Skip to main content

Profete in die OT

prayer-shawlDie eerste profeet waarvan ons lees in die OT was Abraham.   God sélf het Abraham só genoem (Gen. 20:7). Uit die verloop van Abraham se verhaal in Genesis lei ons af dat God hom só noem, omdat hy in ‘n besondere verhouding met God gestaan het. God het hom nie net geroep (Gen. 12) en ‘n verbond met hom en sy nageslag gesluit nie (Gen. 15; 17), maar Abraham ook ingesluit in die uitvoering van sy planne met die wêreld (Gen. 18). Abraham kon daarom as profeet tot God bid en vir mense intree. En God het Abraham se gebede in ag geneem in sy handelinge met mense en selfs nasies.

Intersessors

Ons sien hierdie intersessie funksie daarom gereeld in die beskrywings van profete regdeur die OT. Samuel tree bv. vir die volk in tydens die verlossing by Mispa (1 Sam. 7:2-12) en by die aanwysing van hulle konings (Saul – 1 Sam. 8; Dawid – 1 Sam. 15-16). Elia bid vir reën (1 Kon. 18) en Elisa vir lewe (2 Kon. 4).

Die meeste van die kere tree profete egter as spreekbuise van God op. Dit sien ons in die gewilde formule wat die profete gebruik het in hulle publieke optredes soos dit vir ons op skrif gestel is in die OT: “So sê die Here …” (Amos 1:3; Jer. 7:3). Hulle was dus “hoorders” van God se woord wat weergegee het wat God aan hulle oorgedra het.

Woordvoerders

Profete het daarom ‘n woordvoerder funksie gehad. Hulle was die boodskappers van God wat sy wil aan die volk bekend gemaak het volgens die riglyn van Deut. 18:15-22. Hoewel Moses daar eintlik van één profeet praat – iets wat deur Petrus en Stefanus in die NT met Jesus verbind word (Hand. 3:22; 7:37) – was die opdrag van toepassing op elke profeet: “Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.” (Deut. 18:18).

Omdat profete in ‘n spesiale verhouding met God gestaan het, het hulle dieper ingesien wat God wil hê as wat normale gelowiges dit gedoen het. Hulle was kanale van kommunikasie tussen God en die mense (Walter Brueggeman, “The Prophet as Mediator” in sy Old Testament Theology, p. 623). Daarom is hulle baie keer ook “sieners” genoem, soos Samuel bv. in 1 Kron. 9:22 genoem word, óf “man van God”, soos Elia (1 Kon. 17:18) en Elisa (2 Kon. 4:7) verskeie kere genoem is.

Hierbenewens was daar profete – saam met die priesters en Leviete – betrokke by die sang en aanbidding in die tempel (1 Kron. 25:1) en is sommige van hulle by geskiedskrywing betrek. Ons lees bv. in Kronieke die volgende: “Die geskiedenis van koning Dawid, van begin tot einde, is opgeteken in die geskrifte van die siener Samuel, dié van die profeet Natan en dié van die siener Gad, alles oor sy regering, sy heldedade en die tye wat oor hom, oor Israel en oor die koninkryke van die aarde heen gegaan het.” (1 Kron. 29:29-30).

Skrifprofete

Dit is nou benewens die skryfwerk van die 15 Skrifprofete wat die boodskap van God vasgelê het as konkrete getuienis nie net vir hulle eie tydgenote nie (Jer. 36:1-3), maar ook vir die latere geslagte van die geloofsgemeenskap, soos ons dit in die OT het (Jes. 30:8: “Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom.”; Jer. 30:1-3). Dit het ook God se boodskap op kleitablette (Hab. 2:2) en in briewe (Jer. 29) ingesluit.

Dít was dus die profete se vernaamste funksie, om as boodskappers van God op te tree. Om die waarheid te sê, Amos kon sê: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” (Amos 3:7).   Die profete was dus ‘n baie belangrike kanaal van God se kommunikasie aan die volk. Aan die profete is God se wil en planne bekend gemaak, en dié boodskap moes die volk hoor, al was dit baie keer in konflik met hoe die volk en die konings opgetree het.

Afhanklik van God vir hulle boodskap

Profete was daarom ook totaal afhanklik van God vir hulle boodskap. Trouens: ‘n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf.” (Deut. 18:20). Profete moes daarom wag vir die woord van die Here, soms selfs dae lank (Jer. 28; vgl. ook Dan. 10), sodat hulle boodskap op die openbaring van God kon berus, en nie op eie insig nie. Ons lees selfs dat waar een van die profete, Natan, sy eie mening aan Dawid oorgedra het, die Here dit binne ure reggestel het met ‘n boodskap aan Dawid, sodat dit Sy woord is wat oorgedra word en nie slegs dié van die profeet nie (2 Sam. 7).

Dié boodskap het die profete veral deur visioene en drome ontvang, en in sommige gevalle deur direkte openbaringe: “As daar ‘n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visoene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders … Met Hom praat Ek direk en persoonlik.” (Num. 12:6-8).

Direkte openbarings

Ons kan die Bybelse profete dus hierdeur onderskei van ander profete in die Ou Nabye Ooste wat veral deur tegniese wiggelary (divination) tot insigte of voorspellings gekom het – die waarneming van spontane of georganiseerde gebeurtenisse, bv. misgeboortes of die “lees” van ‘n skaaplewer. Bybelse profete het hulle boodskap op meer direkte openbarings begrond (Gert Kwakkel: “Prophets and Prophetic Literature” in The Lion has Roared van Peels en Snyman). Wiggelary en verwante maniere om God se wil te onderskei was immers iets wat streng deur die wet verbied is (Deut. 18:9-14).

Gemeet aan vorige openbarings

Die boodskap móés egter ook in lyn wees met die vorige openbaringe van die Here (Deut. 13:1-3; Jer. 28:7-8). God se wil, soos dit by uitstek in die torâ – die wet van Moses soos dit in die Pentateug, die eerste vyf boeke van die OT, beskryf is – het immers omvattende implikasies gehad vir beide die persoonlike lewe van die lede van die geloofsgemeenskap as vir hulle publieke lewe. Daaraan moes die uitsprake van profete telkens gemeet word.

Riglyne vir alles en almal

Die inhoud van hierdie boodskap van die profete het gehandel oor alles wat die geloofsgemeenskap geraak het. Dit het ook almal betrek, van die kleinste tot die grootste, van die gewone lede van die volk tot by die leiers, selfs die nasies (Jer. 27).

God se riglyne vir die lewe het daarom die wyse waarop hulle saam die Here aanbid het, geraak, sowel as die wyse waarop hulle sosiaal-maatskaplik met mekaar in verhouding gestaan het. Dit het ook hulle onderlinge verhoudinge as volk van God aangespreek sowel as die politiese verhoudinge met ander nasies op die internasionale terrein.

Seëninge en strawwe

Waar die boodskap van die Here met instemming, bekering en gehoorsaamheid ontvang is, het die profete die seën van God verkondig, in lyn met die boodskap van seëninge en strawwe soos in Deut. 28-30 uitgespel. Anders het hulle volhard met die boodskap van die oordeel wat aan ongehoorsaamheid verbind was.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…