Skip to main content

Profete in die OT

prayer-shawlDie eerste profeet waarvan ons lees in die OT was Abraham.   God sélf het Abraham só genoem (Gen. 20:7). Uit die verloop van Abraham se verhaal in Genesis lei ons af dat God hom só noem, omdat hy in ‘n besondere verhouding met God gestaan het. God het hom nie net geroep (Gen. 12) en ‘n verbond met hom en sy nageslag gesluit nie (Gen. 15; 17), maar Abraham ook ingesluit in die uitvoering van sy planne met die wêreld (Gen. 18). Abraham kon daarom as profeet tot God bid en vir mense intree. En God het Abraham se gebede in ag geneem in sy handelinge met mense en selfs nasies.

Intersessors

Ons sien hierdie intersessie funksie daarom gereeld in die beskrywings van profete regdeur die OT. Samuel tree bv. vir die volk in tydens die verlossing by Mispa (1 Sam. 7:2-12) en by die aanwysing van hulle konings (Saul – 1 Sam. 8; Dawid – 1 Sam. 15-16). Elia bid vir reën (1 Kon. 18) en Elisa vir lewe (2 Kon. 4).

Die meeste van die kere tree profete egter as spreekbuise van God op. Dit sien ons in die gewilde formule wat die profete gebruik het in hulle publieke optredes soos dit vir ons op skrif gestel is in die OT: “So sê die Here …” (Amos 1:3; Jer. 7:3). Hulle was dus “hoorders” van God se woord wat weergegee het wat God aan hulle oorgedra het.

Woordvoerders

Profete het daarom ‘n woordvoerder funksie gehad. Hulle was die boodskappers van God wat sy wil aan die volk bekend gemaak het volgens die riglyn van Deut. 18:15-22. Hoewel Moses daar eintlik van één profeet praat – iets wat deur Petrus en Stefanus in die NT met Jesus verbind word (Hand. 3:22; 7:37) – was die opdrag van toepassing op elke profeet: “Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.” (Deut. 18:18).

Omdat profete in ‘n spesiale verhouding met God gestaan het, het hulle dieper ingesien wat God wil hê as wat normale gelowiges dit gedoen het. Hulle was kanale van kommunikasie tussen God en die mense (Walter Brueggeman, “The Prophet as Mediator” in sy Old Testament Theology, p. 623). Daarom is hulle baie keer ook “sieners” genoem, soos Samuel bv. in 1 Kron. 9:22 genoem word, óf “man van God”, soos Elia (1 Kon. 17:18) en Elisa (2 Kon. 4:7) verskeie kere genoem is.

Hierbenewens was daar profete – saam met die priesters en Leviete – betrokke by die sang en aanbidding in die tempel (1 Kron. 25:1) en is sommige van hulle by geskiedskrywing betrek. Ons lees bv. in Kronieke die volgende: “Die geskiedenis van koning Dawid, van begin tot einde, is opgeteken in die geskrifte van die siener Samuel, dié van die profeet Natan en dié van die siener Gad, alles oor sy regering, sy heldedade en die tye wat oor hom, oor Israel en oor die koninkryke van die aarde heen gegaan het.” (1 Kron. 29:29-30).

Skrifprofete

Dit is nou benewens die skryfwerk van die 15 Skrifprofete wat die boodskap van God vasgelê het as konkrete getuienis nie net vir hulle eie tydgenote nie (Jer. 36:1-3), maar ook vir die latere geslagte van die geloofsgemeenskap, soos ons dit in die OT het (Jes. 30:8: “Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom.”; Jer. 30:1-3). Dit het ook God se boodskap op kleitablette (Hab. 2:2) en in briewe (Jer. 29) ingesluit.

Dít was dus die profete se vernaamste funksie, om as boodskappers van God op te tree. Om die waarheid te sê, Amos kon sê: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” (Amos 3:7).   Die profete was dus ‘n baie belangrike kanaal van God se kommunikasie aan die volk. Aan die profete is God se wil en planne bekend gemaak, en dié boodskap moes die volk hoor, al was dit baie keer in konflik met hoe die volk en die konings opgetree het.

Afhanklik van God vir hulle boodskap

Profete was daarom ook totaal afhanklik van God vir hulle boodskap. Trouens: ‘n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf.” (Deut. 18:20). Profete moes daarom wag vir die woord van die Here, soms selfs dae lank (Jer. 28; vgl. ook Dan. 10), sodat hulle boodskap op die openbaring van God kon berus, en nie op eie insig nie. Ons lees selfs dat waar een van die profete, Natan, sy eie mening aan Dawid oorgedra het, die Here dit binne ure reggestel het met ‘n boodskap aan Dawid, sodat dit Sy woord is wat oorgedra word en nie slegs dié van die profeet nie (2 Sam. 7).

Dié boodskap het die profete veral deur visioene en drome ontvang, en in sommige gevalle deur direkte openbaringe: “As daar ‘n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visoene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders … Met Hom praat Ek direk en persoonlik.” (Num. 12:6-8).

Direkte openbarings

Ons kan die Bybelse profete dus hierdeur onderskei van ander profete in die Ou Nabye Ooste wat veral deur tegniese wiggelary (divination) tot insigte of voorspellings gekom het – die waarneming van spontane of georganiseerde gebeurtenisse, bv. misgeboortes of die “lees” van ‘n skaaplewer. Bybelse profete het hulle boodskap op meer direkte openbarings begrond (Gert Kwakkel: “Prophets and Prophetic Literature” in The Lion has Roared van Peels en Snyman). Wiggelary en verwante maniere om God se wil te onderskei was immers iets wat streng deur die wet verbied is (Deut. 18:9-14).

Gemeet aan vorige openbarings

Die boodskap móés egter ook in lyn wees met die vorige openbaringe van die Here (Deut. 13:1-3; Jer. 28:7-8). God se wil, soos dit by uitstek in die torâ – die wet van Moses soos dit in die Pentateug, die eerste vyf boeke van die OT, beskryf is – het immers omvattende implikasies gehad vir beide die persoonlike lewe van die lede van die geloofsgemeenskap as vir hulle publieke lewe. Daaraan moes die uitsprake van profete telkens gemeet word.

Riglyne vir alles en almal

Die inhoud van hierdie boodskap van die profete het gehandel oor alles wat die geloofsgemeenskap geraak het. Dit het ook almal betrek, van die kleinste tot die grootste, van die gewone lede van die volk tot by die leiers, selfs die nasies (Jer. 27).

God se riglyne vir die lewe het daarom die wyse waarop hulle saam die Here aanbid het, geraak, sowel as die wyse waarop hulle sosiaal-maatskaplik met mekaar in verhouding gestaan het. Dit het ook hulle onderlinge verhoudinge as volk van God aangespreek sowel as die politiese verhoudinge met ander nasies op die internasionale terrein.

Seëninge en strawwe

Waar die boodskap van die Here met instemming, bekering en gehoorsaamheid ontvang is, het die profete die seën van God verkondig, in lyn met die boodskap van seëninge en strawwe soos in Deut. 28-30 uitgespel. Anders het hulle volhard met die boodskap van die oordeel wat aan ongehoorsaamheid verbind was.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar