Skip to main content

Hebreërs 12:14-29 – Ons het ‘n onwankelbare koninkryk van God ontvang

17 Augustus

Hebreërs 12:14-29 – Ons het ‘n onwankelbare koninkryk van God ontvang

14Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; 16ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau nie – hy wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg prysgegee het. 17Julle weet immers dat, toe hy hierna die seën wou beërf, hy afgewys is, want hy kon nie ‘n weg vind tot gesindheidsverandering nie – alhoewel hy dit met trane gesoek het. 18Julle het nie aangekom by iets tasbaars, by ‘n brandende vuur, en by duisternis en donkerte en stormwind nie – 19ook nie by die klank van ‘n basuin, en ‘n weerklinkende stem wat die hoorders laat pleit het dat nie nog ‘n woord vir hulle toegevoeg word nie; 20want die opdrag, “Selfs as ‘n wilde dier die berg aanraak, moet dit gestenig word”, kon hulle nie hanteer nie. 21En so angswekkend was die verskynsel, dat Moses gesê het: “Ek is beangs, en ek sidder!” 22Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, 23en ‘n gemeente van eersgeborenes wat opgeteken is in die hemele, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is, 24en by Jesus, die Middelaar van ‘n nuwe verbond, en by die bloed wat gesprinkel is, en wat sterker praat as dié van Abel. 25Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! 26Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” 27En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. 28Daarom, terwyl ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. 29Want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur.

Die oproep om die oog op Jesus as Leidsman en Voleinder van die geloof te hou, is nie iets wat ’n mens net persoonlik kan omarm nie (vers 1-13). Dit bly ’n integrale deel van die evangelie om te sorg dat die mense rondom jou ook nie afvallig raak nie (vers 14-29. ’n Mens kan nie net persoonlik streef na vrede met almal en na persoonlike heiligmaking nie – al is dit ook hoe belangrik. Dit moet aangevul word met ’n omgee vir ander om dieselfde pad saam met jou te volg. Niemand sal God daarsonder sien nie – wat immers die einddoel van die geloofsvolharding is.

Die afvalligheid kan volgens die skrywer op drie maniere gebeur.

  1. Dit kan gebeur dat mense in onbegrip of selfs net onnadenkendheid: “die genade van God verspeel”. Waar Jesus nie voor oë gehou word as Leidsman en Voleinder van die geloof nie, sal mense inderdaad die genade van God verspeel.
  2. Dit kan ook gebeur deur afvalligheid waar God met iets anders verplaas word. Die geloofsgemeenskap word daarom opgeroep om te sorg dat daar “geen wortel van bitterheid opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie daardeur besoedel word,” nie. Die skrywer verwys hier heel waarskynlik na die beskrywing in Deuteronomium 29:18-21 van wat met ’n geloofsgemeenskap gebeur as hulle afvalligheid van God toelaat. Die Here waarsku dat sulke mense, “so ’n gifwortel wat alles kan vergiftig”, tot baie ellende en swaarkry sal lei.
  3. Dit kan ook gebeur wanneer iemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau wat sy eersgeboortereg prysgegee het. Dit is iets wat nie maklik ongedaan gemaak word nie, al begeer jy dit met baie trane. Esau het tevergeefs vir Isak gesmeek vir ’n gesindheidsverandering, maar dit nie gekry nie. Hierdie gevaar van goddeloosheid dui op dieselfde gevaar wat die skrywer aan Hebreërs in hfst. 3:12 as “’n bose hart van ongeloof” beskryf het. Só iets moet die geloofsgemeenskap ten alle koste in eie geledere probeer vermy.

Die rede hiervoor is dat God nie maar beperk is tot iets tasbaars soos in die natuurtekens by die berg Sinai met die gawe van die wet ervaar is nie. En dit was alreeds skrikwekkend groots. Selfs Moses het daarvan gesê: “Ek is beangs en ek sidder!” Nee, die rede vir hierdie oproep om om te gee vir ander is dat hulle die doel van hulle lewe kan mis. Hulle is soos op pad na die hemelse stad van die lewende God met sy tienduisende engele waar hulle deel sal raak van die “gemeente van eersgeborenes”. Dit is die belofte van God wat die dryfkrag is agter ons diensbaarheid en dankbaarheid. Daarom: “Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie.” Ons kan nie ons rug draai op die Een wat besig is om ’n onwankelbare koninkryk voor te berei nie. En ons moet toesien dat niemand van ons medegelowiges dit doen nie. Die slotsom is: “Laat ons dankbaar wees en God daardeur op ’n welgevallige wyse dien, met eerbied en ontsag, want ons God is inderdaad ’n verterende vuur.”

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-12-hardloop-die-wedloop-wat-vir-ons-voorle-met-volharding/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar