Skip to main content

1 Korintiërs 12:1-11 – God se gawes is aan elke gelowige gegee ter wille van diensbaarheid

11 Januarie

1 Korintiërs 12:1-11 – God se gawes is aan elke gelowige gegee ter wille van diensbaarheid

1Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 2Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. 3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie. 4Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 5en daar is ‘n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; 6en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. 7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: 8Aan een word ‘n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9aan een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander gawes van genesing deur die één Gees; 10aan een dinamiese kragte, aan ‘n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan ‘n ander verskillende soorte tale, en aan nog ‘n ander die uitleg van tale. 11Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.

Paulus skryf in hoofstuk 12-14 oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente op die regte manier kan funksioneer. Hierdie gemeente se oorbeklemtoning van die gawe van tale het immers gedreig om die ander gawes te oorheers, sodat nie net hulle eredienste onverstaanbaar begin word het nie, maar die Gees nie sy beloftes van bemagtiging vir die bediening vir hulle in vervulling kon laat gaan nie.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (vers 1-3). Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (vers 4-6: Gees, Here, God) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is. Soos God “Drie” is, het hulle verskillende gawes. Soos God “Een” is, is hulle een ten spyte van die verskillende gawes.

Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, genesing, dinamiese kragte, profesie, onderskeiding van geeste, verskillende soorte tale, en die uitleg van tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (vers 7-11). Paulus hoop dus hiermee dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente. Dit sal gebeur as elkeen fokus op die gawes wat die Gees aan elkeen afsonderlik belowe. Want, Hy gee die gawes aan elkeen met die oog op diensbaarheid in die gemeenskap van gelowiges.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-12-verskeidenheid-dien-die-eenheid/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar