Skip to main content

1 Korintiërs 15:19-34 – Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood

17 April (Paassondag)

1 Korintiërs 15:19-34 – Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood

19Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. 20Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. 21Want aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur ‘n mens. 22Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; 23maar elkeen volgens ‘n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. 24Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. 25Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”.26Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. 27“Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. 28Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. 29Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? 30En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? 31So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek in Efese as ‘n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. 33Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” 34Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande.

1 Korintiërs 15 fokus op die feit dat baie gemeentelede in die kerk in Korinte gekies het om nie in die opstanding te glo nie. Die gemeente was verdeel en daar het baie vrae en onsekerheid ontstaan veral rakende die opstanding. Wat tot hierdie onsekerheid bygedra het, is die feit dat Korinte ‘n kosmopolitiese stad in die middel van Griekeland was. Dit was ook ‘n groot hawestad met baie besoekers wat elkeen hulle eie idees en filosofieë verkondig het. Paulus se uitdaging was om die evangelie wat die vervulling van Israel se hoop op God is te vertaal na die Griekse konteks, en om gelowiges uit die Griekse denkwêreld te help om sin te maak van die lewegewende dade van God in die geskiedenis. Die opwekking van Jesus uit die dood, is die mees aardskuddende gebeure ooit. Geen Jood het verwag dat die Messias sou ly en sterf nie – en dan nog op die skandelike weg van ‘n kruis. Dat God dan sy Messias op die derde dag lewend maak en toon dat Jesus werklik die Seun van God en die hoop van die wêreld is – dit het hulle asem weggeslaan. Hierdie kragtige ingrype van God om die mag van dood en die magte van verwoesting te oorwin, sonde te vergewe, en vir die skepping ‘n nuwe toekoms te gee, moes wêreldwyd verkondig word. Wat God aan Jesus gedoen het – Hom uit die dood uit laat opstaan het – is wat God beplan vir elke volgeling van Jesus en uiteindelik ook die hele skepping.

Paulus gee daarom twee sterk argumente om die twyfelaars te oortuig van die opstanding van die dood. Die eerste argument sluit aan by ‘n uiters vreemde gebruik in Korinte. Daar was gelowiges wat hulle “ter wille van dooies” laat doop het. Die mees waarskynlike interpretasie van hierdie gebruik (uit meer as 200 interpretasies volgens KC Thompson!) is dat sommige Korintiërs hulle laat doop het as getuienis van die geloof van medegelowiges wat vroeër gesterf het sonder dat hulle terwyl hulle geleef het, self gedoop is. Paulus se verwysing na hierdie (weliswaar baie vreemde) gebruik is nie noodwendig ’n goedkeuring of afkeuring daarvan nie. Hy gebruik dit bloot om sy argument te versterk dat die opstanding uit die dood ‘n werklikheid is. Hulle (vreemde) doop praktyk (vir ons verstaan daarvan) bewys sy argument as hulle net goed daaroor sou nadink. Daardie tipe doop verkondig immers die opstanding uit die dood, nie waar nie?!

Die tweede argument is die feit dat hulle geloof in Jesus Christus hulle lewe in ‘n vyandige omgewing daagliks in gevaar stel. Waarom sou hulle dit dan doen as die dood ‘n einde aan alles sou maak? Dit maak mos geen sin nie. Dit is net as jy weet dat daar ‘n lewe ná die dood is, dat jy bereid is om te sterf vir dít waarin jy passievol glo. Want jy weet die dood is nie die einde nie. As jy immers nie in die opstanding ná die dood glo nie, is dit baie meer redelik om doodgewoon jou lewe te geniet en niks te doen wat jou lewe in gevaar stel nie. Paulus moedig hulle dus aan om vas te staan in hulle geloof in hulle werklike fisiese opstanding uit die dood, want dit gee hulle die hoop om te volhard in hierdie lewe vir die Here Jesus Christus. God se belofte is immers dat die laaste vyand wat vernietig sal word, die dood is. Hulle hoef dus nie in vrees te lewe vir die dood nie. Of dit nou gou kom of later. Want met Jesus se wederkoms sal nie net die dood vernietig word nie, maar alles onder sy voete gestel word, sodat, wanneer die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, God alles in almal sal wees.

Lees meer (‘n preekriglyn van ‘n projek waarby ek betrokke is): https://preekriglyne.co.za/1-korintiers-1519-26-17-april/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar