38-jesus-is-familie-van-alle-mense/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Arica van der Westhuizen
Goeie middag, na aanleiding van hierdie gedeelte, wil ek graag weet of ‘n persooon die Heilige Gees kan ontvang deur slegs te bid daarvoor of moet die gepaard gaan met die doop van daardie persoon?
Chris van Wyk
Gebed as geloofshandeling is die deurslaggewende aksie soos ‘n mens in Handelinge 10 bv sien waar die Gees op Kornelius-hulle val vóórdat hulle gedoop is. Hulle het die boodskap van Jesus by Petrus gehoor, dit geglo, die Gees ontvang, en is eers daarna gedoop (Hand 10:34-48).